Kleintjiepa en die fregat

Kleintjiepa en die fregat

GansbaaiCourant WhatsApp Nuus / News

Kleintjiepa was nie ‘n leerder nie, maar hy was slim. So vinnig as wat hy kon het hy die skool verlaat. Aan sy ma se plaasvoorskoot kon hy nie pal hang nie en ‘n koei kon hy nie melk nie. Die Vloot was die enigste oplossing; die army was te hard. Jare later vertel hy vir (nou) Skoonseun, op naweekpas van Vloot Akademie af, presies hóé dinge daar gedoen moet word. Dit was die kadette se eerste ervaring op ‘n fregat in Simonstad. Party van die ouens was nog nooit op ‘n boot nie, maar hy was mos water gewoond, met die plaatskuit op die waterblomdam en saam met Pa op die roeibakkie buitekant Kleinbaai se hawetjie. Sommer met die aanboordgaan, vat hy die commander aan : “Nee man, jy moet dat die manne die toue hier wegvat, ‘n man kan mos daaroor val.” 

Waarom hulle moes aantree en op aandag staan tot buite die hawe wis hy nie, want daar was niemand in sig nie.  Rondom hom het manne groen in die gesig geraak en een van hulle het sommer op die luitenantjie se wit skoene gekots. Vir hom het hy ook vaderlike raad gehad: “As jy nie die see ken nie, wat kom soek jy hier, man? Jy kom mors net ‘n mens se tyd.”  Toe vat twee offisiere hulle binnetoe. Eerste was hulle by die hangar in waar ‘n helikopter gestaan het.  In die kontrolekamer het sy kop gedraai van al die metertjies en liggies. Dis net bitter slim mense wat hier kon werk; hy het laas in standerd vyf wiskunde deurgekom. 

In die beheerkamer was ‘n afgekampde gebied waar hulle nie mog in nie, want dis waar James Bond en sy manne gewerk het. Dan was daar ‘n arsenaal so groot soos die Kaapse Stasie en dis so vol buskruit in allerhande houers dat mens eintlik nie daar ‘n sigaret wou opsteek nie. Die enjinkamer was vir hom niks snaaks nie, want hy ken Lister en McCormick enjins;  hulle s’n was net groter en skoner as die op die plaas. As daar fout kom,  kon hy darem vir hulle voorsê hoe en wat hulle moes doen.  Die brug was ‘n agtermekaar plek. Alles was gepoets en die ruite was seker spesiaal vir hulle besoek gewas. Lekker gemaklike sitplekke ook. Dit het na sý soort werkplek gelyk. Nadat die commander  gewys en verduidelik het, vra hy: “ Wie van julle dink julle kan hierdie perd ry?”  Die kadette  kyk vir mekaar, maar niemand sê iets nie. Hy, die kleinste outjie,  stamp sy elmboë in die flanke weerskante van hom en beur sy pad tot voor.  “Ek sal hom ry!  Ek ken van boot en ek ken van see. En ek kan ‘n combine ry.” 

Die kaptein beduie vir hom sus en so, vermeerder en verminder spoed, bakboord en stuurboord en gee vir hom die skeepswiel. Hy het die besigheid so gevoel-voel en toe trek hy die throttle oop. Hy steek die fregat se neus suid-suidoos op die kompas voor hom.  Toe hy mooi op spoed is, toe vat hy hom bakboord se kant toe.  Dis nogal nie powersteering nie, maar hy hang maar aan die stuur. Toe kap hy ‘n S stuurboordkant toe en hardloop met die stuur soos ‘n hamster in ‘n wiel. Die ander kadette val oormekaar, die commander hang saam met die kaptein se pet aan dieselfde kapstok en die kaptein self steek twee hulpelose hande  na die konsole toe uit, van waar hy teen die mahoniehout muur van die brug vasgepleister is. Toe hy by die bakboord venster uitkyk, vertel Kleintjiepa, sien hy die kiel van die fregat bo die water. Aan die stuurboordkant beland al die los goed  in die water soos wat die dek waterskep. Dit kos vinnig en akkuraat dink om die skip weer level te kry, maar hy kry dit reg...want hy kán. 

Hy sal die Vloot ewig verkwalik omdat hy nie erkenning gekry het vir hierdie maneuver nie! Kort daarna, tydens ‘n awol-naweek probeer hy van sy broer se vinnige Ford Escort ‘n duikboot maak in Skietpad se gronddam en spandeer die orige driekwart van sy dienstyd in II Militêre Hospitaal. Maar ‘n fregat kón hy ry.    

Carine Badenhorst

Kleintjiepa en die fregat

Carine Badenhorst

Exciting news! GansbaaiCourant no longer publishes on paper, but distributes news and advertisements via the GansbaaiCourant WhatsApp news group to a readership of 2179 and growing! Join our group today to stay up to date with the latest happenings in Gansbaai and surrounds. Cost: R300 fo...

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Other Articles

COMING HOME TO YOURSELF

COMING HOME TO YOURSELF

At the heart of all these conversations lies a single truth.

Ready for Adoption - Meet Benso

Ready for Adoption - Meet Benso

Benso is a sweet male dog, about 2 years old, and he is now ready to find his forever home.

BARC Animal Welfare
Daily Blog: 25 June 2026 | Shark Cage Diving in South Africa

Daily Blog: 25 June 2026 | Shark Cage Diving in South Africa

A successful day on the water with plenty of marine life to keep us company at the dive site! 

Finding Clarity in Life: What Do You Truly Want?

Finding Clarity in Life: What Do You Truly Want?

As awareness grows, something interesting begins to happen.

Generator Hire in Gansbaai: Reliable Power When You Need It Most

Generator Hire in Gansbaai: Reliable Power When You Need It Most

Power interruptions can bring work to a standstill, disrupt events, and create costly delays. 

Coastal Hire Gansbaai
Creating Opportunities for Youth

Creating Opportunities for Youth

Today's update from Grootbos Foundation is from the Employability Team...

Grootbos Foundation
See All Articles