“Gryp die Dag” is die sinvolle betekenis van Carpe-diem. Twaalf studente het die kursus van Carpe-diem Opleidingsentrum onder leiding van Suster Iréne de Waal suksesvol deurloop. “Ses van hierdie studente het reeds werk gekry en dít is waaroor die opleiding gaan - om werkskepping daar te stel,” sé Iréne.
Jan Naudé het die oorhandigingseremonie op gepaste wyse geopen. Iréne het die eed van Florence Nightingale aan die studente voorgelees terwyl elke student ‘n brandende kersie in die donker saal vasgehou het.
Magrieta Adams, Bestuurder: Silwerjare Dienssentrum en Oak Grove Nasorgsentrum, het die welverdiende sertifikate aan die volgende studente (alfabeties) oorhandig: Aldine Jantjies, Carrol Mbuzeni, Cornelia Jantjies, Ferlancia Plaatjies, Gerda Gibson, Heloise Koert, Kirsten Forry, Lola Thafeni, Luwenda Jantjies, Michelle Tobias, Sarah-Lee Forry en Thembi Ntsukune.
Die Topstudent (teorie en prakties) tydens hierdie kursus, was niemand anders nie as Silwerjare Dienssentrum en Oak Grove Nasorgsentrum se bekende Gerda Gibson. Sy is in beheer van Oak Grove Nasorgsentrum waar sy haarself uitstekend van haar taak kwyt.
Die vorige Topstudent, Minette October het die groep geluk gewens en gesê: “Wie nie waag nie, sal nie wen nie en onthou, ‘n vriendelike glimlag is die beste medisyne wat daar kan wees”. Iréne is ‘n geregistreerde verpleegkundige en assessor en sê daar bestaan ‘n groot behoefte aan werksgeleenthede, veral onder senior burgers en verswaktes wat tuisversorging benodig. “Hierdie studente het deeglike en toepaslike opleiding ontvang en is gereed om ‘n bekostigbare vier-en-twintig uur diens te lewer,” sê Iréne.
Skakel Suster De Waal by 028-212-1138 of 071-125-4704, of stuur ‘n e-pos aan haar by carpe-diem@voda mail.co.za.