Uitnodiging aan die leser

Vandag wil ek die leser uitnooi om die dag denkbeeldig saam met my op die boot te geniet. Ek nooi hom saam en hy kan sy plek op die boot self uitsoek  --  ons sal nie eens bewus van hom wees nie.

Ons is die oggend vroeërig op Kleinbaaihawe en ek stop eers sodat ons die see en veral die water by die ingang mooi kan beskou. Alles lyk reg en ons besluit om in te stoot. Die  bemanning weet almal wat hulle moet doen en dit gaan seepglad. (Ek neem aan my genooide gas het sy (haar?) plek ingeneem en sien uit na die dag. Laat ek eers gou my “crew” bekend stel --  ek gebruik denkbeeldige name. Daar is Jan, Bulletjie en Koos, almal manne wat die see ken en my al jare bystaan, so daar is niks om ongerus oor te voel nie. Een van die manne het reeds gevra of die proppe in is, baie belangrik en ‘n vraag wat ek elke keer verwelkom.

Almal het hulle sit gekry en ons begin stadig die hawe uitry. Ek wil eers seker maak dat daar nie ‘n onverwagse brander opstaan nie en dan stóót ek, ons tel spoed op en ons beland in dieper water. Ek stel die GPS en kry koers Wynand se Steen toe, nie ver van Haaisteentjie nie. Die visvinder is nog nie aangeskakel nie, daarvoor ry ons te vinnig. So 2 kilometer voor ons bestemming kyk ek wel of die “fishfinder” registreer. Bo ‘n mooi riffie hou ek stil en sê vir die manne dat hier nie ‘n stroom is nie so ons gaan eers op die dryf vang. Die ouens se lyne is reeds voorberei en ons gooi. Soos gewoonlik vra een van hulle hoe diep dit is en wat is die watertemperatuur. Daar wys geen vis nie, maar die riffie is mooi en lyk belowend. Roman veral wys nie altyd nie. Daar byt niks maar ek wil die ouens se aandag hê en my skielike skree kry van oral reaksie, maar my “amper ‘n byt” laat hulle ontspan. Jan kry skielik lewe en ‘n klipvis kom wys gesig. Dis een van daardie helder rooies en word eers bewonder voor hy toegelaat word om weg te swem. Ons kry kans om die natuur te waardeer. Nee wat besluit ons, kom ons gaan verder, Joubert se Dam toe. Ons gaan weer dryf. Bulletjie mik na die anker, maar ek sê nee. Ek vang twee hotties en ons besluit om weer verder te gaan. Ons kom by die Vlagpaal aan en ook hier word nie anker gegooi nie. Ek is nie verbaas dat hier niks is nie want saans of soggens vroeg, dan……

Die Eiland se robbe raas. Nou het ons ‘n keuse  --  deur die Clyde of reguit, Noorderif se kant toe. Dis toe waarnatoe ons besluit. Ek hoor so onderlangs “Moddergate, Moddergate” maar ek dink nie Koos is ernstig nie.

Ons ry vlak langs die Eiland verby en nou is ons in haaiwêreld met ‘n oorvloed van riwwe. Ou Bulletjie kry kans om die anker te gooi en glo my, hy is die enigste man wat dit verwelkom  --  oefening sien. Daar is dadelik aksie toe die vis begin byt. Groot hotties en’n paar romanne. Ek hou ‘n groter lyn in die water en nog ‘n dryflyntjie ook, met geelbek weet jy nooit, en die dryflyntjie? Noem dit maar vir in geval. Jan se katrol raas soos ‘n kat wat snork, maar die ou vang! Tyd vir koffie en iets om te eet. Almal deel uit en jy het ‘n keuse waaraan jy wil peusel  --  daar’s net nooit werklik tyd hiervoor nie. Ek het nie vergeet van ons gas nie, maar onthou, dié is onsigbaar! Bulletjie vang net met een grootte hoek, dis vir die diksterte, eendag. Koos raak bietjie agter en begin vra watter aas ons gebruik, hoe groot is die hoeke en hoe diep  --  ‘n goeie teken dat hy half moedeloos is. Skielik is daar weer aksie by hom en nou is hy hardekoejawel, “Jy moet net weet hoe!”

Dis maar ‘n baie klein stukkie van die dag se vangery, en na nog heelwat verskuiwery besluit ons dis tyd vir die “sementpad” (hawe). Ek neem afskeid van ons gas en dis huistoegaantyd. Lekker dag gewees. Groete, Seemeeu

Seedinge  2_200x180_crop_100_1