Moenie vir Baby in die hoek sit nie

Ons nuwe skooljaar is amptelik aan die gang. Die skoolgronde is oortrek met miertjies in nuwe skoolkleertjies. Bedrywig, ondersoekend, entoesiasties binne hierdie omheining  waar elke kloklui ‘n nuwe skattejag speletjie aankondig.  Ek hou my weg van hierdie eerstedaggebeure, want ‘n Ouma wat heeltyd oë dep, is net ‘n verleentheid vir ‘n selfversekerde Graad eentjie. En as die son my daai tyd skeef vang of daar hardloop ‘n hond in die straat verby, skree ek sommer propperlies soos ‘n  mens met ‘n skuldige gewete langs ‘n oop graf. (Want kyk, as jou gewete skoon is, dan wil mens tog met ‘n jaloesie juig omdat daardie siel vry is van die aardse stryd). Tog kan ek nie help om aan my eie eerste skooldag te dink nie. Ek kan glad nie onthou dat my ouers my vergesel het nie. My sus het daardie jaar Standerd Een toe gegaan en ek glo dit was seker gereken as genoeg ondersteuning vir my. Ek het immers vir twee jaar saam met haar geleer en kon vir Sus en Daan toe-oë lees. Van somme, letters en klanke kon ‘n Sub A juffrou my niks meer leer nie.

Tot vandag toe onthou ek die reuk van die klaskamer en as ek dit nóú moet etiketteer, sal ek sê “bordkryt.” Ons het aanvanklik met griffies op  houtomraamde leibordjies geskryf en was vreeslik geleerd toe ons bevorder is tot binne die lyntjies van ‘n klaswerkboek. Ek was met alles eerste klaar en kon agter in die klas met die kunsgoed gaan speel; andersins was ek die stuurjonge van die drie juffrouens wie se klasse langs mekaar op die kort stoepie was. Na die Junie vakansie was ek nie meer welkom in Sub A nie en moes ek my by die Sub B’s skaar. Ook hier het dit met my so goed gegaan dat ek elke dag dorp toe gestuur is om vir Juffrou se twee kleuters by die huis te gaan lekkers koop. Dit was die jaar 1958 en kinders kon nog vry in die strate rondloop.

Maar..ek was toe nie so slim soos wat die juffrouens  gedink het en hulle my laat glo het ek is nie. My negende staanplek in Standerd Een het soos ‘n skokglof deur die skool getrek en by my gespook vir die volgende 11 jaar. Toe ek in die rooi hakskeenstadium begin rebelleer het teen die verwagting dat ek jaarliks my SubA standaard moes handhaaf, het die poppe begin dans en ek het saam gedans, vóór gedans. Ek het my van niemand laat intimideer nie. Al het dit my soms ‘n hele week geneem en was dit nodig om na ‘n onderwyser se huis te gaan, het ek die regte tyd afgewag  om die onderwyser wat my verkeerd opgevryf het, te konfronteer.  

No-one puts Baby in the corner. Ek het dieselfde raad aan my eie kinders gegee: moenie dat ‘n onderwyser jou vals beskuldig nie en moenie dat hulle jou menswaardigheid afkraak nie; raak rustig en gaan stel jou saak, sê jammer as jy verkeerd was, maar staan op jou punte as jy reg is.  Dit is hoe mens aan jou eie karakter bou. Die dierbare kleintjies wat so pas in uniforms ingestap het, het ongelukkig – dis geen geluk nie – die beskerming van die wet sodanig aan hulle kant dat hulle die onderwysers eerste mag intimideer deur ongehoorsaamheid en eiegeregtigheid. Die goeie ou rottang mag nie meer swaai nie en vir al wat ek weet is detensie al ‘n skending van menseregte. Hoe balanseer mens hierdie skaal? In Graad Een is Juffrou in elk geval altyd reg, terwyl Pa en Ma niks weet nie. Die twaalfjaarlange Dirty Dancing het begin. Almal gaan uiteindelik dans, sommiges beter as ander. Party het natuurlike ritme, ander ‘n ligtheid van voet. Daar gaan beslis ‘n paar wees wat nooit die verhoog gaan haal nie. 

Die sukses van die hele ervaring lê egter nie in die dans nie, maar in die deursetiingsvermoë van ouers, kind en onderwyser. Solank niemand vir Baby in ‘n hoek indruk nie. 

Carine Badenhorst

SuikerBroodenSuurvye 3_200x180_crop_100_1