Nag van Gebed

My ma het my leer bid.  Seker maar ‘n normale ding vir Ma’s om te doen, maar ek bedoel hier rérig bid,  nie net Liewe Jesus ek is klein nie, maar  bid om te verstaan waaroor dit gaan en hard te glo aan verhoring van gebede.  Neef Pietie het pas sy bestuurderslisensie gekry en die klein groen Austin A30 van sy ma af gebedel sodat ons Uilkraalsmond toe kon gaan.  Pietie was planklank, skaars droog agter die ore en so slim en sterk as wat sy ouderdom geverg het. Voor langs hom in die tweedeur, mosbolletjieronde karretjie, was nig Brenda en ek en Sus op die agterbank.  Ons ry deur Napier se Nuwerus, die B’bos pad, want dit was maar die enigste pad om te ry daardie tyd. Akkedisberg deur was ‘n te lang draai en dis eintlik maar net die Caledonners wat daardie roete gery het. Ons gaan Bloubokkiesfontein en Magdala sierlik verby, Tolbos se groot denneplantasie kom ruk aan ons neusgate, maar ‘n ent weg langs daardie bos het die pad ‘n bedrieglike stuk koffieklipgruis wat daardie tyd van die jaar walletjies gery was van al die vakansieuittogte na die Strandveldstrande.

Die Austintjie se vierduim-wieletjies raak verlore tussen die gruis en dis nie onervare Pietie se werk om hulle weer te spoor nie. Onder ‘n kakafonie van gruis wat spat, metaal wat knars en stof in mond, neus en ore, beland ons in die fynbos langs die pad. Ek spoeg en waai en stamp om my histeriese suster van my lyf af te kry, want dié  beur  al in my vas om uit te kom, terwyl die voordeurtjie uit sy skarniere oopsper agter haar rug. Al waarvoor ek gebid het solank as wat sy dwars geneuk het, was dat stof nie rook raak nie. Nie lank daarna nie, het my ma en haar niggie-vriendin my egter in ‘n nag van gebed ingepraat. Ek moes die aand saam met Koos Slappies Gansbaai toe gaan, sommer net. Tien jaar ouer as ek, pas geskei en ryk aan lyf en lewenskennis teenoor my skaars hoërskool naïwiteit, had ek geen keuse nie, my rebellie ten spyt. Dit het net nie reg gevoel nie en buitendien het ek  nie weer kans gesien vir Tolbos se koffieklipgruiskol nie.  

Dis familie en hy beloof om my mooi op te pas, bla-bla-bla.  Dis donker as Koos met die Vollatjie voor die deur stilhou. Ons ry nie deur Nuwerus nie, maar teerpad langs tot by Ouwerf waar ons voor die brug wegdraai Tuinplaas en Fairfield toe. Here, waar is ek in? Dis vreemde bos hierdie en die pad deur die skeiding is toegegroei en verspoel. Anderkant ‘n driffie hou ons stil. Wat nou! Die flou koplampies skyn teen ‘n oorhangende droë tak oor die pad. “Hier” sê Koos, “spook dit. ‘n Vrou het haar jare gelede hier opgehang en mens sien haar op middernag nog hier oor die pad hang.”  Ek vries my vas in die sitplek, nie vir die spook nie, maar vir die groot hand wat oor die lang hare agter teen my nek drapeer. “Kan ons nie maar net ry nie?” kry ek in benoudheid uit. Ons gaan weer vort en ek draf agterna van huis tot huis waar Koos soos ‘n verlore seun gul ontvang word. Ek voel die nag verbygaan, ek hoor hoe tonge losser raak en  sien hoe knieë hulle “ball bearings” verloor. En ek bid, want ek is ver van die huis af. In Helderfontein se bos klim ‘n spook in ‘n boom om middernag oor die pad rond te swaai en op die ander pad lê Tolbos se koffieklipgruis met geel oë die pad en dophou. Dis lank na spooklooptyd toe ons die terugtog aanpak. Dwars in die sitplek, onder die dekmantel van slaap, bid ek. Aanhoudend, smekend, so deur die vrees van nog ‘n vreemder pad wat ek af en toe deur ‘n loeroog nie herken nie.  Ek word kamma-wakker toe ek voel ons is op teerpad. Vies vir my ma vir hierdie nagtelike ontbering, val ek in die bed en bid net  twee woorde: “Dankie Vader.”  Al die ander lofprysinge, belydenisse en beloftes het ek mos reeds nagdeur afgehandel.

Carine Badenhorst

SuikerBroodenSuurvye 3_200x180_crop_100_1