Om weer te hoop

Teks :    Genesis 18:13-33

Ek het die volgende gelees:   Ons droom vir ‘n nuwe wêreld , ons droom vir ‘n nuwe Suid Afrika, ons droom vir ‘n geredde Afrika  waarin God ‘n ereplek het, voel by tye ver  weg.  Ons het die droom verloor.   Ek weet nie hoe julle oor die stelling voel nie,  maar ek wonder of wat hy sê nie  waar is nie.   Ek het die gevoel ons droom nie meer nie.  Dit opsigself is natuurlik baie sleg.   Vir mense om menslik te leef is dit van die allergrootste belang.   Vir baie mense en soms vir groepe van mense is dit juis die grootste probleem. . . dat hulle vasgevang word in die vanselfsprekenhede van elke dag  en dat hulle die vermoë om te droom verloor.  Iemand skrywe:   Miskien was dit juis die rede dat die simbool van die koninkryk in die Christelike tradisie so geweldig invloedryk en motiverend was.  Dit het mense as ‘n ware iets gegee om bokant hulle omsatandighede uit te styg.  Die simbool van die koninkryk van die Here  het vir Christene ‘n visie gegee wat sou lei tot hoopvolle optrede. 

Ek glo die Here wil ons vandag help om weer  te droom.      Ek wil glo hy doen dit steeds deur Sy Woord.     Daarom het ons hierdie gedeelte gelees. In hierdie gedeelte is  wonderlike perspektiwe wat ons hiermee  kan help.

Die  eerste gedeelte gaan oor Abraham en die besoekers. Ons lees dat een van die besoekers op ‘n stadium vir Abraham gesê het dat sy vrou ‘n kind sal ontvang.  Sara was baie sinies daaroor en gewonder hoe kan sy wat al oud was ‘n kind hê.  Sy het selfs gelag.  Toe vra die Here waarom lag Sara?   Waarom dink sy : sal ek werklik ‘n kind in die wêreld bring noudat ek oud is.  En dan sê die Here iets wonderliks. Is iets te buitengewoon vir die Here?  Met hierdie woorde sou Abraham en Sara ‘n kant van die Here leer ken wat hulle net sou laat besef dat hy nie afhanklik is van hulle voortplantingvermoë nie.  Hy is nie ‘n God wat net die moontlike kan doen nie, maar ook die menslik onmoontlike.   Dink ook aan die treffende  woorde van die engel aan Maria. In Lukas 1 word vertel hoe die engel aan Maria meegedeel het dat sy ‘n kind sal hê. Sy vra mos toe hoe dit moontlik is aangesien sy nog nooit omgang met ‘n man gehad het nie.  Dan antwoord die engel  haar volgens 1:37 Niks is vir God onmoontlik nie.   In Markus 10 lees ons oor die ryk jongman en Jesus se gesprek met hom.  Jesus sê op ‘n stadium vir die dissipels hoe moeilik dit is vir mense wat ryk is om in die koninkryk van God te kom.   Kinders, hoe moeilik is dit om in die koninkryk te kom? Dit is makliker vir ‘n kameel om deur die oog van ‘n naald te kom as vir ‘n ryke om in die koninkryk van God te kom.  Toe vra hulle mos wie kan dan gered word.  Toe sê Jesus vir hulle:  Vir mense is dit onmoontlik, maar nie vir God nie, want vir God is alles moontlik.

In Roemeine 4  word die geloof van Abraham voorgehou. Ons lees daar die volgende:  (v17-21)Dit is hy in die oë van God in wie hy geglo het, God wat dooies lewend maak en dinge wat nie bestaan  nie tot stand bring deur sy woord.  Toe daar geen hoop meer was nie , het Abraham nog gehoop en geglo en so die vader van baie nasies  geword volgens die belofte.  So sal jou nageslag wees.   Al was hy sowat honderd jaar  en al het hy dus goed besef dat sy liggaam reeds gedaan was en dat Sara reeds te oud was om kinders te hê,  het sy geloof nie verswak nie.  Hy het nie in ongeloof begin twyfel  aan die belofte van God nie, maar hy is in sy geloof versterk  en het aan God die eer gegee.  Hy was ook ten volle oortuig dat God mag het om te doen wat Hy beloof het.  Ek glo dat die Here wil dat ons dit sal hoor.Dat Hy die onmoontlike kan regkry.  En dat ons dit sal glo in verband met die wêreld . . . ook ons land.     Dat ons in hierdie dae goed daaroor sal nadink voordat ons hierdie wêreld sommer afskryf. Voordat ons mense ook afskrywe. Die Here kan die onmoontlike regkry.

