Opstanding

Een van die mooiste en bekendste verhale oor die opstanding:

Jare gelede was daar ’n baie bekende kommunistiese leier, Nikolai Ivanovich Bukharin.  In sy tyd was hy een van die mense met die meeste mag op aarde.  Hy het deelgeneem aan die Russiese revolusie van 1917, was redakteur van die Soviet koerant Pravda en lid van die Politburo.  Sy boeke oor die ekonomie word vandag nog bestudeer. 

Daar word vertel dat hy een dag van Moskou na Kiev gereis het om ’n groot skare mense op Opstandingsdag toe te spreek oor ateïsme – en hy het sy hele toespraak toegespits teen die Christendom.  Belediging volg belediging, argument volg argument – alles om die Christendom af te kraak en om dit vals te bewys.

Na ’n uur was hy klaar.  Hy kyk af na wat vir hom lyk na die dooie as van die mens se geloof wat oorgebly het na sy toespraak, en vra toe of daar enige vrae is.  Doodse stilte vul die ouditorium, maar toe staan ’n man op en stap vorentoe.  Hy klim op die verhoog en gaan staan langs Bukharin by die kateder.  Stadig kyk hy die skare deur – van links na regs.  En toe roep hy die bekende groet van die Russies Ortodokse kerk uit:  “CHRISTUS HET OPGESTAAN!”  En soos een man staan die hele skare op en antwoord juigend:  “HY HET WAARLIK OPGESTAAN!”

Skriflesing: Kol 2:13-23

’n Seuntjie het hom so verlustig aan speelgoed in ’n winkel dat hy geweier het om te loop toe sy ma hom roep.  Sy be­sluit  om hom ’n les te leer en stap rondom ’n rak.  Na ’n tyd begin die seuntjie sy ma soek.  Toe hy by die winkel uit­stap sien hy net ’n groot skare wat rondmaal maar sy ma is nie in sig nie.  Hy kyk paniekerig op en af!  Toe oorval die vrees van “nou is ek alleen” hom.  Hy gil beangs en begin rond­hard­loop.  Toe hy nou goed geskrik het, hardloop sy ma na­der, tel hom op, en sê: “Moenie bang wees nie.  Ek sal jou nooit los nie!    Ek is baie lief vir jou.  Ek was en is nog altyd hier.”

Gestel ek word een oggend wakker, en ek kry skielik die gevoel dat God weg is, dat Hy my gelos het, dat ek op my eie is, hoe gaan ek rea­geer?  Sal ek maar net rustig op my ander sy draai om nog so ’n paar minute langer te slaap?  Of sal ek dalk, soos daardie seuntjie, beangs wees, paniekbe­vange begin roep na Hom om tog terug te kom . .

Ek vermoed baie mense sal geskok wees – geskok, nie omdat Hy nie daar is nie, maar omdat hulle ont­dek dat hulle Hom nie werklik sal mis nie – dat hulle eintlik heel goed sonder Hom kan klaarkom – dat hulle eintlik in die verlede nog altyd sonder Hom klaargekom het.  (Of so dink hulle altans . . .)

Paassondag herdenk die opstanding van Jesus.  Baie twyfel daaraan, maar ons as Gereformeerdes bely dat Hy wel liggaamlik opgestaan het – anders sou ons moes sê dat Maria en Petrus en Thomas en die ander wat sê dat hulle Hom gesien en aan Hom geraak het, leuens vertel het.  En dan sou hulle op ander plekke ook kon lieg – en dan sou die hele Nuwe Testament sonder geloofwaardigheid wees.   Maar ons glo dit, daarom herdenk ons vandag die opstanding met vreugde.  Die vraag wat mens egter moet vra is:  Hoe raak Jesus se opstanding my?  Is dit maar net ’n stukkie geskie­denis wat ons as gelo­wiges behoort te glo?   Of maak dit ’n verskil in my lewe?  

Ons lees in Kol 2:13 “Julle was dood deurdat julle . . . sondige natuur nog nie weggeneem was nie.  God het julle egter saam met Christus lewend gemaak . . .”   M.a.w. dit gaan nie net oor Christus se opstanding nie; dit gaan oor my eie opstanding in ’n nuwe lewe.  Paulus skryf in 2 Kor 5:17 “Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.”  Jesus praat in Joh 3 van “weer gebore” word.  Opstanding - NUWE LEWE !  En oor hierdie nuwe lewe skryf Paulus in Gal 2:20 “Nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe.”

