Die doop

 ‘n Snoekbraairesep vir hierdie week sal nie vreeslik help nie, daarvoor is die vis nog te skaars (of is hulle dalk al aan die verdwyn?) Kom ons praat oor iets anders…

Indien jy ooit ‘n boot wil “doop”, hoop tog dat dit nie gaan soos die slag met Mooinooi nie.

My eerste glasveselboot en ons is Gansbaai uit om Mooinooi te doop. Saam met my “crew”, Clive, Wally en Neels het ons gesorg vir ‘n bottel goeie sjampanje om die groot oomblik te vier.

Ek moes die aamerkings van die manne maar vat oor, volgens hulle, ‘n meer gepaste naam as Mooinooi. Ongelukkig nie geskik vir publikasie nie.

Die eerste probleem het ontstaan toe die een motor net buite die hawe gaan staan. Terselfdertyd merk Clive op dat die proppe wat die water uit die boot moet hou, nooit in posisie geplaas is nie. Ons word bewus van die seewater wat hier teen ons bene begin opstoot. Terug op pad kaai toe, vrek die ander motor! Nou was daar GROOT probleme. Ons kry die eerste motor weer aan die gang en bereik tog die kaai, met water wat gevaarlik hoog teen die bene begin opstyg. Mooinooi se stewe lê laag in die water. My skuld, die feit dat die proppe nie is waar hulle moes wees nie.

Teen die kaai word Wally gestuur om die Landy nader te bring. Clive moes ‘n klip kry vir die Landy se wiel  --  geen ordentlike Landy se brieke werk mos ordentlik nie. Ek en Neels het met die een motor die swaar boot se neus  darem op die sleepwa se agterkant kon kry. Wally moes redelik diep die water inry om ons taak te vergemaklik. Die agterwiele van die Landy was grotendeels onder water toe ek vir Clive skree om die klip onder die voorwiel te plaas.

Toe DIT!!! Die Landy toon geen respek vir die klip nie en foeter bo-oor! Die drie van ons raas want die helling is seepglad en reeds het die sleepwa onder die water verdwyn. Neels het soos ‘n vink aan die boot gehang, ek aan die lanseertou en Clive het met alle mag die Landy se tog dieper die water in probeer stuit. Wally was seker bevrees dat ons ons dreigemente teen hom sou uitvoer anders het hy nie van ons taalgebruik gehou nie want hy slaag wonderbaarlik daarin om die Landy tot stilstand te bring. Teen daardie tyd het beide ek en Neels aan die boot gehang met ons voete iewers aan die sleepwa geanker. Die Landy spuug sulke dieselbolle van onder die water en in die geharwar let ek toe op dat die helfte van die voertuig darem nog bo die water uitsteek. Clive het verdwyn in ‘n natterige blou dieselwolk.

Mooinooi met sy pens vol water moes geweldig swaar gewees het want met die vreeslike gesukkel ruik jy net “clutch” brand en het ek in my gedagtes reeds afskeid geneem van beide die boot, die sleepwa, asook die Landy en die “crew”.

Wally het later vertel, omdat hy so gesukkel het om vorentoe te ry, hy gedink het die Landy was in derde rat, in plaas van eerste. Toe beland hy in trurat en die Landy besluit mos daar is geen hoop meer vir die lot nie. Wally gee vet, neuk nog verder die see in, almal skree sodat die hele hawe-personeel nader storm en Wally van skrik, vind so wraggies die eerste rat.

Ek haal my hoed af vir hierdie Land Rover  --  om so ‘n half gesonke boot, halfversuipte “crew” en ‘n half histeriese hawe-personeel almal gelyktydig die water uit te sleep, moet gedoen wees!

Uiteindelik het ons tog die onbeduidende fout met die motors reggestel, die water uit die boot gelaat, die prop sy regmatige plek laat neem, die personeel tot bedaring gebring, kajuitraad gehou en Mooinooi is toe wel deeglik gedoop, soos dit hoort.

Opwindend en suksesvol en ‘n goeie les vir die skipper  --  ‘n prop moet ‘n gat hê!! Geniet die water, Seemeeu