Verdwaal

Iemand het eenmaal in ‘n gesprek gesê: “Kreatiewe mense verdwaal nooit.”   Dit is nie heeltemal reg nie.  Ons verdwaal ook, maar omdat ons kreatief is, pla dit ons nie. Met dieselfde  geduld wat ons het om  die fynste tafeldoek met oor ‘n duisend motiewe te kan hekel en aanmekaar te sit, kan ons verdwaal  en weer ons weg vind.   Met dieselfde opwinding waarmee ons ‘n impromptu abstrakte skildery op ‘n doek kan vaslê, vind ons op verdwaalpaaie  nuwe bakens en verrassings.

Ek was al menige kere ‘n passassier in ‘n verdwaal-voertuig. Dit is baie erger as die verdwaal self.  Met vroue-bestuurders kan dit nog gaan,  maar dit tas mos die manlike ego vreeslik aan wanneer hulle tot die besef kom dat hulle die pad byster geraak het. (Snaaks dat dit net andersom werk as hulle die pad figuurlik byster raak, want dan is hulle mos pure man!)  Gewoonlik het so ‘n manlike bestuurder ‘n navigator voor langs hom in die voertuig en dit is daar waar die problem lê, veral as dit sy eie vrou is.  “Jy moes nou hier links gedraai het, ek het dan vir jou gesê.”  “Maar jy sê te laat. Hoe moet ek nou in daardie baan kom? En dis in elk geval nie hier nie, dis verder vorentoe.”  Dan kom verder vorentoe se afdraai.  Dis die regte baan, die flikkerlig is aan en ons draai. “ Sien jy, ek het jou gesé dis verkeerd, maar jy luister mos nooit na my nie. Waar gaan ons nou omdraai?”  “Man, los my net uit, ek weet waar ek is.”  Vir ‘n tyd lank sit altwee met bolwange  terwyl ons doelloos deur strate spinnerak. Dan kan die navigator dit nie meer hou nie. “Stop net en vra iemand.”   

Nou kyk, dit is heeltemal die verkeerde ding om van ‘n man te verwag. Dis erg genoeg dat sy vrou hom verkleineer, maar  om homself te verkommin om voor ‘n vreemdeling te moet bieg dat hy verdwaal het, is totaal absurd. “Bel net die mense en sê ons gaan ‘n bietjie laat wees.”  Hier kry die navigator die laaste steek in: “En wat moet ek sê,  dat jy met ons op pad Timboektoe toe is?”

Sulke slae geniet ek my gate uit. Ek is die saamryer, ek het geen verpligting om ‘n afspraak na te kom nie;  dus sit ek heel ontspanne en neem alles langs die verkeerde paaie in. Al weet ek dan nie wat die straat se naam is nie,  neem ek darem kennis van nuwe winkels en restaurante. Ek kan op my eentjie weer na hulle kom soek, want ek is nie bang vir verdwaal nie.

My liefde vir verdwaal het gekom saam met ‘n liefde in my lewe.  Hy was van die bo-wêreld en ons het mekaar vir ses jaar lank  een week elke ses maande gesien.  Dit was ons missie om te verdwaal – die hele Weskaap vol.  My kennis was ‘n eierkelkie vol; syne beperk tot die groot vrugte- en wynplase van sy kliënte,  maar ons het die kuns van verdwaal vervolmaak.  Dit was asof ons die vark-se-stert-speletjie gespeel het wat die kinders op kermisse met blinddoeke aan speel.

Dit was en is steeds een van my groot  plesiere om te verdwaal, maar die geleenthede daarvoor het opgedroog. Iewers langs die lewenspad  het die horlosie ‘n stok in die speek kom steek. Daar was net nie meer tyd vir verdwaal nie, want alle ritte was gekoppel aan afsprake wat nagekom moes word. As ek moes diepKaap in, het ek my  dik Kaapse  straatkaartboek  nadergetrek  en die roete gememoriseer. Op die dag van die rit, het ek die  boek saamgeneem.

Ander mense spring van brûe af, maar my adrenalien begin vloei wanneer ek by Somerset Mall verbyry op pad stad toe. Daar is net ‘n opwinding aan die een word met die vloei van die  verkeer en die moontlikheid om ‘n verkeerde afdraai te kies om in die middestad te kom.  En daar is altyd oom Jacob uit Kanaladorp met sy ou Mercedes taxi om tot die redding te kom as dit moet.

Die ergste van verdwaal is die paniek van  my passassiers wat nie die romantiek daarvan kan waardeer nie. Tjie! 

 Carine Badenhorst