Bevorder die belange van die stad/dorp

Skrif:  Jeremia  29 : 1-14

 Verlede Sondag het  ons stilgestaan by Gen 18. Ons kon herinner word aan die feit dat niks vir die Here te buitegewoon is nie, ook nie om ‘n verskil aan die wêreld en ons land te maak nie. Ons kon  ook aan die hand van Abraham se optrede nadat die  Here by hom kom staan het herinner word dat  in die proses om Sy plan uit te voer om hierdie wêreld ‘n beter plek te maak Hy  ons wil gebruik. Daar is dus hoop vir die wêreld waar daar nog gelowiges is wat genoeg omgee.

Ons sluit vandag  daarby aan en beklemtoon dat die Here nie wil dat ons ons aan die wêreld onttrek nie. In  hierdie gedeelte het ons ‘n mooi voorbeeld daarvan in die oproep in v 7. Ek wil net daarop wys dat die agtergrond waarteen Jeremia 29 afspeel,  een van die mees ingrypendste tye in Israel se geskiedenis was.   Die jaar is 597vC.  Koning Nebukadneser het Jerusalem, die hoofstad van die suidryk, binnegeval.  Koning Jojagin moes oorgee en die belangrikste burgers en leiers is in ballingskap weggevoer.  Hier is hulle gekonfronteer met ‘n totaal nuwe situasie:  nuwe gebruike, nuwe waardes en nuwe gode.  In die onsekerheid en ongeborgenheid wat hulle daar ervaar, was die versoeking groot om te dink dat God hulle verlaat het.  God is immers in die tempel in Jerusalem.  So het hulle altyd geglo.   In hierdie omstandighede gee Jeremia vir hulle raad.

Die raad vind ons in v 5-7. Kom ek lees dit: Bou vir julle huise en bewoon dit, lê tuine aan en eet die opbrengs daarvan , trou en bring kinders in die wêreld, en laat hulle trou en kinders in die wêreld bring. Bevorder die belange van die stad waarheen Ek julle in ballingskap weggevoer het, bid tot My vir daardie stad, want sy belange is ook julle belange.   Hierdie laaste sin is só belangrik:  bevorder die belange van die stad waaheen Ek julle weggevoer het, bid tot My vir daardie stad, want sy belange is ook julle belange.  Jeremia was nie al een wat raad vir die ballinge gehad het nie. Sommige profete het verkondig dat die ballingskap spoedig verby sal wees.  Hierteenoor waarsku Jeremia teen sulke nostalgiese drome waarin die mense aangemoedig word om onbetrokke by die openbare lewe te wees.   Hy stel dit duidelik dat die ballinge hulle moet voorberei vir ‘n lang verblyf  in die vreemde.   En terwyl hulle die vooruitsig wel het van ‘n terugkeer na Jerusalem, moet hulle hulle intussen beywer vir die belange van die plek waar hulle is.  Ook hier in die vreemde, skynbaar goddelose land  moet hulle tekens oprig van God se vrede.   Hierdie raad hou ook vir ons ‘n groot les in. Ook ons moet die belange bevorder van die plek , die land waar die Here ons geplaas het.  Ongeag ook die omstandighede.

