Kleintjiepa en die fregat

Kleintjiepa en die fregat

Gansbaai Courant

Kleintjiepa was nie ‘n leerder nie, maar hy was slim. So vinnig as wat hy kon het hy die skool verlaat. Aan sy ma se plaasvoorskoot kon hy nie pal hang nie en ‘n koei kon hy nie melk nie. Die Vloot was die enigste oplossing; die army was te hard. Jare later vertel hy vir (nou) Skoonseun, op naweekpas van Vloot Akademie af, presies hóé dinge daar gedoen moet word. Dit was die kadette se eerste ervaring op ‘n fregat in Simonstad. Party van die ouens was nog nooit op ‘n boot nie, maar hy was mos water gewoond, met die plaatskuit op die waterblomdam en saam met Pa op die roeibakkie buitekant Kleinbaai se hawetjie. Sommer met die aanboordgaan, vat hy die commander aan : “Nee man, jy moet dat die manne die toue hier wegvat, ‘n man kan mos daaroor val.” 

Waarom hulle moes aantree en op aandag staan tot buite die hawe wis hy nie, want daar was niemand in sig nie.  Rondom hom het manne groen in die gesig geraak en een van hulle het sommer op die luitenantjie se wit skoene gekots. Vir hom het hy ook vaderlike raad gehad: “As jy nie die see ken nie, wat kom soek jy hier, man? Jy kom mors net ‘n mens se tyd.”  Toe vat twee offisiere hulle binnetoe. Eerste was hulle by die hangar in waar ‘n helikopter gestaan het.  In die kontrolekamer het sy kop gedraai van al die metertjies en liggies. Dis net bitter slim mense wat hier kon werk; hy het laas in standerd vyf wiskunde deurgekom. 

In die beheerkamer was ‘n afgekampde gebied waar hulle nie mog in nie, want dis waar James Bond en sy manne gewerk het. Dan was daar ‘n arsenaal so groot soos die Kaapse Stasie en dis so vol buskruit in allerhande houers dat mens eintlik nie daar ‘n sigaret wou opsteek nie. Die enjinkamer was vir hom niks snaaks nie, want hy ken Lister en McCormick enjins;  hulle s’n was net groter en skoner as die op die plaas. As daar fout kom,  kon hy darem vir hulle voorsê hoe en wat hulle moes doen.  Die brug was ‘n agtermekaar plek. Alles was gepoets en die ruite was seker spesiaal vir hulle besoek gewas. Lekker gemaklike sitplekke ook. Dit het na sý soort werkplek gelyk. Nadat die commander  gewys en verduidelik het, vra hy: “ Wie van julle dink julle kan hierdie perd ry?”  Die kadette  kyk vir mekaar, maar niemand sê iets nie. Hy, die kleinste outjie,  stamp sy elmboë in die flanke weerskante van hom en beur sy pad tot voor.  “Ek sal hom ry!  Ek ken van boot en ek ken van see. En ek kan ‘n combine ry.” 

Die kaptein beduie vir hom sus en so, vermeerder en verminder spoed, bakboord en stuurboord en gee vir hom die skeepswiel. Hy het die besigheid so gevoel-voel en toe trek hy die throttle oop. Hy steek die fregat se neus suid-suidoos op die kompas voor hom.  Toe hy mooi op spoed is, toe vat hy hom bakboord se kant toe.  Dis nogal nie powersteering nie, maar hy hang maar aan die stuur. Toe kap hy ‘n S stuurboordkant toe en hardloop met die stuur soos ‘n hamster in ‘n wiel. Die ander kadette val oormekaar, die commander hang saam met die kaptein se pet aan dieselfde kapstok en die kaptein self steek twee hulpelose hande  na die konsole toe uit, van waar hy teen die mahoniehout muur van die brug vasgepleister is. Toe hy by die bakboord venster uitkyk, vertel Kleintjiepa, sien hy die kiel van die fregat bo die water. Aan die stuurboordkant beland al die los goed  in die water soos wat die dek waterskep. Dit kos vinnig en akkuraat dink om die skip weer level te kry, maar hy kry dit reg...want hy kán. 

Hy sal die Vloot ewig verkwalik omdat hy nie erkenning gekry het vir hierdie maneuver nie! Kort daarna, tydens ‘n awol-naweek probeer hy van sy broer se vinnige Ford Escort ‘n duikboot maak in Skietpad se gronddam en spandeer die orige driekwart van sy dienstyd in II Militêre Hospitaal. Maar ‘n fregat kón hy ry.    

Carine Badenhorst

Kleintjiepa en die fregat

Carine Badenhorst

Gansbaai Courant provides the Gansbaai community with the latest in news and interesting stories about and around the area.

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Other Articles

Fenominale Franskraler - Natalie Louw

Fenominale Franskraler - Natalie Louw

Skilder, skrywer, digter, beeldhouer, fotograaf, skut, liefde vir renmotors, Kayalami-ritte, blinde navigasie betrokkenheid, landloop-skeidregter, vryskutjoernalis, rubriekskrywer...

Gans-Berg Nuus / News
Grootbos Wins Gold for Community Development at WTM 2024

Grootbos Wins Gold for Community Development at WTM 2024

Congratulations to Grootbos which won a GOLD award for Community Development at the World Travel Market.

Grootbos Foundation
Grootbos Wins Gold for Community Development at WTM 2024

Grootbos Wins Gold for Community Development at WTM 2024

We're excited to announce that Grootbos won a GOLD award for Community Development at the World Travel Market.

Afrikanos - ‘First Thursday’

Afrikanos - ‘First Thursday’

Afrikanos, die restaurant, bekend vir sy krokodille, op die dangerpoint-pad, het ‘n bedrywige en gesellige ‘First Thursday’ op Donderdagaand, 4 April 2024.

Gans-Berg Nuus / News
Golf Competition Results for 17 - 21 April 2024

Golf Competition Results for 17 - 21 April 2024

Golf competition results for 17 - 21 April 2024.

Gansbaai Golf Club
SMEG Traditional Kitchen Collection

SMEG Traditional Kitchen Collection

Explore the perfect blend of style and practicality with the SMEG Traditional Kitchen Collection, now in stock at S Herholdt. 

S Herholdt
See All Articles