Die Gevare en Avonture van Diepseeduik
Vir die leek is duik om te scuba-duik om mooi visspesies te bewonder of om vis te skiet, of dalk om wettige duikwerk by skeepswrakke te doen om kosbaarhede uit te haal - vir die kenner en die professionele diepseeduiker is dit ‘n perd van ‘n ander kleur. Hennie Groenewald van De Kelders het van sy wedervaringe as professionele duiker kortliks met die Gans-Berg Nuus gedeel.
‘Bubbles’ / Borrelsiekte
Hennie het kortliks verduidelik: wanneer jy diep duik, gaan dit oor die druk (pressure) wat op jou liggaam uitgeoefen word en hoe jou liggaam dit hanteer. Die druk wat ons normaalweg ervaar, word atmosferiese druk genoem, wat ‘n 1 Bar druk is. Vir elke 10m wat jy onderwater gaan, kom nog 1 Bar druk by (10m = 2 Bar en 20m = 3 Bar). Die gasse in jou liggaam word, volgens Henry’s & Daltons Law, deur die druk geaffekteer.
Die mens asem ±20% suurstof en 80% nitrogeen in, wat met ekstra druk vermeerder. Op ‘n ernstige diepte onderwater, raak suurstof toksies vir die mens. Hierdie gasse, op so ‘n diepte, word dan in die liggaam geabsorbeer (body tissues) en veroorsaak ‘bubbles’, of te wel ‘borrelsiekte’. Die borrels moet kleiner gemaak word om te verhoed dat dit in jou spiere, of nog erger, in jou brein beland. Daarom word ‘decompression’ stoppe op pad na die see-oppervlak gemaak, sodat alles kan normaliseer. Indien dit nie korrek gedoen word nie, kan geen mediese dokter jou red nie, net ‘n ‘decompression chamber’.
Die druk het ook ‘n groot uitwerking op jou ore en daarvoor moet jy ‘equilize’ wanneer jy dieper gaan. Elke paar meter druk jy jou neus en mond toe en blaas saggies totdat jou ore weer normaal voel. Lug word ook kleiner gedruk op pad na onder en weer groter gemaak op pad boontoe (Boyles Law). Dus moet jy altyd asem uitblaas op pad boontoe anders kan jou longe bars - ‘Baro trauma / Pnemortherax’. Dit is onmoontlik om alles wat Hennie vertel het, skriftelik weer te gee - ongeag hoe interessant, die inligting is net té veel.
“Ek het nog my lewe lank ‘n passie vir duik gehad,” vertel Hennie. “Op 25 jarige ouderdom het ek besluit om die nodige kwalifikasies vir diepseeduik te verwerf.” In 2011 deurloop hy 3 duikkursusse by die destydse BS Divers in Hermanus: Kursus 1, Klas 4 - Scuba; Kursus 2, Klas 3 - Nasionaal 30m; Kursus 3, Klas 2 - Internasionaal 50m. Dit was voldoende vir duikwerk, maar hy het verder gegaan en onder andere ook Vlak 3 Noodhlup, ‘Ringing’, ‘Offshore Survival en onderwater sweiswerk kursusse deurloop.
Die meerderheid van Hennie se werkskontrakte was vir relatiewe kort periodes vir spesifieke duikwerk wat gedoen moes word - soms baie gevaarlik as gevolg van “rowwe” en onverantwoordelike manne wat nie behoorlik gekwalifiseer is nie en sodoende andere se lewens in gevaar stel, asook omstandighede wat ‘n spesifieke taak gevaarlik maak om uit te voer. Hennie se eerste werk was vir Fred de Pauw in Gansbaai teen einde 2011, waar hy vir Fred by Romansbaai gewerk het. Daarna was dit Struisbaai waar koperware uit ‘n skeepswrak gehaal moes word wat sowat 30m diep gelê het.
In 2012 begin Hennie by die Kaapse Hawe waar hy by Atlatech Divers sowat 7 jaar in diens was. Daar is onder andere die onderkante van bote gediens, berging (salvage) en baie meer. Hennie vertel dat daar meer moorde in die hawe plaasvind as wat altyd bekend gemaak word. Een geval was Chinese- en Russiese bote wat langs mekaar gelê het. ‘n Bemanningslid is vermoor en het onder die water verdwyn. Die SAPD-duikers kon nie sy liggaam kry nie en Hennie het opdrag gekry om na die liggaam te soek. Hy het in sirkels geduik en die liggaam ná ‘n onderwater-soektog in die skroefprop van die boot opgespoor, “maar dis beslis nie die tipe van ‘soekwerk’ vir my nie,” het hy gesê. In 2019 is hy na Richardsbaai waar hy vir Transnet Hawe gewerk het. Vandaar het Hennie net op vryskut-duikwerk gefokus, maar het intussen rustig geraak en is deesdae die NG-gemeente se Koster. (Sien berig elders in hierdie uitgawe).
Hardus Botha
Foto: Hennie Groenewald tydens sy beroepsjare as diepseeduiker.