Dikbekpille en 'n knippie sout

Ou Neef kom by ons aan en vertel sy vrou het pille gedrink. Ek skrik my in ‘n ander bloedgroep in, want dit is nie soos wat ek vir Nig ken nie. “Watse pille?” vra ek met ‘n benouenis in my borskas. “Dikbekpille” sê hy. “Twee potjies vol!” Toe ek die aand in die bed lê en grim oor die koddige sê-ding, sit my gedagtes op loop oor huweliksmaats se maniere van baklei en ek wens opsluit ek kan ook ‘n bakleier wees. Dit klink altyd so lekker om jou mening lug te gee sonder om te dink wat jy regtig oor jou lippe laat borrel.

Soms staan ek soggens op met ‘n baklei in my lyf, al het ek die vorige aand op ‘n wolkie gaan slaap. Sulke slae wil ek ‘n deur toeklap dat sy kosyn van die muur af lostrek; ek wil die hond skop en die brekfisborde eerder stukkend gooi as om dit te was. Ek wens een van daardie irriterende stemme wil bel en begin met “Good morning Ma’am, may I have a minute of your time please?” want ek is só reg vir hom of haar.

Die ding is net: ek is glad nie ‘n gewoonte-bakleier nie en as so ‘n gier my pak, weet ek dit is nie ék nie; dis iets wat in die nag op my geklim het – ongenooid. Die vyandigheid waarmee ek opgestaan het, eindig gewoonlik met die stamp van my ingroei-toonnael en dit is oorgenoeg om enige veglustige gemoed tot tranerige bedaring te bring. Dit is gewoonlik die oomblik van besinning.

Juis omdat ek nie die bakleisoort is nie, is ek nogal ingestel op  ander mense se maniere van verskil. Seker ook omdat ek as kind geen verwysingsraamwerk gehad het nie, as gevolg van my pa se vroeë oorlye. My skoonpa het  die gesegde gehad dat geen mens kan oorlog maak as daar nie ‘n vyand is nie. Daarmee het hy homself veroorloof om vir Skoonma kwaad te maak en daarna weg te stap. Of hy reg of verkeerd was, het hom nooit aangegaan nie. Dit was darem ook nie fair game nie.

Ek dink dit moet tog ‘n heerlike belugting wees om soos sommige pare sommer net spontaan ‘n warm woord of drie ter verduideliking van gemoed te kan los. So ‘n lekker “Gaan in jou ......., man!” wanneer ek so voel, want, ja, ek voel ook soms so. Maar ek vra myself net af: hoe kan ‘n mens respek behou vir iemand wie jy sulke woorde toesnou? En as jy dit eenkeer doen, gaan die tweede en derde kere mos al hoe makliker kom. Natuurlik kan ‘n mens agterna seker om verskoning vra, wanneer die drif getaan het ek die tersprake geskil besleg word – as dit gebeur. Ek dink hulle noem dit die opmaak-periode van ‘n konfrontasie? Die volgende keer word die proses dan weer herhaal, ensovoorts, ensovoorts. Dit is glo soos gesonde geskilbeslegting binne ‘n normale huwelik veronderstel is om te verloop, maar dan het ek nie ‘n normale huwelik nie.

‘n Baklei wat ek beslis nie op my werf wil hê nie, is daardie een wat soos vasgehaakte koekoek-horlosies in ‘n horlosiemaker se werkswinkel klink. Elke sekonde skiet ‘n voëltjie by sy gaatjie uit met ‘n skellende getjirp. Nie een gee bes nie. Elkeen wil die laaste woord hê en hulle hou so lank aan dat hulle naderhand heel van die kern van die saak af is. Gewoonlik verskil sulke mense oor onbenullighede en is dit eintlik meer ‘n gewaande magsvertoon as enigiets anders. Ek het eenkeer aan ‘n etenstafel gesit waar die tannie die botter op die oom se roosterbrood nie tot op die rande van die snytjie gesmeer het nie. Dit was ‘n aardigheid, iets wat ‘n SAMA-toekenning werd was vir nvoorbereide rap.

Gelukkig is ons huis goed bestand teen harde woorde en ‘n gekyf. Miskien sal daar so eenkeer per jaar ‘n oorloggie uitbreek wat gevolg word deur twee dae van stilstuipe, maar normaalweg irriteer ons mekaar met verdraagsaamheid. Ons dikbekpille is in ‘n klein houertjie en het so ‘n onmenslik bitter, dralende nasmaak dat g’n mens dit eintlik wil drink nie. Dis makliker om liewer ‘n knippie sout oor die linkerskouer te gooi en aan te gaan met die lewe.

Carine Badenhorst