Vroue maak nie só nie

Vroue skinder. So sê mans mos,  maar hierdie bordjies is beslis verhang.  Wie skinder deesdae lekkerder as ‘n paar mans bymekaar?  Om een of ander duistere rede, is hulle vertroud met almal in die omgewing se skades, skandes en plesiertjies. En hulle weet presies wie het die storie naaste aan die bekkant beet. ‘n Vriendin van my vra gereeld: “Wat is muus?”  Nie die manne nie, nee, hulle val sommer met die deur in die huis en sê: “Toe nou, praat, jy weet mos wat aangaan!”  Gewoonlik is daar soveel wedersydse geheime “kennis” dat dit ‘n redelike tyd van raai-raai-speel kos vir een van die stories om te voorskyn te kom. Ek skud net my kop vir myself en as dit darem te dik vir ‘n daalder gaan, gooi ek ‘n stuiwer in die armbeurs: “Nou wie van julle was nou eintlik daar?” Gewoonlik trek dit die remskoen vas, maar as ’n mens nie tussenbeide tree nie, spreek hulle soveel valse getuienisse dat die paradysslang homself in de hoogste tak van die kennisboom gaan ophang om liewer maar uit te droog. Mans skinder. Punt.  Die ander ding wat mans van hou, is om van ‘n medeman ghaai te maak. Dalk is dit vandag so ‘n bietjie afgewater teenoor die vorige generasie se soms wreedaardige poetse. My swaer was op ‘n aand by ‘n Boerevereniging byeenkoms op ‘n plaas by Swellendam. Hy was ‘n fynbesnaarde en fyngevoelige mens wat baie vinnig eksepsie geneem het. Soos dit wou, was daar ‘n oom teen wie hy een of ander grief gehad het.

Nie ‘n drinker nie, verlaat hy die byeenkoms vroeg met die wete dat die manne nog tot kleinvannag gaan kuier. Seker maar met voorbedagte rade, het hy ‘n bakkievrag swaar kettings en groot slotte saamgery en die oom se bakkie aan die naaste boom gaan vasmaak. Skynbaar was die bakkie so beketting en die laaste van die takhare so geswael dat hulle nie kans gesien het vir die verlossing van die bakkie nie. Die oompie het tot skemerdag die volgende oggend in sy bakkie gewaak, diep onder die prop. Sy redenasie was dat ‘n boer wat soveel swaargerei gebruik, dit een of ander tyd sou wou kom haal. Maar swaer het nog genoeg van daai gehad. By ‘n ander geleentheid het ons en ‘n paar van die bure een van ons gereelde Donderdagaand braaie gehou. Skuins oorkant die pad het ‘n oom in ‘n eersteverdiepingwoonstel gebly; nieteenstaande baie lief vir die bottel. Wanneer hy ‘n rokie agter een van ons huise se dakke sien uitkom het, was hy daar, al het hy dan reeds twee spore oor die straat getrap. En dan wou hy drink. Enigiets met alkohol in, want hy het geweet hy gaan hangende tussen twee mense, uiteindelik op sy eie bed beland. Getempteer deur sy lastigheid besluit die manne om sy been aan die poot van die wit plastiese stoel vas te maak. Nou, sien jy ‘n papdronk mens van ‘n plastiese stoel wat ietwat ongelyk op ‘n grasperk staan, probeer opkom? Met die sesde probeerslag het die ou al momentum opgebou. Sy opstaan en sy hardloop met die wit stoel was één, bo-oor die jong wilgerboompie en vas teen die draadheining waar hy soos ‘n nat sak bly hang het. Dan was daar Oumeneer wat vir algaar skoolgehou het en in die hotel afgetree het om naby genoeg aan alles te wees. Hy het lief gebly vir sy leerlinge en hulle vir hom. Daarby het almal die gemene deler van wyn en sy trawante in gemeen gehad. So wou Oumeneer opsluit saamgaan toe hy die manne rondom die kroegtoonbank hoor beplan aan ‘n nag langs die see. Toe hulle hom die Vrydagmiddag oplaai, is Oumeneer steeds in sy “suit and tie” wat hy elke dag gedra het en sy slinger sit al mooi in die lyf. Met elke pitstop langs die pad, vat almal ‘n knertsie witblits. Oumeneer ook, soveel so dat hulle hom net moes help om sy voete buite te kry om water af te slaan; verder het Oumeneer die res van die naweek in die bakkie bly sit. Soos hy ingeklim het, het hulle hom weer uitgehelp.  Amper soos Gam destyds met die gryse Noag, met tegemoetkoming deur Sem en Jafet. 

 Carine Badenhorst

SuikerBroodenSuurvye 3_200x180_crop_100_1