Moenie sommer aanvaar nie

Dis ‘n pakket. Die see en alles wat daarmee saamgaan, hengel, duik, ens. Dan die sonsondergange en die natuurskoon wat daarmee verband hou. Klink of dit alles maar deel van die daaglikse bestaan is vir sommige mense en net somtyds is ‘n tydige verwysing in die haak. Om ‘n vakansiehuis te besit of nog beter, permanent hier te bly, is een van daardie besonderse voorregte wat nie almal beskore is nie en as jy wel in daardie groep val is dit net logies dat die besef van die realiteit met tyd so bietjie sal taan.

Ek probeer nie nou daarop wys dat die voorreg van die verblyf hier nie meer dieselfde beteken nie, maar ek gaan wys wat dit vir my beteken en dalk roer dit ‘n snaar in iemand êrens om opnuut weer waardering te toon.

Terwyl my vrou haar verlustig in tuinmaak en ek ook vrywillig daarby betrek word, bestaan my belangstelling meer in alles wat met die see te doen het. Ek is beslis geen digter of skilder nie en musiekmaak is ook nie een van my goeie punte nie. Hieroor is ek baie spyt want hoeveel keer al wou ek nie uiting gee aan my gevoel nie! Om dan nog boonop ‘n lied daaroor te kon skryf sou hemels wees. Nie dat ek nog nie probeer het nie, maar ek besef waar my tekortkominge lê. Kom ons kom bietjie by die voorregte. Hou net in gedagte dat nie elke dag perfek kan wees nie, maar elke dag is iets spesiaals. Daar is tye wanneer dit baie reën of die wind so waai dat see toe gaan onmoontlik word en selfs hierdie faktore iets word om te bewonder. Wie het nie al rustig in die huis verkeer net om die harde geruis van die reën op die dak te hoor met winde wat grens aan ‘n storm nie. Buite sien jy hoe die see wilde branders die lug in stoot. Sulke tye, wanneer jou see-toe-gaantyd onderbreek word, kry jy kans om alles weer te bewonder. Dis dan wat jy besef dat daar ‘n Hoërhand is en jy respek moet toon. En wanneer hierdie elemente verby is wil jy met nuwe ywer weer see toe.      Nie elke dag is natuurlik ‘n visdag nie. Daardie tye kom wanneer, vir een of ander rede, die vis net nie wil byt nie. Na so paar keer se gaan en met omtrent niks in die sak nie, sak jou moed maar laag, maar een ding bly soos ‘n paal bo water --  ‘n dag op see is altyd iets besonders. Selfs daardie tye wanneer toestande op see onaangenaam word en jy later bly word dat jy veilig terug op land is, is buitengewone omstandighede en steeds iets om te waardeer.

En daardie sonsondergange, nooit dieselfde nie! Die volgende dag, om een of ander rede indien ek nie see toe is nie kry ek kans om saam met van my vriende ons tuin te geniet. En weer eens die seeuitsig te waardeer. Dis dan wat die kopstories gesels word en my vrou terselfdertyd die kans kry om my daaraan te herinner dat die nuutste tuinhuisie nog gebou moet word.  Sê mos dis ‘n pakket!

Groete, Seemeeu 

Een van die groot genietinge, wat is rustiger as om lyn nat te maak by die Gruis?