Is dit weer tyd van die plae?

 “Wanneer begin Pa dan vir ons aartappels plant?”  Dis Meisiekind se versugting so tussendeur haar en Pa se alewige gemor oor kospryse.  Ek luister met ‘n halwe oor, want ek is te besig om ‘n nuwe kosinnovasie op die proef te stel.  Dit is my hantering van die prysdilemma en dit is ‘n heerlike uitdaging  met groot satisfaksie.  Dis nou naar om dit te noem – my ma het altyd gesê ‘n mens tel nie kos af nie – maar ek maak maar kos met die sompompie in my kop.  Selfs ‘n knippie sout en ‘n skeutjie neut het ‘n geldwaarde.  So ook die gas, krag en brikette.  My handige man het ‘n  netjiese skottelbraai wat vir die ashoop bedoel was, van iemand se agterplaas af huistoe gebring en gerestoureer. Dit wat stukkend was, was so miniskuul dat ek glad nie eens kan onthou wat dit was nie. Splinternuut met ‘n blinkswart koepeldeksel en ek dink dis ‘n heerlikheid op wieletjies. 

Op ‘n koue dag sleep ek hom tot in die klein kombuisie en  pak hom met ‘n eenskottelgereg vir aandkos.  Ek het ‘n idee dat hy in die diepwinter sommer  die doel van ‘n galley blik kan dien: verwarmer, kooktoestel, kleredroër, die lot.  Heeldag en sonder dat ek skuldig hoef te voel elke keer wanneer die  radio omroepers ons vermaan om krag spaarsamig te gebruik. ‘n Mens moet vandag se dag jou flikkerligte aansit en verbygaan by hierdie  swaar vragte voor jou wat jou  momentum steur en jou passie vir die lewe terughou.  Geen horlosiearm staan vir een van ons stil nie en tyd is net te kosbaar  om pal agter in die tou van verdrukking te wees. Nee, jy moet uitstyg en hoër vlieg  as die omstandighede wat jy nie eens geskep het nie en ook nie binne ‘n oogwenk kan omkeer nie.  ‘n Mens moet maar hand in eie boesem steek en die stormwater van jou beperkings aanvat.  Al het jy net ‘n stok in die hand en al word jou hele lyf nat,  anderkant moet jy kom, anders vat die rivier jou weg  en tol jou teen ‘n klip van swaarmoedigheid vas.  Maar die aartappels!  Dáár gaan ons nie sommer verbykom nie. 

“Nee!” sê Pa. “Ek plant g’n weer aartappels nie; die molle dra alles weg.”  Ek verstaan heeltemal. Sowat van ondergrondse  diefstal het ek nog nooit sedert die laaste aartappeltuin ervaar nie. Ons hou nie van ‘n giftuin nie en het alles en nogwat probeer, maar skielik was daar niks meer waarvoor molle wou skrik nie. Die Cokebottels met die vlerkies tjirrrrrrrrrrr jou snags in ‘n ander dimensie in. Klaarblyklik het hulle gedink die hondebolle wat in hulle tonnels beland het, was malvapoeding.  Die rookpille het gemaak dat hulle  soos junkies langs ‘n graffitimuur gelê en rook uitblaas het  en die knoffelgegeurde kookolie kon ek maar eerder gehou het om chips mee te maak – van winkelaartappels.  Dit was egter ook nie die enigste pes nie.  Een of ander nagsluiper het die kropslaai vol gate gevreet. Bedags  was hy weg, met net sy mis wat hy vermakerig as bewys gelos het. Die voëls  het hulle daaglikse versnaperinge in die wit blommetjies van die boerboontjies gevind, sodat daar skaars ‘n kooksel bone geoes kon word. 

Toe kom die brommers, soos gewoonlik nadat die vakansiegangers vertrek het,  maar hulle het heelwat langer versuim as laasjaar.  En nou is dit miere. Sulke klein, vaal miertjies wat onder die grond uitkom..Eintlik weet hulle gladnie wat hulle soek nie, want hulle skarrel herwaarts en derwaarts op soek na iets. Nie eens ordentlik in ‘n ry soos die gewone swart miere nie. Só oordadig is hulle, dat hulle oral langs die vloerlyste hopies sandgrond uitstoot.  Hulle skrik vir niks! My rug is in spasma van met borsel en skoppie hopies opvee, maar hulle dop net elders uit. Soos dit nou gaan kan hulle die huis se mure rondom ons wegdra. Dan nog muskiete!  Hulle het net geen einde hierdie jaar nie.  As ek nie geweet het dit is die jaar 2016 nie, sou ek kon dink dit was die tyd van Egipte se plae. Of is dit dalk?  Weer? 

Carine Badenhorst

SuikerBroodenSuurvye_3_200x180_crop_100_1