Boksies vol Smarties

 ‘n Mens kan lank in jou lewe sonder Smarties klaarkom sonder om ooit terug te dink aan die vreugde van hulle kleintyd-kleure. Vir ons was Smarties ‘n luukse; ons was maar van die heuningkoek- en appelkosie-kinders. En selfs dit was ons nie vryelik toegedaan nie. Ons het menigmaal in oom Koos Dwerg se winkel, wat na ‘n mengsel van meel, suiker, tabak en naeltjies geruik het, met verlangende oë staan en staar na die groot glaspotte op die rak.

Die stukke gebreekte heuningkoek was die kleur van ons eetkamer se ougoud gordyne en die donkerbruin spatsels, wat in ‘n mens se  mond effens taai was teen die bros van die res van die lekker, het ons gekoggel tot ons monde daarvan gewater het.  Die oranje appelkosies met hulle amper rooi wangetjies was nie so vreeslik verleidelik nie, want net soos regte appelkose, was hulle soms sag en soms hard. ‘n Harde appelkooslekker was geen plesier nie. Mens was versigtig om hom te kou, gedagtig aan ou Dokter De Villiers se krakerige tandartsstoel in die donker vertrek in oom Josie Newmark se gebou bo in die Hoofstraat.  Om totaal weerloos op daardie stoel te gaan lê terwyl ‘n groteske, gryskopman bo-oor ‘n halwe brilletjie op sy groot neus, met ‘n klomp skerp goed van bo af na jou mond toe aankom, was eenvoudig net nie ‘n appelkoos werd nie.

Destyds was daar nie vir ons ‘n ding soos vra vir lekkers nie. As daar geld was, sou ons lekkers kry; as ons nie gekry het nie, het ons geweet daar was nie geld daarvoor nie.  Terwyl ander kinders met swart monde aan nigger balls gesuig het, kon ons net toekyk en wonder, want dit was ons ook nie toegesê nie. Dogtertjies loop nie met swart monde rond nie; dis vir seuns wat nie omgee hoe hulle lyk nie!  Toe die pienk Star lekkers te voorskyn kom, toegedraai in wit papiertjies met groen randjies en ‘n groen ster weerskante, was die lekkergoedgode aan ons kant. Dit was meisiekind-lekkers. Netjies en pienk met so ‘n effense suurderigheid van sherbet. Daardie smaak het ons darem al geken, want ons is af en toe getrakteer op ‘n rooi sakkie met hierdie poeier, wat ‘n mens in jou hand gegooi het en gelek het vir ‘n mondvol bruisende soet-suur.

Smarties het heelwat later hul opwagting gemaak, toe ons al groot genoeg was om sakgeld te verdien. En ons moes nogal hard werk om genoeg te verdien om Smarties te kon koop, want dit was net in een grootte beskikbaar. Ons moes dit dus deel – volgens die bedrag wat elkeen ingesit het om dit te koop. Wanneer ‘n stryery ontstaan het, het dit nie gegaan om die verdeling van die lekkertjies nie, maar oor wie die boksie kon hou.  As daar ‘n ongelyke aantal lekkertjies was, het die een wat die minste lekkers gekry het die boksie behou; wanneer daar ‘n gelyke getal lekkers was, was daar ‘n probleem. Soos goeie ouers betaam, het hulle die oplossing gebied: sny die boksie in die helfte en plak die een se oop kant toe.

Vir dekades het ek gladnie eens die Smartie-boksies in die winkels raakgesien nie – todat die kleinkinders gekom het. Die eerste, veiligste lekkergoed in Oupa en Ouma se kas, was Flings, wat sommer in hul tandlose mondjies kon wegsmelt.  Daarna was dit Chomps en toe die Smarties. En daarby haak hulle vas. Niks anders wil werk nie, al is dit hoe goed in pakkies opgemaak.  Daardie bont pakkies met die bont lekkertjies is nommer een en Ouma koop dit sommer by die grootmaat aan.  Gee ‘n kind sy sin. As dit jou sal pas, is dit ‘n wen-wen situasie. 

Sal my kleinste kindertjies genoeg pienk Smarties van opregte, onvoorwaardelike liefde ontvang, in so ‘n oormaat dat hulle ook daardie liefde aan ander sal kan uitdeel?  Sal hulle ouers volhou om vir hulle ‘n purperkleed van pers Smarties om te hang en aanhou om hulle voor te berei om ware Koningskinders te raak?  Sal daar genoeg oranje vir hulle wees om die uitdagings van die lewe met passie aan te vat? Sal daar genoeg geel Smarties wees sodat hulle elke dag die son van genade op hulle sal kan voel? Genoeg blou sodat hulle rus en kalmte sal vind deur na Bo te kyk en genoeg groen Smarties om elke nuwe botseltjie aan hulle voete te kan bewonder en waardeer uit die hand van die Skepper wat ook vir hulle sorg?

Die lewe is in ‘n boksie Smarties en die Gewer het baie daarvan. Solank as wat Hy dit uitdeel, weet ek my kleintjie-kindertjies gaan nie tekort skiet nie; nie eens as ek dit nie in my kombuiskas het nie.

Carine Badenhorst