Jy en jou huisgesin

Skriflesing:  Handelinge 16:15-35

Ek wil julle vandag herinner aan die woorde in v 15 en 33: Sy en haar huisgesin is toe gedoop . . . Hy en al sy mense is daar en dan gedoop.  Ons het hier gelees van hoe Paulus die evangelie aan Lidia, die purperverkoopster, gebring het en dat sy tot bekering gekom het en toe gedoop is. Dit word pragtig beskryf. Maar dan word bygevoeg: “. . . sy en haar huisgesin” Ons lees ook van die tronkbewaarder in Filippi dat hy tot bekering gekom het en gedoop is, maar dan word bygevoeg: hy en sy mense is daar en dan gedoop.  

Hoekom kon hy wat Paulus is dit doen?  Is dit omdat hulle as ‘n ware vooruit geweet het wat nog in die toekoms met die ander van die huis sou gebeur dat hulle ook gedoop is? Met ander woorde dat hulle ook nog in die toekoms tot bekering sou kom.   Nee, sê iemand so mooi:  dit is omdat hulle God geken het en geweet het hoe die Here werk.  En dit beteken dat hulle geweet het dat die Here werk nie met mense individualisties  nie,  dit ook natuurlik,   dink maar aan die bekering waarvan die Bybel vertel,  maar ook in die natuurlike verbande byvoorbeeld so ook met die familie, die gesin.     God tree in ‘n verhouding met ‘n mens soos ‘n  pa en trek daarmee sy hele gesin in.  In hierdie verband moet ons nie die belangrikheid van die familie solidariteit in die antieke wêreld, veral in die geestelike wêreld van die Ou Testament verstaan.  Vir mense soos ons  met ons individualistiese benadering  is dit  iets moeilik om te begryp.  Destyds  was dit so dat die familie met die pa  as die verteenwoordiger  baie sterker as ‘n eenheid ervaar is.  Alle belangrike besluite is deur die pa geneem en sy besluite was bindend vir almal.  Veral met betrekking tot God was die familie as die eenheid gesien.  Dit was dus normaal in die antieke wêreld om die geloof van die pa as bindend vir sy hele huis te sien.  In  die verband moet die besluit van die tronkbewaarder gesien word, en Paulus voeg sommer Lidia  by.  Dit staan vas dat die ganse huis op een of ander wyse deur hulle besluit  by die heil betrek word.   Bekende vertalings lui dan ook so:    Believe in the Lord Jesus, they said, and you will be saved – you and your family.  ..Believe in the Lord Jesus and you will be saved  and your  entire household .   Paulus se antwoord op die vraag van die tronkbewaarder wat hy moet doen om gered te word, is eintlik soos iemand gesê het, totaal onverwags.  Maar dat Paulus eintlik as prediker op die sendingveld daarvan bewus was dat God die God van die verbond is.  Paulus is daarvan bewus dat die Here nou lyne gaan trek tot in die verre geslagte.   Dit is hoekom hy so kan praat . . . en so kan optree. 

Dit is juis teen hierdie agtergrond, teen die agtergrond  van die Here wat in ‘n verhouding met die pa tree, dat die hele huisgesin ingetrek word in die heil, dat verstaan moet word hoekom dit so is dat die kerk kinders kan doop.   Die kerk doop nie kinders omdat hulle kinders is nie, maar doop hulle omdat hulle die kinders is van gelowige ouers  en dat hulle in die verbondslyn van die geslagte gebore is en grootword  binne die sfeer van die geloof en dat sy beloftes ook vir hulle is.   Die volgende gedeeltes is in aansluiting by hierdie gedeelte baie veelseggend. 

