PERSPEKTIEF OOR BEPLANDE STAKINGS IN WES-KAAP

Dit is meer as duidelik dat die hernieuede pogings om plaaswerkers te laat staak en die onrealistiese aard van eise wat aan werkgewers gestel word, hoofsaaklik die persoonlike “agendas” van ‘n paar individue/organisasies is en nie in belang van die breër plaaswerkergemeenskap, die landbousektor, die verbruiker of die ekonomie van die land is nie. 

Landbou het van die begin af aan die gesprekke met die verteenwoordigers van stakers, die Departement van Arbeid en die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie deelgeneem en herhaaldelik die realiteite van die sektor aan partye verduidelik.  Agri Wes-Kaap is absoluut verbind tot wettige prosesse, wat die hersiening van die sektorale vasstelling insluit.  Agri Wes-Kaap wil dit ook op rekord plaas dat georganiseerde landbou nog nooit tydens hierdie maandelange gesprekke met vakbonde en ander groeperings weggestap het van die gesprek nie.  Die wanpersepsie deur Cosatu en Bawusa dat georganiseerde landbou van gesprekke geloop het en weier om met rolspelers te praat, is onwaar.

Dit is duidelik dat ‘n wanindruk geskep word in terme van die beplande staking want dit is weer eens ‘n onbeskermde staking binne die huidige wetgewing en werkers wat daaraan deelneem stel hulself aan moontlike dissiplinere optrede bloot.  Die verwagting word ook by seisoenwerkers geskep dat hulle werk teen R150 per dag gaan kry terwyl die realiteit is dat daar heelwaarskynlik, as gevolg van die stakers se optrede, volgende seisoen geen werk vir hulle gaan wees nie.  Dis onmenslik om onkundige mense onder wanindrukke te bring en hulle bloot te stel aan moontlike ontslag en vervolging sou daar gevind word dat hulle die landswette oortree.

Met ‘n hoë werkloosheidsyfer in die land, is dit verregaande dat onverantwoordelike optrede deur vakbonde veroorsaak dat meer mense hul werk kan verloor.  Agri Wes-Kaap het inligting dat werkers deur vakbondverteenwoordigers gedreig is dat daar teen hulle opgetree gaan word as hulle nie aan die stakings deelneem nie. 
Werkers moet egter besef dat daar dissiplinêre optrede teen stakers geneem kan word en dat die “geen werk geen betaling reël” van toepassing is.
Landbou in die Wes-Kaap is ‘n belangrike bron van werksgeleenthede omdat die provinsie groot hoeveelhede vrugte produseer, wat arbeidsintensiewe bedrywe is.  Een van die regering se teikens vir Visie 2030 is juis die skep van 1 miljoen werksgeleenthede in die landbousektor.  Ongedissipli-neerde stakings soos wat ons tot dusver gesien het, is beslis teenproduktief en kan hierdie visie van die regering totaal kelder.  Produsente oor die hele land gaan as gevolg van hierdie stakings hul arbeidsrisiko’s in die toekoms strenger bestuur.

Wie verloor die meeste?
Die fokus van die stakings is eensydig gerig op primêre produsente, maar die ironie is dat veel meer belangegroepe negatief geraak word deur die stakings. Sou die dreigemente deurgevoer word, is die gevolge verreikend.

Werkers – Veral seisoenwerkers gaan die slegste daarvan afkom omdat daar minder werksgeleentehede vir hulle gaan wees as produksie gestaak word en produkte nie aan markte gelewer kan word nie.  Oesverliese en die gepaardgaande inkomste daaruit is permanent en kan nie verhaal word nie.  Daar is slegs een geleentheid per jaar wat vrugteprodusente ‘n inkomste kan genereer.

Regering – die regering het uiteindelik die meeste om te verloor deur onder andere die verlies aan inkomste- en aksynsbelasting, uitvoerheffings en buitelandse investering wat normaalweg deur goeie oeste gegenereer word.  Lae of geen oesinkomste beteken aansienlik minder geld wat in die staatskas gestort kan word.

Verbruikers – verbruikers gaan aansienlik meer moet betaal vir produkte omdat die beskikbare hoeveelhede van sekere produkte in die mark baie minder gaan wees
Produsente – verloor inkomste en potensiële markspasie en gaan derhalwe minder arbeid in diens kan neem.

Verder is daar die waardeketting soos inmaak-, droog- en sapfabrieke wat groot verliese gaan lei omdat minder of geen primere produk aan hulle gelewer kan word nie. Groot fabrieke en verwerkingsaanlegte sal heelwaarskynlik moet afskaal of toemaak.

Agri Wes-Kaap doen weereens ‘n ernstige beroep op die regering om wet en orde te handhaaf veral in die lig van die onwettige en geweldadige optrede van stakers verlede jaar.  Die realiteite is duidelik en volhoubare oplossings noodsaaklik. In die huidige ekonomiese bestek het elke persoon vrye keuse waar hulle wil werk.  Dit geld ook vir plaaswerkers, hetsy permanent of seisoenaal.
Carl Opperman, Agri Wes-Kaap