Die weer wat ons gehad het moes eenvoudig vir geelbek sorg en steeds was daar niks, of meer korrek, baie min. Die patroon wat normaalweg gevolg word na sulke weer is dat die skippers met bote wat dit kan waag selfs voor die weer verander see toe gaan en gewoonlik sukses behaal. Kom ons soek vir ‘n paar redes waarom nie -- die weer kon dalk net te lank aangehou het, maar ek self twyfel daaraan.
Dan, ‘n beter rede, die see was so ‘n groenerige kleur. Dit klink nie reg nie. Die waterremperatuur was teen Maandag ideaal en 15 grade moes gehelp het. Teen daardie tyd was die sleg kleur ook weg, maar steeds geen geelbek. Wat eienaardig is is dat selfs die hotties skaars was. Gelukkig het die mooi rooivis opgemaak daarvoor. Watter ander redes behalwe dié reeds gemeld kan gevind word vir die skaarste aan vis? Dit los ek maar vir iemand wat beter oor die goed kan spekuleer.
Maandag lê ons redelik diep agter die Birkenhead en die water is heel aanvaarbaar. Dit het half onvanpas gelyk, maar die stroom was redelik sterk, en toe gebeur iets wat ek self al dikwels oorgekom het. Een van die manne op die boot skree soos ‘n maer vark. En met reg want dis toe sy stok met gereedskap en al, oorboord verdwyn. Ek betwyfel of ‘n vis verantwoordelik was daarvoor. Ek dink dit was die stroom se skuld. En soos gemeld, ek was al dikwels die slagoffer. Daar is net een raad, hou die stok in jou hande en selfs al doen jy dit wees bedag op die onvoorsiene. Sit jou stok neer en maak tog seker deur hom vas te pak dat die stok nie oorboord sal verdwyn nie -- maar onthou die vis laat die stok bokspring en dan help die vas pak dalk nie! Ai mens treur darem baie as so iets met jou gebeur want jy word lief vir jou gedoentes. Dis waarom daar in die gesoute hengelaar/visserman soveel stokke aan die garagemuur hang!
Toe maar, die vis gaan nog kom.
Groete, Seemeeu