Sending en die vreugde van die Here

Teks:  Lukas 15:1-32

Wie het onlangs iets verloor en na ‘n lang soektog dit gekry. Hoe bly jy was toe jy dit weer gekry het. Ek het onlangs my ou Landie se sleutels gesoek . . .  en hoe groot was die verligting toe ek dit weer kry.  Nou lyk dit met die ouderdom moet ‘n mens maar ook gewoond raak dat dinge wegraak. Maar dit is veral die blydskap as jy iets kry. Die anderdag was daar‘n foto in die koerant van die man wat sy beursie in die restaurant vergeet het.  ‘n  Vrou het  dit opgetel en ingegee by die bestuur. Die  man wou graag die weldoener ontmoet. Wat ‘n wonderlike foto . . . veral  oor welwillendheid.

Ek  wil vandag graag vir julle kom herinner dat as ons bly kan wees oor iets wat weggeraak het en as ons dit weer terugkry, moet ons daaran dink dat ook die Here bly is oor iets wat Hy verloor en  weer teruggekry het. Laat ek dit so so stel: as die Here iemand verloor, dan is Hy baie bly as Hy so ‘n persoon weer terug kry.  Hierdie gedeelte wat ons saamgelees het, beeld dit pragtig uit, dat die Here ook baie bly kan wees  oor wat  Hy verloor het en weer terugkry het.  Kom ons kyk vir ‘n oomblik na die gedeelte. Dit is natuurlik die bekende drie gelykenisse van die verlore skaap, die verlore muntstuk of penning en die verlore seun.  Dit is baie belangrik dat in die eerste vers geskrywe staan die tollenaars en die sondaars het die gewoonte gehad om na Jesus te kom luister.  Ons moet verstaan dat hierdie woorde tollenaars en sondaars by Lukas sleutelwoorde is. Soos skaapwagters, vroue,  prostitute, kinders en armes was hulle die sosiaal uitgestotenes in die destydse samelewing.  Hy gebruik dkwels die term armes as ‘n versamelnaam om al die randfigure te beskrywe.    Dit is almal mense met wie ordentlike mense eintlik nie gemeng het nie. En nou vertel Lukas hulle het die gewoonte gehad om na Jesus te kom luister.  En dat Hy selfs saam met hulle geëet het.   Om saam  te eet in daardie tyd is  beskou as ‘n vorm van aanvaarding.   Daarteen het die Fariseërs en die skrifgeleerdes dan ook beswaar gemaak.  Dit het hulle diep ontstel. Hoe kan Hy dit doen?  Dit is ondenkbaar.    In plaas daarvan dat Jesus dan net reguit sê hoekom Hy dit doen, vertel hy vir hulle hierdie drie gelykenisse om dit te verduidelik.   Dit is aangrypend.

 Wat nou belangrik is van hierdie gelykenisse is dat by elkeen dit baie duidelik is dat  die terugvind van die skaap, die muntstuk en die seun,  gevolg word deur groot blydskap. Dink aan die woorde: In verband met die skaap: as hy die skaap gekry het en hy by die huis kom, roep hy sy vriende en bure bymekaar  en sê vir hulle:  Wees saam met my bly, want ek het my skaap wat weg was, weer gekry.  Ook in die geval met die verlore muntstuk.  As sy dit kry, roep sy haar vriendinne en buurvroue bymekaar en sê:  wees saam met bly, want ek het my geld wat weggeraak het, weer gekry. Ook by die terugkoms van die seun: die pa  sê laat ons eet en feesvier. Hierdie seun van my was dood en hy lewe weer; hy was verlore en ek het hom teruggekry.   En dan in verband met hierdie groot blydskap die belangrike woorde:  Net so sal daar  in die hemel blydskap wees oor een sondaar wat hom bekeer.  Ook die woorde in die gelykenis van die verlore muntstuk:  net so is daar blydskap onder die engele van God oor een sondaar wat hom bekeer.   Die implikasie is duidelik:  Jesus se optrede het alles te doen met hoe bly God is as daar iemand is wat as ‘n ware terugkom na Hom. Hy meng daarom met hierdie mense, want dit kan lei daartoe dat hulle terugkom na die Here toe.

Daarmee sou Jesus dan ook vir hulle ‘n kykie gee in die hart van God.   Daarmee sou Hy pragtig aandui hoe die Here voel  oor mense.  Sy liefde veral vir sondaarmense. Daarvoor het Hy Sy seun gegee.  Dink aan Johannes 3:16: want so lief het God die wêreld gehad dat Hy Sy eniggebore Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie , maar die ewige lewe sal kan hê.  Dink aan ‘n teks soos 1 Tim 1  waar die apostel  Paulus getuig daarvan dat sy redding net was as gevolg van die groot liefde van God vir sondaarmense.  Teenoor Christus Jesus ons Here is ek dankbaar.  Hy het my die krag gegee en my betroubaar geag om my in sy diens te stel, al het ek hom voorheen belaster , vervolg en beledig.  Maar God was genadig teenoor my omdat ek in my ongeloof nie geweet het wat ek doen nie.  Ons Here het my oorlaai met sy genade en met geloof en met liefde wat ons deel is in Christus Jesus.  Dit is ‘n betroubare woord en kan sonder voorbehoud aanvaar word. Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te verlos.  Van hulle is ek die grootste.   En dan ook die vers in Titus 3:3,4:    Vroeër was ons ook onverstandig, ongehoorsaam, op die verkeerde pad, verslaaf aan allerlei begeertes en sinsgenot, ons het ons lewe in kwaadwilligheid en jaloesie deurgebring, ons was haatlik en het mekaar gehaat.  Maar toe het die goedheid van God ons Verlosser en sy liefde vir die mens verskyn.   

Daarom is dit dan ook so dat die kerk van Jesus Christus ‘n kerk moet wees wat daarna verlang dat God bly sal wees.

  • En dit is ‘n kerk wat daarna verlang om in hierdie blydskap te deel. 
  • En daarom sal die kerk soos Jesus ook uitreik na mense.
  •  En sal die kerk ook bly wees as mense tot bekering kom. 
  • Daarom doen die kerk sendingwerk van die vroegste tye.  
  • Daarom ondersteun ons ook sendelinge....

Maar juis daarom staan die storie oor die oudste seun ook daar om ons te herinner aan die verskriklike moontlikheid om nie in hierdie vreugde te wil deel nie.  En om te sien hoe verskiklik dit eintlik is nie.   Watter prentjie van liefdeloosheid word nie deur Jesus geteken as hy die oudste seun se gesindheid  teken nie.  Dit verteenwoordig  dan ook die Farisëers en die skrifgeleerdes se houding.  En die verskriklike:   die aanstoot van kerkmense deur die eeue.  Dit is soos iemand gesê het:  die redding van sondaars maak die hemele en die kerk bly, maar helaas, dikwels net die hemele.   So moes weerstande deur die jare afgebreek word waar hierdie aanstoot sou bestaan.  Maar soms verset mense hulle nie openlik teen sending nie,  hulle steur hulle net nie. Hulle is afsydig en onbetrokke.  En dink net doodgewoon nie aan die vreugde van die Vader nie. 

My gebed is dat ons vandag tydens hierdie Sending Sondag daaraan sal dink hoe bly die Here is as ‘n mens hom tot Hom bekeer.  En dat ons om daardie rede steeds self sal uitreik na mense . . . na alle mense.