Dissehaai

Goeie nuus? Sprake van geelstert by die Eiland. Slegte nuus? Hulle wil nie byt nie  -- en wat is snaaks hieraan! Nog beter nuus is dat die snoek uiteindelik by ons uitgeslaan het en wel by Dassiegat. Die kinkel is dat dit nie vis van die beste gehalte is nie, en dit verwag ons mos ook! Nou net wag dat die weer mooi saamspeel, dan gaan haal ons hulle. Hopelik (maar onwaarskynlik) is die vis dan in ‘n beter kondisie. 

Nog altyd was ‘n haai vanaf  ‘n boot gewaar  “net so groot” of selfs “groter nog” as die boot. Altyd! Laat ek bietjie vertel.

Ons het pas met die rubberboot geanker en die eerste roman is gehaak. Saam met my op die boot was twee vriende wat die heel eerste keer dit met ‘n boot see in gewaag het. Hulle het sommer van hulle lang kantvisstokke gebruik gemaak en was net besig om te ontspan, toe dit gebeur. Hier langs my kom die grys gevaarte te voorskyn. Die boot is vier meter lank en die haai “gly” hier van agter om die boot. Sy kop is na aan die voorkant en sy stert lyk baie ver. Ons versteen. Dan is die haai weg, dan verskyn hy weer. Die vinne net onder die water, beweeg hy stilweg en grasieus langs ons verby. Ons beweeg glad nie. Die lyne word stil gehou. Die twee lang stokke staan soos maspale die lug in. Jy kan nie waag om die lyne op te trek nie. Wat sal gebeur as jy sy aandag trek? Nog erger, wat as hy kwaad word? ‘n Lang mes word byderhand gehou, net in geval hy sy skrefiesoë te naby aan ons bring. Dis soos om ‘n tenk met ‘n kettie te beveg. Vir my is dit die eerste werklike ondervinding met ‘n haai. Vir my twee maters die eerste keer ooit. En, wil hulle weet, is ons nie in die haai se pad nie? Natuuurlik!! Ek weet, stroop jy ‘n haai se vleis van sy lyf af, dan beweeg hy nog. Wel ons het darem ‘n mes. Ons leer wat ontsag is en ons leer van asem ophou en hoop. En bid! Tog lyk dit of hy belangstelling verloor want vir ‘n wyle (wat soos ‘n uur voel) kom hy nie weer te voorskyn nie.

Ons begin weer asem haal en jy hoor selfs ‘n verleë grappie. “Manne, wie’s die vetste? Spring solank uit dat die res van ons kan padgee” Skielik is almal weer vol gesels en die dag begin sy kleur terugkry. Die haai is weg. Dankie tog!

Die volgende oomblik slaan die een lang stok die wateroppervlak soos, volgens die skipper, ‘n groot kabeljou die aas gryp. Eers is daar blydskap en dan volg die skok as die man klou aan sy stok en skree hoe hy gewaar het die haai sy aas gryp! Hy’s terug!! Die werklikheid kom sit vas in jou. Hy is terug en nou is hy gevaarlik. Ons is op ‘n rubberboot en die haai laat ons klein voel. Die bevel volg “sny af jou lyn, almal se lyne op!” Die ankertou word met koorsagtige haas getrek. Die motor loop reeds en die wateroppervlak word stip dop gehou. Die vroeëre bravade is weg en almal stem saam  --  hier moet ons gee pad. Dis al of jy nie kan spoed kry nie, en waarom maal die water so? Terwyl jy probeer wegkom bevraagteken jy jou wysheid om so ver van die land te wees. Jy voel baie klein.

Oplaas bereik jy tog die volgende rif en weer word anker gegooi. Hierdie keer bly jou oë onrustig op die water. Wanneer ‘n voël skielik agter jou opvlieg met ‘n geklap van vlerke, is die skrik nog vlak in jou.

Ons het die haai nie weer die dag gesien nie. Eenkeer het ‘n ding weer geloop met die lyn. Kon dalk hy gewees het. Ons vang wel daardie romanne wat ons wou gehad het. Die dag word baie gesellig en ons geniet die natuur, die stilte. Die geselskap was aangenaam.

Maar dáárdie haai  --  hom soek ons nie. Dis sy wêreld waarin ons oortree. En dis ‘n grote, net so groot soos die boot, of nog groter!  Seemeeu