Sharkies wys Sporttande: Gansbaai Academia
Die prestige Sport Gala-aand van Gansbaai Academia op Donderdag, 24 Augustus 2023 het gewys dat dié skool oor uitstekende sport-potensiaal beskik. “Ek glo ons skool het kwaliteit sportmanne en -vroue en vanaand se toekennings is weer eens ‘n bewys daarvan,” het Theuns van Schoor, Hoof Sportkoördineerder en Waarnemende Adjunkhoof, gesê. “Uitstaande sportprestasies is oor die afgelope tydperk behaal.”
Netbal-, rugby (seuns en dogters)-, atletiek-, landlope-, sokker-, hokkie-, kano-, skopboks en skaak deelnemers in die onderskeie ouderdomskategorieë is vir hulle sport-prestasies beloon. Die skoolsaal was gevul met opgewondenheid en oordonderende applous.
Uitblinkers:
Al die atlete was uitblinkers, maar net enkele voorbeelde word hier genoem: Die atletiekspan vir deelname aan Suid-Boland en Wes-Kaapse Atletiek-byeenkoms; Die dogters rugbyspan, met Nathi Mayile as kaptein, spog met 5 Bolandspelers; In die landloop (cross country) span is ook Boland- en Overbergkampioene; Vir Hokkie is 3 spelers in die Bolandspan opgeneem; in die Kano Kampioenspappe het al 6 atlete aan die South African Sprints deelgeneem.
Laaste, maar beslis nie die minste, is ‘n top-uitblinker Dylan Isaacs as die skool se Skopbokskampioen (kickboxing): 2de plek (punte) in Suid-Afrikaanse Toernooi (Limpopo); 1ste plek (punte) en 2de plek (deurlopend) in Kanadese Toernooi in Oudsthoorn en Kaapstad; 1ste plek (punte), 1ste plek (punte) en 1ste plek (kicklight) in die Winterbeker Kampioenskappe in Kaapstad. Opkomende toernooie: Afrika Kontinentale Kampioenskappe in Kairo, Egipte (September 2023); Wêreld Kampioenskappe in Portugal (November 2023).
Die Gans-Berg Nuus se span dra graag hulle gelukwense aan Gansbaai Academia oor vir hulle uitstaande sport-prestasies.











