“Leerders van die Baardskeerdersbos-omgewing het vir baie jare op eie stoom by Laerskool Gansbaai en later ook Gansbaai Academia uitgekom met behulp van ‘n bus wat deur die ouers self aangekoop en bedryf is,” vertel Laerskool Gansbaai se skoolhoof, mnr Eben van der Merwe. Hy sê Laerskool Gansbaai het, op aandrang van hul Beheerliggaam, in 2015 aansoek gedoen vir 'n Departementele kontrak om die Baardskeerdersbos-leerders te vervoer en hierdie aansoek is met ingang van 2016 goedgekeur.
Volgens me Lea Harmse, die voormalige bestuurder van die skoolbus, het die Baardskeerdersbosgemeenskap besluit om die skoolbus aan Laerskool Gansbaai te skenk, aangesien die skool destyds ‘n donasie gegee het as hulp met die aankoop van die bus. Op die foto oorhandig me Harmse die skoolbus aan mnr Van der Merwe.
“Baie dankie aan die Baardskeerdersbos-gemeenskap vir die skenking van die skoolbus aan Laerskool Gansbaai, wat in die toekoms deur die skool bedryf sal word,” het mnr Van der Merwe gesê. “Tans het nie een van ons personeellede ‘n kode 10-lisensie nie en ons doen ‘n beroep op enige ouer/vriend van Laerskool Gansbaai om ons asseblief te help met die bestuur van die bus (teen vergoeding) na en van sportfunksies soos benodig.”
Belangstellendes kan Laerskool Gansbaai by 028-384-0000 kontak, of stuur ‘n e-pos aan lsg@lantic.net.
Hardus Botha