Ons Jeug, Ons Trots
Ons Jeug kán nog ware, ‘skoon’ Jeug wees, ondanks vele probleme daar buite. Dit is op Sondag, 17 November 2024 tydens die Jeugkersangdiens in die Pretoriussaal bewys is. Jeugtalente, waarop Groter Gansbaai trots kan wees, ingesluit pragtige dissipline wat gehandhaaf is, was aan die orde van die dag. Meer nog, kleuters en kinders vanuit verskeie denominasies en agtergronde het deelgeneem - die een groep so goed soos die ander groep, telkens met oorverdowende applous.
Aan die spits van sake was Asanti Smit met ‘n lewendige en vlot program tot groot vermaak en genot vir die gaste. Asanti se bekende Poco Musica-studente, wat al wenners by verskeie Eisteddfod-kompetisies met ‘n groot verkeidenheid van items was, het hul uitstekend van hul taak gekwyt: samesang, Con Grazia ballet, slag-orkes, klavierspel, solo-sang, voorlesings en nog meer. Die volgende jongelinge verdien applous (alfabeties): Ariëlle, Armand, Dirk, Eben, Elizmari, Gretchen, Jan-Dawid, Kai, Leo, Liahné, Liëtte, Mia, Ninke, Skye, Stiaan, Talita en Vera. Verdere prag-bydraes was deur die kleuters van Fielavlooi en BizzyBodyz, asook die skoolkore van Laerskool Gansbaai en Gansbaai Primêr.
Die hoof-begeleiers was Asanti Smit (klavier/sang), Annatjie Smit (klavier/sang), Jakkie Liebenberg (kitaar/sang) en Anthia de Villiers (sang) - en hulle verdien ook ‘n groot pluimpie. Annatjie Smit het vir hoë gehalte klavierspel tussendeur gesorg. Dan, so stil-stil en ongesiens in die agtergrond: ds Hanri Joubert en Hilda O’Connell wat in beheer van die klank en projektor was - daarsonder is ‘n aand soos dié nie moontlik is nie.
Die aand is afgesluit met die hartlike sing van Soli Deo Gloria (Aan God al die eer) en daarna met Kersmusiek, Gloria, gloria. Maar so ‘n aand kan nie sonder ‘n besoek deur Kersvader finaal afgerond word nie - en hy was daar, met sy wit baard, rooi Kersvaderpak en.....lekkergoedpakkies! Iemand het die aand soos volg opgesom: “Dit was ‘n ‘geestelike feestelikheid’, maar ook ‘n ‘feestelike geestelikheid’!”
Hardus Botha