Liefdesmusiek

Wêreldoor sweef die mensdom hierdie maand weer vir ‘n slag op die wieke van die liefde.  Ag, kom ons gun mekaar maar die ou luuksetjie; die res van die jaar gaan tog geen plesierige opwinding inhou nie. Alles wat nuut is, so smaak dit my, is verwoesting, misdaad en ‘n nuwe soort van verneukery. En verbeel ek my, of is die kleur van passie ook nie meer so pertinent soos wat dit tien jaar gelede was nie?  Die kleurpalet van klere en dekor het ook gedegenereer tot die neutrale pastelle van grondkleure: dofgrys, sandvaal, stofbruin. As mense se passie vir die lewe dan so getaan het, hoe sal die rooiwarm passie van liefde dan kan standhou?  Speelskole en kleuterskole speel wel nog rond met rooiversierde kaartjies wat die kleingoed vir hul ouers kan gee op Valentynsdag. Miskien is dit nog die beste manier van liefde kweek: om die vlam van kind-en-ouerliefde aan die brand te probeer hou, al is dit vir een dag van die jaar.

As kind en as tiener en selfs jong volwassene was ek baie sinies oor die woord “liefde.”  Dit was net vir my asof die emosie sinoniem was met verlies en hartseer. My eie romantiese liefdes het soos ‘n lys van klassieke operas gelyk: In Rigoletto was dit Gilda, in La Boheme was dit Mini, in Carmen, syself, in La Traviata het Violetta tragies gesterf en oral het dit gegaan oor die liefde. Aida was darem sllim genoeg om vir Radames in die graf te gaan wag waar hy lewendig begrawe sou word sodat hulle saam-saam die dood tegemoet kon gaan. As gevolg van my sinisme het ek ook nie uit die pad gegaan om Valentyn te probeer speel nie en wanneer ek dit wel gedoen het, was dit gewoonlik met ‘n heel verdraaide intensie. Om alles te kroon kies ek – en dit was seker my verdiende loon vir my sinisme- ‘n man met soveel romanse in hom soos die winddroog harslag van ‘n geslagte skaap. As ek ooit op Valentynsaand met net ‘n blinkrooifrilletjiekousband uit die badkamer sou kom, sou sy reaksie wees: “ Tj! Ek wóú nog jou nagklere van die wasgoeddraad afgehaal het!”

Om tog iets in gemeen te kan voel met Valentynsdag, dink ek graag terug – op my ouderdom is jy geregtig en veronderstel om terug te gaan in tyd – aan vorige romanses en meer spesifiek aan die musiek wat daaraan gekoppel is. Emosie en musiek was vir my nog altyd verweef; ek het ‘n musikale ode vir al wat ding is. Asof dit nie genoeg is nie, fluktueer my sentimentaliteit teen die verskillende tempos en dinamika van musiek: Ek lag in vivace, ek  is kwaad in allegro, ek dagdroom in adagio, huil in fortissimo en onttrek in my eie skulp in largo. My sodanige liefdeslewe het sy eie operatragedies gehad. Daar was die Sugar Pie Honey Bunch  seun wie se ouers my verkwalik het toe hy  as gevolg van asma gesterf het nadat ek ons eensydige “verhouding” verbreek het. Hoe tragies tog die liefdesverklaring van ‘n onderwyser by wyse van Gary Puckett se lied: “Young girl, get out of my mind, my love for you is way out of line, better run girl, you’re much too young girl.”  Ek was te naïef om die skimp te vang, maar toe hy my na matriek kom opsoek met die belydenis dat hy ‘n hele jaar gewag en verlang het om ‘n verhouding met my te begin, het sy verhoog se gordyn net daar en dan gesak, die held se hart met ‘n dolk deurboor. Gelukkig kon ek ook daardie soetsuur van sê-nou-maar-verhoudings beleef. Dis eintlik oor hulle wat ek nog op Valentynsdag wonder. Sê nou maar hy het my nie verneuk,  sodat hy nie nodig gehad om in sy laaste brief die woorde van Long John Baldry se Let the heartaches begin te skryf nie? 

Ek is nie meer  sinies oor romantiese liefde nie omdat ek Perfekte Liefde geken het, daardie sielsverbintenis oor afstand waarvan flieks gemaak was; daardie onverklaarbare konneksie wat mense nie verstaan nie en selfs as sondig veroordeel.  ‘n Interlude, ‘n permato, ‘n del segno wat op Valentynsdag vorendag kom om my te herinner Love is a beautiful song.  

SuikerBroodenSuurvye 3_200x180_crop_100_1