Internasionale Mandeladag is vandag (Vrydag 18 Julie 2014) op Hermanus gevier met die onthulling van 'n mosaiek-kunswerk van die geliefde leier in die tuin voor die hoofkantoor van die Overstrandse munisipaliteit.
Die projek was 'n inisiatief van die Junior Stadsraad en twee plaaslike kunstenaars, Raphael Malunga en Pambili Kolisile, is vir die uitvoering daarvan gebruik. Die uitbeelding is gebaseer op 'n foto waarop Mandela met 'n oop hand wuif. In 'n kort toespraak het Burgemeester Nicolette Botha-Guthrie gewys op die versoeningsrol wat wyle President Nelson Rolihlahla Mandela in sy ampstermyn gespeel het. Hy het geglo dat daar meer ooreenkomste tussen die verskillende bevolkingsgroepe bestaan as verskille.
Simbolies daarvan is die geleentheid afgesluit met die sing van die Nasionale Volkslied wat elemente van sowel Nkosi Sikeleli Afrika as Die Stem bevat.
SSMA / Fanie Krige