Fanie Viljoen
Kategorie: Geweld
Prys: R119,95
ISBN: 978-0-7993-6251-0
Môreoggend gaan hy een vir een ’n groot klomp kinders by die skool skiet; een ná die ander. Dwa! Dwa! Dwa! Hierdie is ’n aand vir laastes. ’n Aand om jou kopie van TheCatcher in the Rye in jou rugsak te druk en afskeid te neem van die huis waar jou pa elke aand te diep in sy whiskeyglas kyk. ’n Aand om die lysie uit te haal met die name van almal by die skool wat dink jy’s ’n freak. ’n Aand om die donker ding binne-in jou beter te leer ken.
Môre. Môre sterf hulle. “Ek verwag iets ongeloofliks wanneer ek die sneller trek. Dit sal wees soos ’n moerse vuurwerkvertoning waar die vonke oopspat oor die donker.” Dwa! Dwa! Dwa! “Ek verwag afgryse in die kinders se oë. Ek gaan kyk hoe hulle siele uit daardie selfde oë sypel. Dit sal asemrowend wees. Ek weet dit net. Asemrowend.”
Maar dit is môreoggend, eers as die skool begin. Vannag is sý nag. Hy wil eers ’n nag vol avontuur hê, want môre sal sy laaste wees.
Die ek-verteller sien homself as die verlosser. Hierdie wêreld het te veel seer. Hy gaan sekermaak dat hy ’n aantal mense uit hulle miserabele bestaan help. Die novelle se motto kom uit Chuck Palahniuk se Fight Club: “This was freedom. Losing all hope was freedom.”
Palahniuk, en ander wat soortgelyk skryf, noem die soort werk transgressiewe fiksie, dit beteken dat hulle karakters skep wat die taboes in ons samelewing uitleef: “Transgressive fiction authors write stories some are afraid to tell. Stories with taboo subjects, unique voices, shocking images – nothing safe or dry.”
Fanie Viljoen se Pleisters vir die dooies bied ook nou aan die Afrikaanse leser ’n transgressiewe teks. Die verteller in Viljoen se roman aanvaar die volle verantwoordelikheid vir sy dade. Hy maak selfs ’n video om te sorg dat almal, die ouers, die polisie en ook sy pa, later sal verstaan waarom hy bereid was om ’n massamoordenaar te wees.