Lente en blieng in jou huwelik

Hierdie week het baie dinge gebeur: die eerste dag van Lente het aangebreek, Internaionale Huweliksweek word ook in Suid-Afrika gevier met wit linte en môre trek ons ons blinkste klere en bykomstighede aan en doen ons deeltjie vir gestremdes. En so skop die sosiale trimester van die jaar af, want troues, kantoor-partytjies, die lang vakansie, Kersfees en Nuwe Jaar lê voor.  Ons verskuif ons winterklere na die spaarkamer se kas en doen bestekopname van ons somerdrag.  Die kindertjies het vinniger gerek as die materiaal van verlede somer se nuwe uitrustings en die huishoudelike begroting moet aldus aangepas word. Die Lente lei ‘n nuwe groeityd in, letterlik, sowel as figuurlik. 

Maar, waar staan ons huwelike binne hierdie nuwe groeiseisoen? Dink ons ooit nog aan ons huwelike, of het dit al so alledaags en vanselfsprekend geword dat ons kwalik besef dat daar twee mense van vlees, bloed en emosies in hierdie vennootskap is?  Weet ons nog wié ons maat is, wat hom of haar laat  tiek? Vra ons nog vir mekaar: “Hoe voel jy?” oor dinge wat binne die huwelik en gesin gebeur? Maak dit ooit nog saak hoe die ander een voel, of is ons net daarop uit om ons eie stempel af te druk en onsself eerste te stel?

Of is die kinders dalk agter die stuur van ons huweliksbootjie?

Daar is waarheid in die cliché dat mense vandag glad te vinnig skei omdat hulle nie bereid is om aan hul huwelike te werk nie. Elkeen het met eie verwagtinge die nuwe veld betree en wanneer dit nie na eie wense gaan nie, wil hulle daar uit. Of, hulle gaan met té onrealistiese verwagtinge in die huwelik in:  ‘n huis in ‘n luukse woonbuurt, ontwerper-meubels en ‘n viertrek-voertuig is nie die vertrekpunt vir ‘n gesonde huwelik wat veronderstel is om “tot die dood ons skei” te hou nie. Sulke luukshede hou nie die toekoms in die oog nie. Om aan ‘n standvastige huwelik te begin bou, moet ‘n paartjie met hulle voete stewig op die grond staan en die trappies een vir een klim. Dis wanneer hulle met een sprong probeer om uit die staanspoor bo op die leer te kom dat hulle hulle nerwe afval – en mekaar verwyt vir die ander een se seerkry. 

Die ander onding waarmee slim mense soos huweliksberaders en seksoloë huweliksmaats ‘n rat voor die oë draai, is dat avontuur binne die huwelik alleenlik in die slaapkamer verkry word. Dit is ‘n mite, groter as die bekendste Grimm-sprokie.  Geen spierspasma-sekskepade of ‘n laai vol swart leer leisels, - peitse en -gordels  kan ‘n huwelik sinvol en respektabel aan die gang hou nie.  Huweliks-avontuur behels saamwerk, saamgesels, saam-beplan, saam-sukkel in die wete dat, al kom ‘n mens nooit by die perfekte uit nie, jy steeds probeer om daar te kom.

Wanneer daar eers kinders is, raak die avontuur ‘n ontdekkingsreis vir die hele gesin.  Kinders is van die beste leermeesters wat ouers ooit kan hê; al kan hulle jou min van die lewe leer, leer hulle jou dinge van jouself wat jy nooit besef het nie.  Kinders leer jou dat die eenvoudigste blommetjie iets wonderbaarliks is; dat ‘n goggatjie op die sementpaadjie fassinerend is;  dat seerkry baie vinnig gesondraak wanneer iemand wat jou liefhet jou optel, vashou, en troos met  sagte woorde en ‘n soentjie. Wanneer laas het jy jou huweliksmaat so vertroos?

Een van die grootste leemtes wat in huwelike kan ontstaan is dankbaarheid en dankie-sê. Ons aanvaar so maklik  alles wat ons het, ons menswees, ons geliefdes, ons vermoëns as vanselfsprekend. Môre kry ons die geleentheid om , in ons blinkste klere en tooisels, ons dankbaarheid te betoon deur ‘n geselsie, ‘n geskenkie, ‘n gebed, ‘n glimlag, ‘n skenking of donasie vir ‘n gestremde of instansie te gee.  Deur die blydskap en blymoedigheid van ‘n gestremde, kom ‘n mens tot die besef hoe min onsself “Dankie” sê. Pluk ‘n lenteblom, een vir jou huweliksmaat, een vir elke kind, kyk hulle in die oë en sê: “Ek is so dankbaar om jou in my lewe te hê.” 

Carine Badenhorst