Evergreen

‘Die winde van baie winters het oor haar gegaan en die storms van baie voorjare het al oor Evergreen se rietdakkie gerasper. Maar sy bly rustig hier. Die huisie het al so deel van die omgewing geword dat daar op die dak welige groeisetjies gras groei, asof die natuur die huisie vir haarself wil terugvat.

Seetakke, seekatskulpe, skilpfiguurtjies en foto’s van familie beklou die mure. Lady Di glimlag skugter van agter ‘n glasraam en vergeet van Charles se eskapades. Die koninginmoeder loer streng oor haar regterskouer. Jy stoot ‘n steeloog agter om die gordyn wat na die slaapkamertjie toe lei en sien ‘n Koos wat witwang wys van onder die houtkatel. Ja, dit is die huisie wat Thys gebou het – baie winters gelede.

Thys Vlooi, Thys Voël, Thys Pieterse, noem hom wat jy wil. Hy was ‘n blywende legende van Frikkiesbaai. Baie jare gelede het hy en oom Mike Germishuys hier vlak by sy huis verdrink. Dit was ‘n blinde brander se werk, die verste voorloper van die storm wat suid verbygetrek het en toe op Franskraal se strand uitgespoel het.

Hoekom het Thys – wie die kus beter geken – en oom Mike, veteraanvisser, niks gewaar nie? Dit het binne enkele jare ‘n legende vir die suidpunt geword – die dood van ou Thys van Franskraal.

Op plankwater het hulle see toe geroei, hy en oom Mike Germishuys. As daar ‘n effense jobbel op die see was, het Thys tuis gebly en liefs bamboesgaljoentjies gevang. Daar in die sloepe voor Kluitjiesbaai het hulle ankertou aan die bamboes vasgeknoop. Op die spieëlgladde see was die naaste rots skaars honderd meter van hulle af.

Ja, dit was ‘n blinde brander se werk, meen Gertie. Thys het gesink soos ‘n baksteen en vyf dae later by die Eilandhuisie uitgespoel.

Wyle oom Louis Fourie, afgetrede onderwyser, het sy maat gaan uitken – ‘n ongeskende lyk wat die see terugbesorg het – op sy kano se lêplek. Oom Louis het nie na die gesig gekyk nie, maar sommer die komberse aan die voorkant opgetel. Aan die tone – dit was vir jare die ankers van Thys se lyne – kon hy aflei dat dit inderdaad sy hengelmaat en drinkerbroer was.

Ja, sy mis die solo van sy tjaktjakkie as hy soggens eiland toe vaar om bankvissies te gaan vang. Hy wat altyd so katvoet geloop het vir die weer en getye. Nou lê sy ankertjie vas teen ‘n duin op die dorp.’

So skryf Jan Fourie in Die Burger van 15 Desember 1987.  Die huisie, het soos baie ander, onder die stof van stootskapers verdwyn, maar die herinneringe leef voort in ou koerantknipsels. Thys en oom Mike het in die vroeg sestigerjare by Kluitjiesbaai verdrink.   ‘n Keur van Jan se essays verskyn eerdaags in ‘n  nuwe boek, Vliegroep van die tawiep.  Evergreen sal voortleef.

Intussen werk ons fluks aan die Gedenkboek vir die dorp en omgewing.  Die grootste probleem is dat daar soveel vergete geskiedenis uit dié ou knipsels te voorskyn kom, dat dit moeilik is om te besluit wat om te gebruik en wat vir altyd verdwyn.

Jan Fourie by die Strandveld Museum in Franskraal