Soos bloed

As ‘n ding in jou bloed is, dan is dit in jou bloed!

So meen oom Pilla (Hendrik Daniel) Groenewald op 95-jarige ouderdom. In sy geval is dié bloedding nou visvang. Alhoewel hy nie self meer aktief is nie, gaan hy nog gereeld af na die hawe wanneer die Berggans inkom, gelaai met die jongste vangs.

Die nuwe Berggans wat ‘n pelagiese treiler is en net sardyn, ansjovis  en marsbankers vang, is sowat 15 jaar  gelede gekoop. Van oom Pilla se vier seuns Giellie, Johan, Rikkie en Lafras is net Johan nou betrokke en sy seun, Benito, is tans skipper. Die eerste Berggans wat hulle besit het, het hulle nuut laat bou by Louw & Halvolsen in die Kaapse hawe.

 Soos die gebruik in die visserybedryf is, het oom Pilla van kleinsaf by sy vissermanpa geleer. Eers gewapen met net ‘n stok en lyn, later op klein bootjies met lyne.

Gebore en getoë in Gansbaai, vertel oom Pilla dat daar in sy kinderdae maar 75 na ‘n 100 mense, groot en klein, gewoon het. Vandag volgens statistiek is daar nou sowat 22000 inwoners in Gansbaai.

Al die huisies het toe rietdakke gehad en ja, natuurlik weet hy van Ganzgat se vars water. Hy moes dan self as kind met ‘n paal, waaraan twee hake vasgemaak was, daagliks emmers vol varswater gaan skep vir huisgebruik! Hulle het van die gwarriebosse in die veld afgesny en in die emmers gesit, want dit het verhoed dat die water nie uitslop wanneer hulle bult op huis toe stap nie.

In dié beginjare van Gansbaai is die eerste winkeltjie deur sy ma se broer, Hendrik van Dyk begin en later het sy oom, Danie Groenewald ‘n tweede winkeltjie geopen.

Die vissies wat gevang is was hoofsaaklik harders en twakkies (mooinooientjies). Die bynaam twakkies het gekom van dié mooi silwervissies met hul goue strepies wat graag bamboes geëet het - dan het daar sulke bruin bolle by die bek uitgekom soos iemand wat bruin tabak kou en later uitspoeg.

Die vis is dan kop afgesny, oopgevlek en gesout en die volgende dag afgewas. Daarna is hulle in bondeltjies van 10 aan ‘n kant geryg en aan stellasies opgehang om te droog. Die boere van die kontrei het met hulle perdekarre gekom om dié gedroogde vis vir hulle arbeiders  te koop.

Saam met die twakkies was daar ook klein silwervissies. Hulle is ‘doppies’ genoem en is in klompies van 10, vyf aan ‘n kant opgehang. "Dié vissies was baie gewild, want hulle was nie so vetterig soos die harders nie," vertel oom Pilla.

Andersins is daar geelbek, snoek en kabeljou gevang.

Nou van skoolganery in sy kinderdae is daar nie veel te sê nie. Maar van rugby wel! Die rugby was nie eintlik rugby soos ons dit vandag ken nie. Nee, dit was maar ‘n skoppery so tussen die bossies en sandkolle deur, verduidelik hy.

Oom Pilla is egter die eerste man wat tongvis gevang het.

Nadat nette vir die eerste keer van nylon gemaak is en soveel ligter was as die ander toue, het oom Pilla vir hom ‘n 45vt boot, die Gelderland, gekoop. Die net is uitgegooi en dan elke vier ure opgetrek. Die vangs is by die Korporasie, wat aan die vissermanne behoort het, ingehandig waar dit óf plaaslik vars verkoop is, of Kaap toe vervoer  is om te bemark.

In 1987 het die Berggans groot nuus gemaak deurdat ‘n haai, die grootste nog, in sy net opgetrek is saam met die gewone vangs. So saam-saam het die vissies en die haai versmoor. Die ‘witdoodhaai’ was ses meter lank en het 1,241kg geweeg. Tommy (soos almal hom genoem het na aanleiding van die Birkenhead se sinking), se kake was groot genoeg om ‘n volwasse man met gemak in te sluk.

Tertia Slabbert

Oom Pilla Groenewald met die koerantberigte van 20 Januarie 1987.   Die vangs van die reusagtige ‘witdoodhaai’ soos wat dit destyds genoem is, het  opspraak verwek.
GansbaaiCourantNew_1499418285