Hoe jy jou inspan

Ons gesels onlangs sommer so vinnig oor die kleredrag waarmee dames deesdae gaan werk. En besluit dit is ‘n slordige ding wat sy kop iewers in die verlede – ons kan dit nie presies vaspen nie – uitgesteek het. Oral het mense begin versleg in hul uiterlike korporatiewe voorkoms.

Die eerste Westerse vrou wat dit ‘n ‘n langbroek gewaag het, was Elizabeth Miller in 1851. Sy was ook seker maar moeg van stywigheid.Ek onthou self nog hoe prim en propper ons ons moes gedra met die makabere inklimgordel en kouse onder ‘n knielengte skooljurk.  ‘n Mens kon nie behoorlik sit nie, jy kon nie trappe klim met ‘n jongetjiesklong in die nabyheid nie en jy moes gedurig die some van jou skooljurk in stywe bondels langs jou dye vastrek in ‘n effense windjie. 

In 1931 is Marlene Dietrich Parys uitgejaag oor sy manspakke gedra het; in 1959 is die eerste broekiekouse vervaardig; in 1966 skok Yves Saint Laurent die wêreld met ‘n loopplank vol broekgeklede modelle; in 1967 ontwerp Andre Courréges die spanbroek en in 1971 word Levi Strauss vereer vir sy eerste indigo jeans. Die Hippies het hulself oortref met die innoverende wyses waarop hulle broeke gedra het; David Bowie en Gary Glitter het met  spanbroeke in glansmateriale en blinkers op  verhoë rondgespring terwyl Elvis sy heupe rondgeruk het in klokbroeke en stywe baadjies wat met sierstene ingelê was.

Intussen word ons, vroue, ek en jy, meegesleur deur al hierdie vinnig-veranderende modes.

Die een oomblik nog is ons ingegord met inklimgordels. Ons was genoodsaak om fier en regop te staan omdat die katoen Playtex wat ons buuste puntig tot  amper onder ons kenne moes lig , ons geen beweegruimte  toegelaat het om pynloos-soepel te beweeg nie. Saans het ons uit die knellerasies geborrel soos amper-verdrinkte duiker wat die water se oppervlak breek en daardie eerste teug vars lug beetkry. Die volgende oomblik gryp ons na alles wat nylon en rekbaar is. Die rokke word korter en korter, want ons is, danksy broekiekouse, tog nie kaal nie. Ons kan dieper asemhaal, want die vormdrag beweeg skielik saam met ons lywe. En as die “ladies” ‘n bietjie laer hang, is dit ook nie die ergste nie, want ons dra drade as borswering teen die mag van swaartekrag.

Al die verslappings ten spyte, was ons nog steeds respektabel en respekvol teenoor ons werkgewers en die omgewings waarin hulle ons geplaas het. Dit was mos die plek waar ons die grootste deel van ons daglig-ure deurgebring het. ‘n Mens het ‘n trots gehad in jou werk en jou werkplek. Wat jy na-ure gedra het, kon lyk soos dit wou, maar tussen agt en vyf was daar ‘n baie besliste etiese dragkode – en dit was nooit eers beskryf nie, dit was ‘n ingebore trots.

Deesdae raak my hart so seer as ek sien hoe van die vroue in hule werkplekke aangetrek is. Eerste wat my gril is ‘n T-hemp, nog erger as dit enige ander prentjie op het as die logo van die werkgewer. En dan die langbroeke!! Ai!  Wat is dit tog met die ding dat klere deesdae twee tot vier nommers te klein gedra word? Ek is mos nou self nie ‘n uitgehongerde feetjie nie, dus besef ek terdeë dat ons winkels nie voorsiening maak vir die volles van vlees nie. Ek verstaan ook dat dit al hoe minder bekostigbaar raak om by winkels uit te kom wat wel akkomoderend is. Tog, waar ‘n wil is, is ‘n weg. Daar is redelik baie internet-winkels met bekostigbare pryse en daar is darem nog ‘n paar naaldwerkers in ons dorpie, asook ‘n juweel van ‘n lapwinkel.

Kan dit my laaste pleidooi hier in die doodsnikke van  Vrouemaand 2014 wees dat ons dames, in ‘n werkopset of daar buite,  met eerlike oë in die spieël sal kyk? Dat ons ons vrouwees sal respekteer deur ons lywe te tooi na gelang van ons rondings? Kom ons probeer om fleurig, kleurvol, trots en aanvallig Vrou te wees! 

Carine Badenhorst