Nog ‘n week is verby en weer eens kan nie gekla word oor vangstes nie hoewel die manne wat hoopvol bly vir geelbek nog so rukkie sal moet wag. ’n Paar klein snoekies het ook die aas gevat. Wat verblydend is is die groot verskeidenheid vis wat ongelukkig slegs per boot bereikbaar is. Daar is darem ook uitsonderlike vangstes gemaak, kyk bietjie na die meegaande foto’s.
My groot “lekkerkry” was toe ek iemand op die boot gehad het vir wie dit, kan jy maar sê, ‘n eerste keer was, laat staan nog die visvangery. Dan was die man nog nuuskierig en het alles bevraagteken -- hoe hou jy die boot op koers -- hoe werk die GPS, hoekom maak jy die anker op twee plekke vas? Wat se vis is dit en kan ek vat aan hom? Hoe werk die “fishfinder” en is dit ‘n rowwe see? (Miskien was hy maar net versigtig, in dié stadium). Die stukkie waar ek hom laat stuur het (weet jy moet eintlik nie, maar hy het so mooi gevra, en ek het streng toesig gehou), was sy genot iets om te aanskou. Moenie dink die man is onnosel nie, hy is ernstig aan die studeer. Dit laat jou ook bietjie dink, sommige goed aanvaar jy mos as vanselfsprekend en illustreer maar net wat ondervinding vir jou kan beteken.
Daar was nog twee ander manne by, waarvan die een redelik hard “gebrul” het. Hy was nogtans baie dankbaar vir die geleentheid om op see te kon kom. Die derde outjie het ernstig gehengel en heel goed gevaar. Ek dink hy gaan sorg dat die ander twee die vis skoonmaak!!
‘n Heel aangename dag gewees.
Groete, Seemeeu