In hierdie verband dink ek weer aan die storie van die verslaggewer wat die teoloog Solle gevra het of sy regtig glo dat dinge kan verander. Toe antwoord sy  om te glo dat dinge nie kan verander nie ,  beteken in dieselfde asem  om nie in God te glo nie.   By God is alles moontlik.  Wanneer ons dan ook moedeloos raak en hoop wil verloor,  dat moet ons daaraan dink  en mekaar ook daaraan herinner.  Bv   geweld,  korupsie, armoede,   verslawing, gesinsverbrokkeling, huwelik. . .

Die tweede gedeelte  gee ook nog ‘n perspektief wat in hierdie dae baie kan beteken. Daar staan toe die mans opstaan om te vertrek, het Abraham ‘n entjie saam met hulle gestap.  Dit is asof die Here Abraham in Sy vertroue neem en met hom deel dat Hy nou raadop is met Sodom en Gomorra se leefwyse.  Hy is nou op die punt om hulle te straf en te vernietig.  In v 20 en 21 lees ons dit. Maar dan lees ons in v 22 ‘n merkwaadige iets. Daar staan geskrywe:  Die mans het weggedraai Sodom toe, maar die Here het by Abraham bly staan.  Waaarop sou dit neerkom?    Dit is asof die Here vir Abraham as ‘n ware wil vra: gaan jy my plan met hierdie stede sommerso aanvaar, of gaan jy tog by My hoor of daar nie nog ‘n kans is vir hierdie stede nie.  Dit is dan asof die genade van die Here by Abraham registreer . Hy neem die uitnodiging aan en begin om vir Sodom en Gomorra te pleit.  Ek dink hiermee word ons herinner  dat die Here wil dat  ons sal bly bid vir die wêreld. Dat ons nooit hoop sal opgee vir die wêreld nie. Met die besef dat die Here hierdie wêreld steeds liefhet en ‘n plan daarmee het.

Die vorige aartsbiskop van Engeland,William Temple,  het nogal ‘n mooi ding gesê: Ons maak ‘n verkriklike fout as ons dink dat  God net geŃ—nteresseerd is in godsdiens.  Dit gaan vir God op die ou end oor die redding van die wêreld. Daarom bid ons steeds vir die wêreld en die Here wil dat ons dit sal doen. Let ook  op die pleit van Abraham.  En dit is nogal veelseggend. Jare terug sou die reël mos geld dat die oortreding van een individu eintlik gemaak het dat almal skuldig is.  Hy neem nou hierdie reël op, maar draai dit om  en vra of dit nie andersom ook kan werk nie.  As die sonde van ‘n paar mense ‘n gemeenskap kan verderf, waarom kan die geregtigheid van ‘n paar dan nie ‘n gemeenskap red nie.  Ons sien dan ook hoe Abraham vir die Here sê:  miskien is daar vyftig regverdiges in die stad.  Op die ou end sien ons dat die getal eindig by tien. En die Here antwoord: oor tien sal ek dit nie verdelg nie.   Iemand skrywe so mooi daaroor:  Met hierdie benadering plaas Abraham eintlik ‘n vraag op die tafel, ‘n vraag waarvan ons almal, die ganse wêreld se toekoms afhang. Wat is die sterkste mag in hierdie wêreld, die sonde of die geregtigheid?

Gelowiges kan die  vraag ook effens anders vra:  wat weeg die swaarste in die hart van God, Sy wil om die sonde te straf of Sy wil om die sondaar genadig te wees en te red?   Deur die feit dat die Here Abraham elke keer toegee, sien ons dat die Here se liefde sterker is as sy torn. Dat Hy eerder red as wat hy straf.   In Ps 30:6 lees ons:  Waarlik sy toorn duur net ‘n oomblik, maar sy goedheid lewenslank.   Die Here wil dat ons steeds vir die wêreld sal bid , dat ons steeds sal omgee, want Hy gee om.  Hoe gaan Joh 3:16 nou weer? Want so lief het God die wêreld gehad. .  .Laat ons dus steeds hoop vir die wêreld hê oor die liefde van God vir die wêreld.

Ek sluit af: Wie van julle het al gewonder hoekom nou juis op die getal tien eindig. Is daar enigiets van betekenis.  Mense is nie doodseker nie.  Ek lees iemand skrywe oor die feit dat tien in die OT die getal vir die kerk was.  So bv kon ‘n Joodse erediens nie plaasgevind het as ten minste tien mense nie teenwoordig was nie.  As’n mens dit nou in gedagte hou, beteken dit dat Abraham gestop het by tien  omdat hy geweet het dat hy nie kan pleit vir Sodom en Gomorra vir nog ‘n kans as daar nie na die tyd mense is om God se seën aan hulle te verkondig nie.   Ons weet dat die Here mense wil red.  Hy wil die wêreld red, maar Hy gebruik ook mense om Hom daarin by te staan. ’n Mens sou ook kon sê as daar genoeg  gelowiges is wat omgee, is daar hoop vir die wêreld. Die Here wil deur ons die wêreld bereik.  Deur die jare was daar mense wat dit so goed verstaan het. . . bv . . . ook ons.