Besef ‘n mens aldag wat ‘n impak jou eie gedagtes op jou lewe het? Het jy al probeer vasstel hoeveel ure en minute jy elke dag daaraan spandeer om te dink? Hoeveel keer per dag praat jy woordeloos, in jou gedagtes, met iemand anders of met jouself? Kan jy dit regkry om in jou wakker, daaglikse bestaan, sommer net aan niks te dink nie? My man kan so lekker in die niet sit en staar en as ek hom vra waaraan hy dink, vir my sê hy dink aan niks. Regtig!? Ek sal erg bekommerd raak as ek sulke blanko bladsye in my gedagtejoernaal moet hê.
Dalk is dit vir ‘n man tog nie so vergesog nie. As ek die advertensie oproep waar ‘n man die verskille tussen mans en vroue so geestig, dog realisties, beskryf, kan dit wel gebeur, want mans kan net een boksie op ‘n slag oopmaak. As my man dus op sy geliefde stoel sit met sy elmboog op die leuning en sy ken knussies in die gleuf tussen sy duim en wysvinger ingepas, kan hy seker van verstand en gedagte net so lugleeg wees soos die borrel waarin hy hom afsluit van die res van sy omgewing.
Soos die advertensie dit uitbeeld, is vroue so saamgestel dat hulle ‘n pakhuis vol boksies tegelyk kan oophou en manies tussen hulle kan beweeg. Terwyl ons skottelgoed was, beplan ons die aandkos en onthou dat die asyn op is en gaan skryf dit op die winkelbriefie. Die asyn – wat in die handdoeke se eerste uitspoelwater gegooi word om al die alkalieë uit te haal – bring ons op die gedagte van waspoeier en op pad terug na die wasbak met skottelgoed, kyk ons gou in die kas of die voorraad nog genoeg is. Terug voor die wasbak, verval die kerriekos-idee, as gevolg van die asyn, en skandeer ons die kruideniers- en vrieskas in ons gedagtes vir die volgende spyskaart. Ons onthou dat die kinders genooi is vir ‘n partytjie, wat die gaarmaakproses van die aandkos van bo-op die stoof na die oond moet verskuif. Die rytyd na die partytjie moet ook effens vervroeg word om ‘n vinnige draai by die winkel en biblioteek te kan inpas. Om sloertyd uit te skakel, besluit ons sommer vooraf op die volgende boeke wat uitgeneem moet word.
Deesdae is dit glad nie vreemd dat pa’s soms vir ‘n dag lank, selfs langer, die huishouding moet waarneem nie, maar in die boonste scenario sal dit heel moontlik so verloop : hy sal die skottelgoed klaar was, alles tussen-in ignoreer, of vergeet, al het jy vir hom ‘n briefie gelos en op die laaste oomblik die neulende kinders by die partytjie gaan aflaai. Die biblioteekboeke sal op die toonbank langs die moet-doen-lysie bly lê en aandete sal, met baie geluk, bestaan uit toebroodjies.
Dit is die enigma van geslagtelike verskille; dit is juis hierdie verskille wat die twee geslagte na mekaar toe aantrek in die wete dat ons mekaar kan aanvul. Overgeset synde kan dit ook dieselfde verskille wees wat die gedagtes later op ander paaie kan laat dwaal en verdwaal. Want...dit is in die gedagtes dat allerlei kwinte en kriewels ontstaan, geen ander plek nie. Hoe langer ‘n mens jouself toelaat om te dink iets is nie reg nie, vir so lank sal jy ‘n rede kry om verder in dieselfde rigting te dink en vir kort voor lank is jou gedagtes jou baas. Dit is wat gedagtes doen: “what you think, is what you do.” Gedagtes ontspring uit die siel van die mens. As jou siel rein is, sal jou gedagtes skoon en positief wees en sal jy gesonde oplossings soek en vind. ‘n Donker siel, aan die anderkant, koester negatiewe gedagtes en soek oplossings in donker stegies.
Die ligpunt is: waaraan jy dink, is jou besluit. Dis jou eie keuse waarmee jy jou gedagtes besig hou; net jyself kan negatiewe gedagtes oor die krans gooi en die res van die pad met positiewe gedagtes stap. Jy is wat in jou gedagtes omgaan. En as dit moet, volg my man se raad en dink aan niks. Hoe? Moenie vir my vra nie, want ek glo hom nie!
Carine Badenhorst