Die eenheid van die kerk

Skriflesing:  Ef 4:1-7

Daar is ‘n spreekwoord wat lui:  Jy kan nog jou vriende kies,  maar nie jou familie nie.  As dit waar is van ‘n familie, dan is dit nog meer waar  van die kerk in die sin dat ons nie kies  wie saam met ons aan die kerk  behoort nie, maar dat dit die besluit van die Here is.  In Efesiërs  word dit baie mooi beklemtoon.  Ef 1:4 en 5: So het Hy nog voordat die wêreld geskep is,  ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees.  In sy liefde het Hy ons , volgens sy genadige beskikking , toe ook al daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees.   Ook in die gedeelte wat ons saam gelees het, word dit beklemtoon . . . laat julle lewenswandel  in ooreenstemming wees met die roeping wat julle van God ontvang het.

Maar hoekom is dit so belangrik om dit te weet?  Want dan  aanvaar ‘n mens die ander wat saam met jou aan die kerk behoort. Dit is die  keuse van die Here ten diepste. Dan werk jy met ander saam, dan  ondersteun jy hulle, en jy doen dit ten spyte,  ondanks die verskille wat bestaan.    Ons het in v 3 gelees: Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe.  Die Heilige Gees  voeg mense saam in die kerk en plaas hulle in ‘n verhouding met mekaar.  Ons moet hierdie band wat deur die Gees gesmee is, bewaar en bevorder.  Die eenheid tussen gelowiges lê hier ingebed in God se genadige verkiesing buite ons eie besluit. As teken van hierdie Godswerk is ons almal dan ook gedoop.  Hierdie band wat deur die Gees gesmee is, is dan ook die vernaamste band wat ons aan ander  verbind. Belangriker as enige ander band, soos natuurlike familie, soos taal en kultuurgenote, soos vriende. Ja, as dit waar is van gewone familie, is dit nog meer waar van die kerk . . . jy kan nog jou vriende kies, maar nie jou familie nie.     Omdat die Here hulle vir jou gekies het.

Wat glo ‘n mens van die heilige, algemene, Christelike kerk glo volgens die Heidelbergse Kategismus(vraag 54):  Dat die  Seun van God uit die hele menslike geslag  vir Hom ‘n gemeente wat tot die ewige lewe uitverkies is, deur sy Gees en Woord  in die eenheid van die ware geloof  van die begin van die wêreld af  tot die einde toe, vergader , beskerm en onderhou  en dat ek  daarvan ‘n lewende lid is en ewig sal bly. Nou vra die Here van ons om hierdie eenheid te handhaaf.  

Maar hoe sal ons nou hierdie eenheid handhaaf?   Hoe sal ons dit nou bevorder?   Om hierdie eenheid juis te bevorder en te bewaar, vra ‘n sekere ingesteldheid. Daarvan is sprake in v 3. Daar is drie woorde wat hierdie gesindheid mooi beskrywe. Die eerste woord is beskeie wees, nederig wees. Die tweede is vriendelikheid en die derde een is geduld.  Elkeen van hierdie gesindhede  is onontbeerlik vir die handhawing  van die eenheid tussen gelowiges.

Kom ons dink vir ‘n oomblik oor hierdie drie woorde. Beskeie., of dan ook nederigheid.   Waaroor gaan dit?   Dit gaan daaroor dat ons sal weet hoe nodig ons die Here het. Dat dit gaan oor die saligspreking. Salig is die wat weet hoe afhanklik hulle van die Here is.  In die konteks van Efesiers  beteken dit dan dat hulle wat weet hoe nodig hulle die Here het, hoe afhanklik hulle van die Here is, tegemoetkomend  teenoor ander is wat ook so ‘n ingesteldheid het.  Daar is dus nie sprake van hoogmoed nie.  Nee,  dit gaan hier oor ‘n diepe afhanklikheid  van die Here wat almal deel.  Dit is die ingesteldheid  dat dit ook maar net genade is dat ek  deel van die kerk kan wees. Niks anders nie. Nie omdat ek dalk beter as iemand anders is nie.  Iiemand skrywe oor die saligspreking: salig is die wat weet hoe afhanklik hulle van God is . . . en besef net die waarde van beskeie wees vir die eenheid tussen gelowiges Die persoon skrywe oor die ingesteldheid van selfstandig wees in die verskillende fases van ons lewe. Dink net aan hoe ons ons kinders grootmaak. Van kleins af  word kinders eintlik wysgemaak dat jy selfstandig moet  wees, dat jy op jou eie voete moet kan staan.   Mense sal sê  dat die doel van opvoeding is om kinders selfstandigheid te leer. By adolessente is die strewe na selfstandigheid  die beheersende motief van hulle lewe.   By ouer mense beteken selfstandigheid om vir jouself  net om in rustigheid alleen gelaat te word en om ons lewe te kan inrig soos ons wil.  Presies dit is wat die ouderdom so swaar maak. Ons sien op teen die dag  wanneer ons weer ander in die oë moet kyk vir dinge wat ons so gewoond was om self te kon doen.  Die droom van onafhanklikheid  wat so baie van ons lewenslank  najaag, is ‘n groot brose seepbel  wat telkens breek  die oomblik as ‘n mens daaraan vat  om dit aan jou hart te druk.  Nee,  ons het die Here natuurlik, en mekaar oneindig nodig. Veral die hulp van die Here. Daarin is ons gelyk, almal dieselfde. Daarom kan ons tegemoetkomend wees.  Ons het almal hulp nodig; ons is almal afhanklik. 

Die tweede woord is vriendelikheid, wat ook  eintlik sagmoedigheid is, gentleness.  Waarop kom dit neer  en hoekom kan dit so ‘n belangrike rol speel in die bevordering van eenheid? Dit gaan om die bereidheid om die minste te wees.   Dit gaan om die prysgee van jou regte ter wille van die groter doel. n die geval die eenheid tussen gelowiges. Jesus was in hierdie verband die volmaakte voorbeeld.   Dink aan die beskrywing van hierdie gesindheid van Jesus  in Filippense 2: Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie,  maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word.   Merkwaardig . . . Jesus se bereidheid om as ‘n ware sy posisie prys te gee ter wille van die redding van die wêreld.  Ons word ook gevra om so vriendelik te wees, sagmoedig te wees.   Daarom  moet ons bereid wees om ter wille van die eenheid op te offer, tegemoetkomend te wees, nie so vas te klou aan posisie nie. Hoekom sal ‘n mens nou moeite doen? Ter  wille van die groter eenheid . . .

Derdens die woord geduld. Letterlik beteken die woord hier ‘n lang humeur. Om dus uit  hou met mekaar. Geen wonder die apostel voeg by: en verdra mekaar in liefde Iemand sê  so mooi: Kerklike eenheid is nie vir kortasems nie. Dit is geen wonder dat geduld as ‘n gawe van die Gees beskryf word in Gal 5:22.  Om juis ‘n pad met mekaar te probeer stap, om dit in liefde te doen. En wanneer verskille dreig om die onderlinge verhouding te bederf , nog weer te prober en aan te hou.  1 Kor 13 is baie beskrywend: die liefde is geduldig . . . die liefde is vriendelik, dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie,  is nie verwaand nie.  V7: Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles . . .

Gebed:  Here ons help om te verstaan dat U ons gekies het om saam gelowiges  te wees. Dit is U wil dat ons mekaar sal liefhê, mekaar sal aanvaar. Daarvoor het ons nodig om beskeie, vriendelik en geduldig te wees. Help ons deur U Gees hiermee. Amen