In ons teks word oor twee soorte godsdiens gepraat: 

ʼn Godsdiens sonder God.

In die vroeë kerk was daar die probleem dat die Joodse godsdiens met sy reëls en wette by sommige ’n groot rol gespeel het.  Hulle het dikwels die gemeentes verwar deur hulle klem op Ou Testamentiese wette.  Paulus was ongemaklik hieroor, want mense het God probeer dien deur tradisies en ritu­ele.  Daar was sekere feesdae wat gehou moes word, besny­denis, voorskrifte i.v.m. kos.  En op die ou end het hierdie dinge die sentrum van hulle godsdiens gevorm, en Jesus is half eenkant geskuif.

Ander weer, het klem gelê op reg leef en goed doen.  Hulle het hard probeer om die die tien gebooie te onderhou.  Hulle het hulleself baie dinge ontsê, hulle het dikwels oormatig klem gelê op nederig­heid en gereelde gebede en barmhar­tigheid en vasdae . . .  Hulle het, m.a.w. probeer om deur wetson­derhouding en goeie werke God se guns te wen.  Maar hierdie soort Godsdiens is ’n doodloop­straat, want Jesus het gesê:  “Wie in My glo, het die ewige lewe.” (Joh 6:47)  Geen mens kan goed genoeg wees of genoeg goed doen om self die ewige lewe te verdien nie.

Die probleem is natuurlik vandag glad nie opgelos nie, want daar is steeds mense wat vashou aan hierdie vorm van godsdiens en dink dan gaan hulle hemel toe neem.  Kerkbywoning, sakramente,  bely­denis van geloof, bydraes, lidmaatskap-serti­fi­kaat ens.  Dit alles mag wel deel van die kerk se tradisie wees en nie noodwendig verkeerd nie – maar wanneer mens daarop vertrou, wanneer dit net ’n gewoonte word – dan het jy nie vir Jesus nodig nie! 

Daar is nog ’n verdere probleem:  Paulus sê in v.20:  Waarom gehoorsaam julle allerhande voor­skrifte,  v21  soos: “Hieraan mag jy nie vat nie!” “Daaraan mag jy jou mond nie sit nie!” “Daaraan mag jy nie raak nie!”?  . . v23  Hierdie leerstellings het wel ʼn skyn van wysheid met hulle selfge­maakte godsdiens, danige nede­rig­heid en streng beheer­sing. Ander weer, het klem gelê op reg leef en goed doen.  Hulle het hard probeer om die die tien gebooie te onderhou.  Hulle het hulleself baie dinge ontsê, hulle het dikwels oormatig klem gelê op nederig­heid en gereelde gebede en barmhar­tigheid en vas van die liggaam, maar dit het geen waarde vir die beteueling van die sondige drifte nie.     M.a.w. –  sonde en drange word nie in toom gehou deur wette en reëls nie.  Selfbeheersing is opper­vlakkig as dit nie uit die hart kom nie, wanneer die mens se sondige natuur nog nie weggeneem is nie. (v.13)

Dit is een van die groot probleme van die kerk.  Jesus sê in Matt 15:8 Hierdie volk eer My met hulle mond, maar hulle hart is ver van My af.  Mense wat hulleself Christene noem – maar die wêreld sien iets anders.  Hulle sien en hoor TV predikers en kwaai dominees wat mense sterk aanspreek, en streng reëls en wette voorhou, maar hoe hartseer dat dit dikwels juis dieselfde mense is wat val, gewoonlik oor geld of vrouens. 

En die wêreld sien katkisante wat belydenis van geloof aflê as hulle ’n sekere ouderdom bereik - amper asof hulle in ’n “kerklike worsmasjien” ingestop word en anderkant kom Christene uit.  En die wêreld sien Christene wat selde in die kerk kom en die wêreld vooruit loop in hulle sonde. 

