Trap water, dryf, moet net nie swem nie!

Trap water, dryf, moet net nie swem nie!

GansbaaiCourant WhatsApp Nuus / News

My ma was erg akwafobies.  As kleuters was ons stêre kwalik onder water as ons gebad het.  Ons mag nooit met water gespeel het nie, want ‘n kind kan in ‘n piering met water verdrink.  By die see het sy met haar rok aan plat op die nat sand saam met ons kastele gebou, nooit sonder die haarnet om haar hare te pantser teen die seelug en sproeiwind nie.  Soos ons groter geword het, was ons tot die watersoom toegelaat waar Pappa met sy visstok gestaan het.  Elke jaar het ons ‘n duim dieper in die water gevorder, eers tot by die enkels, toe tot by die kuite,  tot by die bobene, tot by die lieste en uiteindelik tot by ons middellywe. Maar toe gaan Pappa dood en ons was weer soos visse op droë grond.  Totdat ons halsstarrig geraak en skelmpies saam met vriende se kinders leer swem het in hulle leidam, terwyl Mamma by die werk was. Toe die aap uit die mou gelaat was, het sy een asemsnak gegee, haar keel vasgegryp en na ‘n paar sekondes van stilte, ons lewens in die hande van haar boesemvriendin gelaat, solank as wat niemand verwag het dat sy dit moes aanskou nie. Eers toe ons heeltemal watervaardig was, is sy genooi om te kom kyk en amper histeries geraak toe ek eenkant van die dam onder die water wegraak en aan die anderkant eers weer bo die water te voorskyn kom.

Ons kon selfs klippe onder op die boom van die dam uitduik. Ons kon swem! In ‘n leidam! Dit was net so goed as wat dit is om ‘n bestuurslisensie te kry; dis net die begin van die eintlike leerproses. As vergoeding vir ons prestasie word ons een Sondag op ‘n uitstappie na Hermanus trakteer waar ons in die Riviera Hotel se blou swembad gaan swem, uitgedos in ons eerste gekoopte baaikostuums. Myne was bloedrooi met wit kant om die hals-en ruglyn. Hierdie swembad was egter so groot dat ons met ons leidamfiksheid te bang was om breedte van die bad aan te durf. Ons het maar so oorhoeks geswem en aan die rand gehang na die diep kant toe. Ons kon swem, maar het nog niks geweet van dryf of watertrap nie.  Ons het ons self geleer, by wyse van die voorbeeld van swemmers in die African Mirror voorprente in die bioskoop en hulle het nooit gedryf nie. Hoe die meisiekinders die pragtige waterballet gedoen het, was ‘n enigma. Dié dag op Hermanus het daar ‘n ou oom op sy rug in die water gelê, sy arms gesper. Ek was bang die oom was dood, maar nee, vertel die grootmense my, hy dryf. Na vier of vyf slukke water – daar was gelukkig nie dooie muise en rotte soos soms in die leidam nie – het ek dit baasgeraak. Watertrap het ek desnoods ontdek toe ‘n hoogwaterbrander my van die agterste muur van L’Agulhas se swembad afgeslaan het en die tweede een my getref het voordat ek behoorlik in ‘n posisie was om aan’t swemme te kon kom. Óf  dit óf desdoods, verstik aan soutwater. Vandag is ek dankbaarbly dat ek kan dryf en watertrap, want dit is die enigste reddingsgordel wat die lewe mens aanbied. Dis stormwater daarbuite. Ewige hoogwater, dag-en-nag-ewening, tsunami. Rof.  Uit die Parlement uit sê hulle: “Trek julle belte stywe” terwyl die banke en geldleners nooi: “Kom kry vir julle krediet, ons keur ‘n lening binne 24 uur goed.” Ou skuld en administratiewe en finansiële wanbestuur klap menige mense tussen die blaaie.  

Mense verloor hulle inkomste op ‘n daaglikse basis en die wat gelukkig is, beding of word ‘n pakket aangebied. Dit gebruik hulle om ‘n nuwe besigheid te begin, sonder behoorlike navorsing en beplanning. Niemand lees vir hulle die fynskrif nie. Eerstens moet jy jouself kan verkoop voordat jy kan dink om jou produk te verkoop. Tweedens moet jou kapitaalput diep genoeg wees om vir drie jaar net uit te skep, want dit is hoe lank dit vir ‘n nuwe besigheid neem om op sy voete te kom en te begin wins toon. Trap water, ou! Dryf! Dis nie swemwater dié nie. 

Carine Badenhorst

Trap water, dryf, moet net nie swem nie!

Carine Badenhorst

Exciting news! GansbaaiCourant no longer publishes on paper, but distributes news and advertisements via the GansbaaiCourant WhatsApp news group to a readership of 2179 and growing! Join our group today to stay up to date with the latest happenings in Gansbaai and surrounds. Cost: R300 fo...

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Other Articles

COMING HOME TO YOURSELF

COMING HOME TO YOURSELF

At the heart of all these conversations lies a single truth.

Ready for Adoption - Meet Benso

Ready for Adoption - Meet Benso

Benso is a sweet male dog, about 2 years old, and he is now ready to find his forever home.

BARC Animal Welfare
Daily Blog: 25 June 2026 | Shark Cage Diving in South Africa

Daily Blog: 25 June 2026 | Shark Cage Diving in South Africa

A successful day on the water with plenty of marine life to keep us company at the dive site! 

Finding Clarity in Life: What Do You Truly Want?

Finding Clarity in Life: What Do You Truly Want?

As awareness grows, something interesting begins to happen.

Generator Hire in Gansbaai: Reliable Power When You Need It Most

Generator Hire in Gansbaai: Reliable Power When You Need It Most

Power interruptions can bring work to a standstill, disrupt events, and create costly delays. 

Coastal Hire Gansbaai
Creating Opportunities for Youth

Creating Opportunities for Youth

Today's update from Grootbos Foundation is from the Employability Team...

Grootbos Foundation
See All Articles