Willem Appel

William Thomas Appel (82), beter bekend as Willem Appel of sommernet Oom Appel, is op 2 Desember 1933 in Bosstraat (nou Caledonstraat), Stanford gebore.

Hy staan bekend as “Stanford’s memory keeper” as gevolg van sy entoesiasme vir die dorp se geskiedenis en storie-vertellers. Willem spandeer die grootste deel van sy lewe deur die gemeenskap van Stanford te dien. Hy kom uit ‘n gesin van 7 kinders en het in Stanford grootgeword, skoolgegaan en ook skoolgehou tot en met sy aftrede in 1993. Hy deurloop Sub A in die Anglikaanse Kerk in Stanford en standerds 4 tot 6 in die St Thomas Skool in Skoolstraat, wat later jare De Bron Laerskool geword het. Vanaf standerd 7 is Willem na Genadendal se Morawiese Kerk waar hy in 1950 matrikuleer. “Na skool was ek vir 2 jaar in Roelandstraat,” vertel hy met ‘n ondeundheid in sy oë. “Toemaar, ek was nie daar in die tronk nie, maar het onderwys vanaf 1951 tot 1952 aan die Hewit Opleidingskollege studeer.” Daarna keer hy terug na Stanford en begin sy onderwysloopbaan se eerste 20 jaar in 1953 in die ou skoolgeboutjie. Gedurende 1980, toe hy alreeds skoolhoof was, moes hy sy derde jaar aan die Bellville Opleidingskollege voltooi, aangesien die destydse Onderwysdepartement toe met ‘n 3 jaar diploma vereiste begin het. Willem het vir sowat 20 jaar in Stanford as skoolhoof gedien en in 1993 afgetree - ‘n volle 40 jaar in die onderwys, met al 40 jaar net in Stanford!

Op 26 September 1964, sowat 51 jaar gelede, tree Willem met Magdalene (Engel) (71), ook ‘n afgetrede onderwyseres in Stanford, in die huwelik. “Sy is heelwat jonger as ek, maar ek is dankbaar vir ‘n wonderlike en gelukkige huwelik oor vele jare heen,” het Willem gesê. “Die huwelik was vir soveel jare gelukkig omdat ek niemand beter as sy kon kry nie.” Hy spog dat Magdalene in standerd 1 was toe hy begin skoolhou het en dat sy by hom skoolgegaan het! Vier kinders, 2 seuns en 2 dogters, is uit die huwelik gebore: Anita (51), David (48), William (43) en Madelein (42), met altesaam 9 kleinkinders en 1 agterkleinkind vir Willem en Magdalene. Hy is ‘n selfopgeleide fotograaf wat sy lewe lank foto’s geneem het en ook self ontwikkel het voordat digitale kameras oorgeneem het. In die sestigerjare het hy vir baie jare deeltyds vir Die Burger gewerk deur berigte te skryf en foto’s te neem. “Meeste van die tyd was dit rugbyfoto’s en -berigte, met mnr Crafford van Kleinbaai wat dit Sondae by my opgetel het en saamgeneem het Kaap toe,” vertel hy.

Dan was Willem ook baie lief vir hengel van die kant af gewees, “veral by Die Plaat met sy lekker galjoene, maar ook by Die Damme waar ek ‘n vakansiehuis het.” Die bedrywige man was ook deel van die destydse Suid-Afrikaanse Rugby Federasie, waar hy onder andere vir baie jare as visie-sekretaris gedien het en ook vir etlike jare as ‘n knap skeidsregter bekendgestaan het. Hy het self ook vir die SA Rugby Federasie as flank uitgedraf en vir Stanford Rugbyklub as 8ste man tot op ouderdom ±35 jaar.

Hy dien ook op ‘n stadium as Raadslid in Hermanus. Tussen die skoolhouery deur, asook ander aktiwiteite, het Willem ook nog voor sy troue gedurende naweke en vakansies as “wynkelner” by die Riviera Hotel in Hermanus gewerk. Daar het sy spesiale mengeldrankies (“cocktails”) bekendheid begin verwerf. “Ek het dus drankies gemeng en met drank gewerk, maar ek het dit nooit leer drink nie!” sê Willem. “Wat rook betref, het ek nooit weer probeer rook nadat my onderwyser, Edward Bell, my in standerd 3 uitgevang het en my gedwing het om sy sigarette te eet!” En sy gesondheid op 83? “Ek beskou my gesondheid as in ‘n redelike goeie toestand en ek loop steeds baie, behalwe net dat ek nou begin oud word,” is Oom Appel se antwoord. Hy stap steeds baie graag, maar nooit ooit sonder sy groot en bekende kamera in sy hande nie.

Met verwysing na sy kamera, is die volgende in ‘n geraamde huldeblyk teen die muur is sy sitkamer geskryf: “He keeps a memory file of photographs he has taken of Stanford residents. He’s taken snapshots his whole life and his portraits of people are honest and simple, standing out amongst the photos of proteas and mountain views. Meneer Appel is a special part of Stanford, and he is its memory keeper.”

Hardus Botha

Willem Appel en sy eggenote, Magdalene in hul netjiese sitkamer in Stanford
Profiel