In ons huis is daar binne ‘n radius van vyf treë vier horlosies teen die mure. Waarom, weet ek nie eintlik nie; my man het dit opgesit . Ek is nie ‘n horlosiemens nie. Enersyds omdat ek nie meer nodig het om op iemand anders as my eie tyd ingestel te wees nie; andersins omdat ek allergies is vir horlosies.
My eerste horlosie het ek op die ouderdom van twaalf jaar gekry. Dit is mos een van die dinge wat ‘n mens op daardie stadium dink van jou ‘n grootmens gaan maak. My ma se egte goue horlosie – die een waaraan ons nie mog vat wanneer dit op die spieëltafel gelê het nie- was vir my tog so elegant in sy eenvoud. My horlosie was wel nie goud-goud nie, maar nadat ek vir vier dae lank my skoolhemp se mou met ‘n hoogwaardigheid kon opskuif om te kyk hoe laat dit was, het Horlosie in die bad verdrink. Tydens die reddingsoperasie in die lig van die Coleman-lamp op die eetkamertafel het ek vir die eerste keer die klein, rooi robyntjies aan die binnekant gesien. Toe huil ek éérs, want edelgesteentes was nie iets wat in ons huis ‘n rusplek gevind het nie. En ek, die Prinses van Robyne, gaan spring in die bad daarmee! Die horlosie het hom nie van son of rys laat verlewendig nie en uiteindelik het hy die ewigheid ingegaan by die horlosiemaker op Bredas-dorp.
‘n Horlosie om my arm was so fataal soos ‘n kaal elektriese draad in water. My volgende chronometer, seker goed twee jaar na die eerste, het in Franskraal se branders beland. Normaalweg, wanneer daar ‘n beplande swemmery op die agenda was, sou ek die juweeltjie by die huis los. Ons het vakansie gehou regoor die sementpaadjie wat see-in geloop het tot by die paaltjies, wat destyds Franskraal se swemplek was. Met vyf rooi-hakskeen kinders wat tegelyk aan een paaltjie wou vashou ten aanskoue van ‘n hoogwater-brander, moes iemand in die water beland – ek. My ma het baie duidelik verklaar dat sy nooit weer vir my ‘n horlosie sou koop nie.En sy het nogal daarby gebly.
Daarna was daar seker nog vier of wat pogings om myself tydig te hou, maar een na die ander het die horlosies ‘n waterdood gesterf: in ‘n wasbak, onder die stort, in die wasmasjien. Dit is my groot swakheid: ek is ‘n horlosie-versuiper.
Horlosies het nooit juis vir my sin gemaak nie. In die skool was ‘n klok wat gelui het. In die namiddae wanneer ek sport of musiek gehad het, het ek tuis sommer uit ons eetkamer op die wekker in die slaapkamer gekyk wanneer dit looptyd raak. Na skool, in die werkarena het ek geweet dis teetyd of uitvaltyd as my mede-werkers hulle goetertjies bymekaar begin maak het.My babakinders het ek gevoed soos wat hulle dit verlang het. My ingeboude wekker het gesorg dat ek soggens betyds wakker geword het om kosblikke te pak, kinders aan te trek, ontbyt te maak en self betyds by die werk te kom. Toe ek in meer senior poste begin werk het, het ek gewerk totdat die dag se werk afgehandel was. Daar was by my nie ‘n pik neergooiery nie, want wat vandag ongedaan gelaat word, word nooit weer ingehaal nie.
Tyd is vir my ‘n redelik irrelevante ding. Natuurlik moet jy betyds wees vir afsprake – dit is die agtenswaardige manier om respek te betoon. Andersins hou ‘n mens ‘n horlosie net dop om ander mense tevrede te stel. Tyd is die ruimte, die gleuf, die kring waarin ‘n mens jou nou, op hierdie tydstip, bevind. Dit is hoe jy hierdie oomblik benut wat waarde tot jou lewe toevoeg of dit ontneem.
Een van die muurhorlosies – ek dink dit is die een wat die hardste tik – slaan ritmies sy deuntjie hier bokant my skryftafel, oor en oor, sonder moegword. Soms, wanneer ek my volgende skryfsel koplangs bymekaarkry, neem hy oor. Ek luister of ek sy woorde kan hoor. Die een oomblik sê hy “Tiek-tok, tiek-tok.” ‘n Ander keer is dit “Tik-tak, tik-tak.” Dan weer “Tiek-tak, tiek-tak.
Tussen die slepend-hardnekkige sekondeslae kom sy vraag tog deur: “Wat maak jy met jou tyd? Gebruik jy dit of mors jy dit?”
Carine Badenhorst