Rdl Moira Opperman het onlangs die inisiatief geneem om ‘n Oupa en Ouma Dag vir Blompark Ikamva en Gansbaai Day Care for Children Creche te reël, met die wyse gryses van Silwerjare as gaste.
Die kleingoed het behoorlik aan Elizabeth Kondokter se lippe gehang tydens storietyd.
Die inisiatief volg op die kleuters se Februarie-program wat gehandel het oor oupas en oumas.
Hulle kon dié oggend met ‘n hele klomp oupas en oumas deel en hulle vergewis van die karakterlyne, grys hare en bewegingsbeperking wat ouderdom meebring.
Op hulle beurt, kon die bejaardes inspirasie put uit die energie en opgewektheid van die kleuters.
Suster Helena Geldenhuys het die geleentheid benut om haar gehoor met behulp van ‘n storievertelling in te lig oor MIV/VIGS.
Rdl Riana de Coning het ook die oggend se bedrywighede bygewoon.