Frustrasie vir die hengelaar

Dat so ‘n klein dingetjie jou so kan frustrreer is amper ‘n onmoontlikheid. Boonop is dit iets wat as noodsaaklik (of amper!) beskou kan word.  --  rekgare. Die manne met die lang stokke maak gewoonlik heelwat hiervan gebruik en veral vir hulle is dit al deel van die hengelgereedskap. Meestal gebruik hulle groter hoeke en kan die rekgare redelik maklik verwyder word. Vanaf die boot word die sakie meer kompleks. Hier moet ek eers melding maak van die feit dat slegs die dikker weergawe van die rekgare vroeër beskikbaar was en die baie dunner “spookgare” intussen sy opwagting gemaak het en onmiddelik  gewild was, juis oor die fynheid daarvan.

En dis net hier waar my frustasie begin  --  met die spookgare en die relatief kleiner hoekies. Ek gee toe dat, veral die spookasem-weergawe baie handig te pas kom wanneer jy wil verseker dat jou aas aan die hoek bly.  Daar bly egter altyd ‘n flentertjie gare op die hoek agter en jy sit maar weer by. Iemand gaan sê nou hoekom gebruik jy nie ‘n skerp mes om die goed los te sny nie? Te veel al het ek my hoeke per ongeluk afgesny. In elk geval, teen huistoegaantyd hang daar iets aan die hoek wat herinner aan die ou tyd van “ducktails” of iets wat soos ‘n bossiekop lyk. Wanneer jy nou by die huis aankom en uiteindelik tyd kry om jou lyne voor te berei raak dit haas onmoontlik om hierdie klossies gedroogte spookasem van die hoeke te kry. Dan is die beste raad om maar met nuwe hoeke te vervang en die oues weg te gooi. Dis teen my beginsels! Dalk doen ek iets verkeerd.

‘n Man moet nou versigtig wees. Hierdie gewoonte om spookasem te gebruik raak ‘n sensitiewe saak  --  amper vergelykbaar met die oorlog wat ontstaan wanneer jy inmeng met buurman of jou beste vriend se metode van snoekbraai, of nog erger, die maak van potjiekos. En moet hom ook nie probeer oortuig watter hout vir watter braai gebruik moet word nie!!

Groete, Seemeeu

Albert van der Merwe is Donderdag met sonsak na Stanfordsbaai met die idee om vir ‘n ordentlike haai te hengel, en daarvoor het hy sommer twee sardyne as aas gebruik. Na sowat ‘n uur kry hy die verwagte byt en na so vyf minute se gespook is dit toe ‘n mooi witsteenbras wat bo die water verskyn. Sy hengelmaat is kransaf en het die lywige vis aan die kieue beetgekry (want die gaffel lê mos by die huis!). Dis net toe dat die vis losruk, maar na ‘n ordentlike gespartel lê die steenbras op die wal en na die binnegoed verwyder is weeg hy toe steeds agt kilogram.