Geelbek in die nag

Ek gaan hard probeer om vandag se bydrae so kort as moontlik te hou, maar dit gaan moeilik wees  --  lees asb. en oordeel self waarom.

Vir enige persoon wat bereid is om die aand op ‘n boot deur te bring net om te kan visvang, beteken dit hy moet dit in die eerste instansie kan geniet en hy moet die “guts” daarvoor hê. Indien dit op ‘n kommersiële boot gebeur is daar tog ‘n bykomende faktor, dit kan dalk winsgewend wees. Kom ons konsentreer liewer op die sporthengelaar en beskryf sy nag op die blouwater. Eerstens moet die skipper seker maak dat die manne wat saamgaan entoesiasties daaroor is en dit sal kan vat. Hulle sal almal weet wat benodig word  --  buiten die regte hengelgereedskap ook ‘n ordentlike lig, vars aas (verkieslik), toepaslike klere, want jy is nooit seker hoe koud of dalk warm dit sal word nie. Genoeg kos en drinkgoed, en sommer baie moed. Dan moet jy die volgende in gedagte hou: die sporthengelaar mag net 10 vis aan boord hê, en slegs twee daarvan mag geelbek wees  --  en die kanse is groot dat daar vir geelbek probeer gaan word. Hopelik kom loer die kabeljou ook wat aangaan! Die skipper weet dat hy verantwoordelik gaan wees vir die welstand van sy “crew” en sal seker maak dat die weersomstandighede reg is. ‘n Helder maan, die regte wind en kalm water wanneer jy dit see in waag, asook dat die omstandighede die volgende oggend nog aanvaarbaar sal wees. Hopelik is die gerugte van die vis wat byt, korrek.

Met nog ‘n flentertjie son oor is jy en die manne op pad na waar jy dink die vis gaan uitslaan, en dit sal ‘n plek soos Geelbekgat of dalk die Huisbaaitjie wees. Jy moet nog deur die Clyde en dan moet jy met die boot gaan lê op ‘n gat waar jy die aand veilig kan deurbring  --  dis waarop jy en die manne julle voorberei in elk geval. By Geelbekgat het ek as deel van ’n “crew” al baie tye deurgebring. Dit was aangenaam om die ander bote om jou waar te neem en elke keer as ‘n vis die boot ingelig word, die skop van sy stert te hoor. Maar vanaand werk dit anders, by hierdie gewilde plek gaan daar nou niks aan nie, en die water lyk ook nie reg nie. Maar ons gooi anker en vir ‘n tydjie word alles probeer, met geen sukses nie. As skipper besluit ek dus ons gee pad hier, en gaan liewer Vlagpaal toe, met hierdie water sal dit veiliger wees.

Dankie vir die GPS want ons kom  veilig daar aan. Daar het wolke inbeweeg voor die maan en ons gooi anker met die doel om die aand daar deur te bring. Onthou, dit gaan nie oor die getal vis wat jy vang nie maar wel oor die opgewondenheid om een grote aan te keer. Dis nou al baie donker en die kopligte word ingespan om darem sig te hê. Die grappies word al minder en slegs klein kabeljoutjies word ingelig en maar weer vrygelaat. In die lig sien jy die baie babers  om die boot dryf. Ons word al stiller. Van die eiland se kant hoor jy die branders breek en nou en dan kom ‘n swelling onder die boot deur. Nie juis gerusstellend nie. Die robbe raas. Ek weet egter ons is veilig daar. In die donker veral moet jy altyd bedag wees op die onverwagte. Die aand het al ver gevorder en steeds is daar nog niks om oor opgewonde te raak nie. Tog probeer ons baie hard om die ou grote aan te keer.  In die koplig probeer ek kyk hoe die manne reageer en John, hier agter my laat my dink aan een van die geboue wat met plofstof plat met die aarde gevee word, êrens op die vloer van die boot, tussen al daai goed, lê die ou opgekrul, maar sy lyn is steeds in die water! Die ander twee manne is ook êrens weet ek, maar hulle kan ek glad nie onderskei nie.

 Dis toe een van hulle baie hard skree oor ‘n vis wat kom vat het en die manne probeer in aksie kom. Onthou tog dis nie jongmanne nie en hulle het al baie myle op.  Een van ons gaan ‘n kramp kry of ‘n rug gaan begin kla, maar daaroor gaan later besin word  --  hier kom ‘n geelbek! Die manne wag in spanning en almal wonder of daardie nr. 10 hoek sal hou. Die lyn kraak waar dit oor die gondel getrek word, en die vis kom nader. In die lig kan jy sien hoe die mooi geelbek die water breek en dan opgelig word. Indien nie enige van ons nou ‘n hartkwaal kry nie sal ons nog jare hou!! Daardie paar sekondes toe die vis deur die lug trek en voor hy op die dek beland word glad nie asem gehaal nie, en toe bars alle hel los soos die manne opgewonde skree. Daardie kenmerkende geraas van die stert op die vloer, wat kan mooier klink?

Dit was ook al ordentlike vis wat die aand in die boot beland het en na nog ‘n uur of wat is saam besluit om maar liewer in jou eie bed te gaan slaap. Dankie weer eens vir ‘n GPS en ons is in die donker Kleinbaaihawe toe en met die boot veilig op die sleepwa en dankbaar om weer op vaste grond te wees, huis toe.

Met die wakker word later die oggend is nogtans verlangend gekyk na die water. Manne, ons maak binnekort weer so.

Groete, Seemeeu

Eddie Bester en sy skoonseun, Jacques, met van die makriel waarvan daar nou baie gevang word.