Boompie verplant

Die paar weke wat dit geduur het om die ou denneboom in die hoofstraat te ontwortel en die pragtige, ou huis wat so lank in sy skaduwee gestaan het, te sloop was vir my kwaad-seer hart ‘n pyniging. Alhoewel ek geen direkte belang of persoonlike sentimente aan daardie erf gehad het nie,  was dit net tragies om die erfenis te sien tot niet gaan ter wille van winkels. Waar ek grootgeword het, op Napier en Bredasdorp, is die erfenisskatte altyd veilig bewaar en gerestoureer. Die ou gedeeltes van hierdie dorpe is steeds daar terwyl winkelsentrums aan die soom van die dorp gevestig word. Ek verheug my elke keer in Die Bars in Bredasdorp se middedorp, wat eens ‘n vieslike deurloop, oornagplek, drinkplek en toilet tussen twee geboue was. Vandag het dit die ambience van ‘n stegie iewers in Griekeland met net ‘n paar winkeltjies waarin ‘n mens verlore kan raak. Maar, nou ja, nie alle stadsvaders deel dieselfde waardes nie en in Rome – heel ironies ‘n goed bewaarde stad – moet ‘n mens aanvaar hoe die Romeine dit doen.

In my lewensverloop moes ek vyf keer my wortels optrek. Die eerste, uit my ouerhuis na Helderfontein se massiewe ou rietdakhuis, was een van opgewondenheid, want dit was saam met my nuwe man, ‘n nuwe lewe en die oopte van ‘n Strandveldplaas wat na heide en aandpypies geruik het. Daarvandaan was elke trek ter wille van oorlewing en getrou aan my eie gees, was elkeen ‘n welkome uitkoms. Ek het geen wroeging hoegenaamd daaroor ondervind nie.

Dalk die sigeuner in my, maar ek glo aan die gesegde dat jou huis daar is waar jou hart is en my hart dra ek saam met my. Wat is dan tog lekkerder as ‘n verandering? Vir my, net die volgende verandering. Ek is nou maar eenmaal nie ‘n meisie vir stagnasie nie. Al het  ons getrekkery gepaardgegaan met die onbekende faktor, was juis dit vir my die groot uitdaging. Wat aan die anderkant van die bult gewag het, was altyd ‘n verrassing; iets nuuts om te ervaar en aan te werk ten einde te oorwin.  Die gedagte aan murmureer en terugkyk, was nooit vir my ‘n opsie nie. ‘n Mens se lewenspad is vooraf vir jou bepaal. Daar is ’n Gids wat die doringtakke en slingerplante voor jou wegkap en die moerasse drooglê. Hoe gelukkig kan ‘n mens dan wees, want al wat jy moet doen, is om die pad te stap en jou kamp daar op te slaan waar die Gids jou aanwys.  

Nie almal is egter so vry van gees nie. Soos die hoofstraat se denneboom, verg dit beplanning deur deskundiges en swaar masjienerie om ou bome te ontwortel en te verplant. Verplanting tref veral die ouer garde die swaarste. Daarvoor het ek begrip, want hoe ouer mense word, hoe vaster wil hulle hou aan alles wat bekend is en hoe meer wil hy herinneringe ophaal uit ‘n wonderlike verlede. 

Toe my bure gister, na byna twee dekades in Gansbaai, toekyk terwyl hulle goedjies gepak word, het dit my tog weemoedig gestem,  alhoewel ek deurentyd gepoog het om hulle positief te stem oor die hele affêre.   Op ‘n stadium het ek hulle alleen gelos, want die trane het begin wys en in so ‘n situasie soek ‘n mens nie toeskouers om jou verdriet te aanskou nie. Dis naar om jou bekendhede, die bed waarop jy geslaap het, die stoof waarop jy gekook het, die stoele waarop jy vir jare sit en ontspan het, op ‘n trok te sien wegry – eenkant toe, terwyl jy, met jou lyfgoed in bokse, met jou motor in die teenoorgestelde rigting ry.  Toe hulle later die huis se sleutels kom afgee en ons finaal groet, praat ek steeds moed in en maak simpel grappies soos ‘n sirkusnar, maar in my hart voel ek hulle hartseer.

Om ‘n ou boom te verplant bly traumaties.  Dit moet wees omdat ‘n mens besef jy kom al hoe nader aan jou finale rusplek en al is dit die een trek wat geen mens kan vryspring nie, wil ‘n mens tog nie daaraan herinner word nie. Soveel te meer dan, sou ek sê: stoot nuwe takkies en nuwe botseltjies uit, waar jy ookal verplant word. Lewe solank jy nog lewe!

Carine Badenhorst