Ek lees iemand vra in hierdie verband hoe sou ‘n brief van Jeremia gelyk het, sou hy sê nou maar vir ons as Christene hier in Suid Afrika geskryf het. Wat sou hy vir Christene in Suid Afrika te sê gehad het. Hy dink dit sou dalk so geklink het:  Laat ek begin deur  te sê dat ek versigtig is om as Joodse pofeet my oor Christensake uit te spreek. Tog dink ek dat my woorde vir julle nie veel anders sal wees as die woord wat ek destyds tot die ballinge in Babel gerig het nie.  Baie van julle kan julle immers vereenselwig met so ‘n ballingskap.  Sommige van julle ervaar dalk dat aan die einde van die twintigste eeu die kerk hom ook  in ‘n ballingskapsituasie bevind.  Dinge is nie meer vir die kerk soos dit vroeër was nie.  Julle was gewoond daaran dat die kerk mag en invloed in die samelweing het.  Nou is alles skielik omgedraai. Die kerk is in ‘n minderheidsposisie. In baie dele van die land is baie mense weliswaar nog uitgespoke Christene, maar dit is geensins meer vanselfsprekend nie.  Selfs van julle vriende  sê  dat hulle die geloof en die kerk ontgroei het .Sommige van julle in die kerk begin selfs twyfel.  Die veranderende politieke en maatskaplike situasie in die land laat dit voel asof alles op losse skroewe staan.  As kerkmense is julle dalk nie meer  so seker oor julle rol in die kerk  en die samelewing nie.  Dit lyk asof die kerk ‘n groot geloofwaardigheidskrisis beleef en nie weet hoe om die nuwe situasie te hanteer nie.   In die omstandighede kan julle ook dink : vroeër het ons vir God geken  en geweet wat dit beteken om God te dien, maar nou is alles anders.   Daarom vra julle ook onwillekeurig : is God nie dalk weg nie. Die woord wat ek vir julle het is dit:  God is nie weg nie.  Hy is juis by julle.   Moenie los van God en julle medemens leef nie.   Moet ook nie dink omdat julle minder invloed op die openbare lewehet nie, julle  jul liewer wil onttrek aan publieke sake.   Moenie toegee aan die versoeking van innerlike emigrasie nie, ‘n terugtrekking in julle geestelike en kulturele wêreldjie.   Moenie ‘n sekte word wat nie meer deelneem aan die openbare lewe nie.  Soos ek destyds vir die ballinge gesê het:  die belange van die samelewing is ook julle belange. Neem daarom deel aan verkiesings en skoosake:   plant bome en beywer julle vir die bewaring van die omgewing.  Neem ook deel aan alledaagse dinge-  dit is juis hoopvolle gebare. Maar onthou :  moenie aan die openbare lewe en die klein alledaagse bestaan deelneem as mense sonder ‘n storie nie- neem deel as Christene.  Onthou dus wie julle is. Meer nog: onthou Wie s’n julle is.   Ek dink beter kan ‘n mens nie hierdie woorde van Jeremia aan die ballinge van destyds en ook op ons toegepas saamvat nie.   Bevorder die belange v an die stad en bid tot My vir die stad, want sy belange is ook julle belange.   Die woorde innerlike emigrasie het  by my vasgesteek . Wat is dit?

Mense wat weet sê  dit is ‘n tipiese reaksie as die fondamente van die samelewing begin wankel.   Dit beteken dat baie mense se reaksie in veranderende, verwarrende tye  is om  - sonder om daadwerklik, fisies, êrens heen te emigreer -  tog na binne te emigreer.  Weg te gaan. Te verhuis.   Elders te gaan woon en tuis te wees in die privaatheid van hul eie hart en wêreldjie.  Dikwels vind die innerlike emigrasie lank voor die werklike emigrasie plaas.  Maar nog meer vind die werklike emigrasie nooit plaas nie  -  en tog leef die mense eintlik, ten diepste elders.   Dit beteken dat mense hulle innerlik onttrek aan die samelewing en sy doen en late.  Na buite speel hul oëskynlik nog saam, doen hulle mee, laat hulle sake hulle welgeval,  maar eintlik staan hulle afsydig.  Hulle het afskeid geneem.  Niks gaan hulle regtig meer aan nie.   Hy sê dan dit is ‘n begryplike reaksie. Dit is ‘n reaksie ter wille van eie oorlewing, as sake sleg gaan.  Maar dit is tegelyk tragies.  Want inderwaarheid rangeer diegene hulle tot magteloosheid  en dra hulle op geen manier by tot die samelewing se welwese nie, maar gee dit prys  aan ander kragte.  Innerlike emigrasie  onttrek juis die potensiaal  wat die samelewing, ‘n beter menslik gesig kan gee.  Iemand skrywe:  Hoe meer sogenaamd opgevoede mense hulle terugtrek in die voorstede, hoe meer word die binnestede verwaarloos.  Hoe meer gekultiveerde mense  hul onttrek aan die vuil politiek , hoe vuiler gaan dit in hulle oë word.   En dan die woorde: dis die dat die Bybel sê in ‘n sleutelteks vir die Christelike etiek: Bevorder die belange van die stad en bid tot My vir die stad, want sy belange is ook julle belange.   

Ek dink ons almal moet weer ‘n slag nadink oor die raad wat Jeremia hierdie ballinge gegee het. Dat ons sal onthou die Here was by hulle. Hy is ook by ons teenwoordig. Laat ons Hom bly dien. Laat ons dit doen ook in veranderde omstandighede en dit beteken  veral  moenie onttrek nie. Bid steeds,  maar om te kan bid  weet ook wat in die wêreld aangaan. Koop koerante en kyk TV. Veral die nuus. Raak ook betrokke . . . by die skool, by dieouetehuise, belastingbetalersvereniging, bewarings-organisasies, sport, buurtwag. Neem deel aan die alledaagse dinge en bevorder so die belange van die stad, bv straatwerk in die Kaap.