  • Dink in die eerste plek aan Genesis 17. Toe  die Here Sy verbond met Abraham gesluit het, het Hy uitdruklik daarby verklaar  dat hy nie alleen vir Abraham ‘n God wil wees nie, maar ook vir sy nageslag.  V7: Ek bring ‘n verbond tot stand tussen My en jou en jou nageslag en al hulle geslagte.  Dit is ‘n blywende verbond: Ek sal jou God wees en ook die God van jou nageslag.    Daarom het Abraham ook beveel om reeds op die agste dag  al sy manlike nasate te laat besny as bewys daarvan dat God vir hulle ‘n God wil wees soos wat Hy vir hulle vader ‘n God is en dat Hy dus hulle vir Hom toegeieien het, hulle die vergewing van sondes geskenk het  en deur  Sy Gees  die volle aanvaarding van die genade in hulle sal uitwerk.  Onder die Nuwe Verbond het dit nie verander nie.  Met groot vrymoedigheid  leer Paulus dat die kinders van gelowige ouers in Christus geheilig is.   Dink aan die woorde in 1 Kor 7:14. Die ongelowige man is by God aannneemlik deur die band met die gelowige vrou en die ongelowige vrou is by God aanneemlik deur die band met die gelowige man.  Anders  sou julle kinders heidene wees, maar nou behoort hulle aan God.   Op Pinksterdag roep Petrus  uit dat die belofte van die Heilige Gees  eweseer  die deel is van die kinders van die gelowiges as van die gelowiges self.  
  • Dink aan die woorde van Hand 2:39. Wat God belowe het, is vir julle en vir julle kinders  en vir almal wat daar ver is, vir almal wat die Here ons God  na Hom toe sal roep.   So klompie jare gelede skryf Prof  Willie Jonker ‘n brief aan doopouers  en meld daarin die volgende: Dit is ‘n heerlike waarheid  waaraan die gelowige ouers kan vashou.   Dat die  Here in sy ondeurgrondelike liefde nie alleen vir ons ‘n God wil wees nie, maar ook vir die wat naaste aan ons staan, nl ons kindertjies.   Daarin gee God ‘n geweldige bewys van Sy barmmartigheid  wat altyd groter is  as wat ons sou kon verwag of vermoed.   Ons kindertjies kom uit ons voort en het deel aan die besmetting  met die sonde  wat aan ons eie is.  En nou kom God en gee hulle in sy tere ontferming  ook deel aan die genade wat ons in Christus Jesus deelagtig geword het.  Ja,soos  hulle van die oomblik van hulle ontvangenis besmet is met sonde, so is hulle ook van daardie oomblik toegedek onder die bloed van die Lam, omdat God hulle vir Hom  van daardie oomblik af toeëien.  As God in Sy woord ons dit alles leer, hoe sou ons dan huiwer  om aan ons kindertjies die doop te laat bedien as die onderpand  en waarmerk van hierdie heerlike genade.   Dit is so pragtig saamgevat, beter kan dit nie, die liefde van die Here ook vir ons kinders. Dit is die agtergrond van die kinderdoop. Die Here wat  die kinders insluit by die genade vir die ouers.

Die feit dat die kindjie op daardie oomblik as hy gedoop word  nog nie verstaan, nog nie weet wat met hom gebeur nie, is geen argument om die doop van die kind terug te hou nie, want dit verander niks aan die feit  dat God reeds sy genade aan die kind toegesê het nie.  Al kan hy op daardie oomblik van sy doop nog nie bewus glo in Christus nie,  God het tog belowe om aan hom die Heilige Gees te gee wat die geloof in hom sal werk. Die formulier waarna ons vanoggend kon luister is altyd so aangrypend.....Al verstaan die kinders nog nie die doop nie, verander dit niks aan die geldigheid daarvan nie. Trouens dit beklemtoon die feit  dat dit God is wat uit vrye genade ook in hulle geval die inisiatief neem in hulle verlossing.  Sien dit is die punt: die Here neem die inisiatief . . . Die Here gee die belofte eerste. 

Natuurlik beteken dit nou nie dat hulle vanselfsprekend gered is nie.    Nee, natuurlik nie.  Ons kan dit vergelyk met 'n pragtige beeld, die van ‘n tjek. Die doop is eintlik soos ‘n tjek. ‘n Tjek  is ‘n belofte dat daar êrens geld beskikbaar is.  Dit is nie self geld nie soos die doop nie self redding is nie. Maar dit is ‘n belofte, ‘n definitiewe vaste belofte van die Here dat Hy ook vir ons kinders ‘n Vader wil wees en wil dat  hulle sal opgroei as sy kinders, binne sy verbond.  En dat hulle self ook uiteindelik dit vir hulleself sal toeëien.   Daarom gaan die doop ook met allerlei vermanings gepaard dat die ouers hulle kinders wat  gedoop is, sal grootmaak tot Sy eer.