My ouma is 'n poacher

Vroue is nie gemaak om verstaan te word nie. Hulle is gemaak om al die gebreke wat by ‘n man se geskapenheid ontstaan het aan te vul. En juis as gevolg hiervan moet mans, vir hulle eie gemoedsgesondheid, tog nie so hard probeer om sin te vind in vroue se denke en doene nie. Hulle is net nie daarvoor geprogrammeer nie.

Hoekom maak ‘n man dit vir homself so moeilik deur ‘n vrou te wil stang en toom volgens sy eie idee van ‘n donkie? Maak vrede, Meneer, dat jou volmaakte wêreld so ‘n onvolmaakte sirkel is soos ‘n sekelmaan.  Maak vrede en wees dankbaar vir die toevoeging in lewenswaarde wat jy eens voor ‘n kansel (hopelik) jou kop voor geknik het omdat al die speeksel in jou mond opgedroog het en jou droë stembande nie ‘n geluid kon uitkry nie. 

Jy het iets vermag: jy het ‘n vrou getrou. Jóú vrou. Saam maak julle ‘n nuwe span. Ongelukkig was daar geen afrigter wat jou voorberei het dat hierdie glibberige skrumskakel  eerder haar eie drieë gaan druk  en nie goedsmoeds die bal uitgee sodat jy as vleuel kan oorduik en die applous kan ontvang nie. Waar is jou spangees? Wat het geword van jou bewondering oor haar taktiese spel om te verhoed dat die bal weereens tussen losskakel en senter verlore gaan?

Gee jou vrou die nodige krediet wanneer sy ‘n gaping vat wat jy nie gesien het nie en punte ingebring het vir julle tweemanspan. Bewonder haar, spring om haar lyf soos ‘n sokkerspeler en vryf haar hare deurmekaar van lekkerte. Sy het die punte vir júlle gewen, nie vir haarself nie. Moenie ‘n dibekvleuel met hope onbruikbare spoed wees nie; beweeg nader aan haar. Gaan speel senter. Sorg dat jy van daardie punt af die bal kry en gaan druk jou drie vir julle span.

Ek is ‘n waarnemer. So geskape, nie so geword om te loop en skinder nie. Só is dit opmerklik hoe  vroue – myself inkluis – oor jare heen verander. Enetjie kom as jonggetroude vroutjie op die dorp aan met granny print rokkies, die hoë kragies en lang, skaapboudmoue met katoenkantjies afgewerk, tot om die kuitlengte some. By die tyd as haar kinders in die hoërskool is, dra sy uitgerafelde demin kort-kortbroekies en hoëhakskoene  en nog tien jaar later raak sy so normaal soos die res. Hulle spandinamika het verander soos wat die man deur sy jeukjare gevorder het. ‘n Ander een raak die beeltenis van haar man se groeiende sukses. Jaar vir jaar dra sy  die nuutste modes vóórdat dit nog behoorlik deur doeane is en haar vingers trek krom van al die goud en diamante. Haar man het seker vir haar ‘n praalgraf in die Taj Mahal gekoop, want nog is het einde niet.

Gelukkig is daar mense soos Lizzie in my lewe. Van kinds af al die glibberige skrumskakeltjie wat alles self kon vermag. Tot vandag toe , rakend aan die sewentig, trek sy haar skouertjies op, stoot haar boudjies uit en wag dat die bal uit die skrum kom. Haar ou spanmaat is ‘n voorryspeler, ‘n stut om presies te wees. Hulle het ‘n vreemde manier om mekaar van die veld af aan te moedig, maar dit werk vir hulle. Lizzie het hierdie ding oor oud word: haar kop moet pal onder die water wees. En dan trap sy gereeld groot pienk skulpe los en dra dit huistoe. Sommer so met ‘n stuk van die see se fondasie nog vas aan die skulp.

Sy vertel my onlangs van een van haar kleinkinders wat gatvol geraak het met ‘n maatjie wat gedurig oor haar ouma gespog het en toe snipperig haar klip in die bos gegooi  het: “My ouma kan naaldwerk doen en bak en sy wen VLV pryse.”  Die ouer sussie het nie gedink dis veel van ‘n prestasie nie. “Nee man, dis nie goed genoeg nie, jy moes gesê het jou ouma is ‘n poacher!” Lizzie se stut-spanmaat verstaan niks van sy vrou se kop-onder-die-water-liefde nie, maar hy sit getrou op die rotse om te kyk dat sy meermin nie diepsee toe werk nie. Hy hoef nie te verstaan nie; dit is die geheim van spandinamika van die veld af.

Carine Badenhorst

SuikerBroodenSuurvye 3_200x180_crop_100_1