Die wêreld sien mense wat hulle so aan die neus laat lei deur sg. visioene en drome dat daar soms die grootste snert verkondig word – in die naam van Christus – en die wêreld is nie blind of onnosel nie!

Vriende, daar staan geskryf in Gal 6:7-8 “Moenie julleself mislei nie: God laat nie met Hom spot nie. Wat ‘n mens saai, dit sal hy ook oes.  v8 Wie op die akker van sy sondige natuur saai, sal van die sondige natuur dood en verderf oes. Maar wie op die akker van die Gees saai, sal van die Gees die ewige lewe oes.  

V. 23 praat van ’n selfge­maakte godsdiens.  Wat daarom eintlik maar ’n vorm van afgodsdiens is.  Dit is ’n godsdiens wat nie rekening hou met die werklikheid van Jesus se opstanding nie en saam daarmee die mens se nuwe lewe nie. 

Paulus praat egter in die gedeelte ook oor: ʼn Lewende Godsdiens met die God as Hoof

In hierdie Godsdiens gaan dit nie oor mense wat self probeer goed doen nie.  Dit is ’n godsdiens wat sy fondament het in die opstanding van Jesus.  Ons lees in v.13: . . .  God het julle egter saam met Christus lewend gemaak deurdat Hy ons al ons sondes vergewe het.  GOD HET!!  Nie die mens self nie!     Dit is die fonda­mente van die ware lewende Christelike godsdiens.  Uit genade alleen!  Nie uit eie poging nie.  Paulus stel dit baie duidelik in Efes 2:8  Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ʼn gawe van God.  v9  Dit kom nie deur julle eie verdienste nie. . .  

Vriende . . .  die werklikheid is Christus.(17)   Christus wat gesterf het, en opgestaan het.  En daardeur vir ONS die opstanding in ’n nuwe lewe gegee het.  En daardeur het Hy ons vrygemaak van alle mensgemaakte reëls en regu­lasies;  Ons hoef nie meer te wonder of ons goed genoeg is nie; ons hoef nie meer te wag of te hoop op visioene of engele nie.  Ons hoef nie meer elke dag te sukkel en te stoei om al wat wet is te probeer onderhou nie.  Joh 8:36 “As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees.”  Wat ’n ongelooflike stuk bevryding!  Dit maak dat ons nie anders kan nie as om uit te roep:  HALLELUJA!  Prys die Heer!

Al wat ons maar kan en moet doen is om te glo –glo WAT Jesus gedoen het, glo dat Hy dit VIR MY gedoen het.  Glo dat Hy opgestaan het om vir MY die ewige lewe te gee.  Glo – en dan te leef in dankbaarheid.  Dan is ek besig met ware godsdiens.  Dan is ek besig met “opstandings-godsdiens.”

Leef in dankbaarheid.  Hoe doen ons dit?  Broers en Susters – ons ken mos die Bybel! 

  • 1 Kor 10:31 Of julle eet en of julle drink of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God.
  • Gal 2:20 nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God.
  • Gal 5:6 . . . Al wat van belang is, is geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan.
  • Kol 3:2 Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie.

Is dit nodig om meer hieroor te sê?!

’n Laaste gedagte:  Wat van as as twyfel my oorval? 

          Genl. Wellington was bevelvoerder van die magte wat Napoleon se leërs by Waterloo oorwin het.  Die storie word vertel dat daar na die veldslag 'n kode­bood­­skap na Engeland gestuur is.  Mistige weer het egter kommuni­kasie moeilik gemaak - daar is immers lanterns of vlae gebruik.  Sommige ontvang­stasies het daarom slegs die boodskap ontvang: "Wellington defeated."  Groot ontsteltenis het veral in Engeland geheers.  Later toe die mis verdwyn, het die duidelike volle boodskap hulle bereik:  "Wellington defeated Napo­leon at Waterloo."

Ons leef in hierdie deurmekaar wêreld – maar die misrook wat dreig om die opgestane Heer te ver­berg sal weldra verdwyn.  En dan sal ons volkome sien.  Paulus sê in 1 Kor 13:12 Nou kyk ons nog in ‘n dowwe spieël en sien ’n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek net gedeel­telik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken.      Intussen glo en vertrou ons.  Die Heer het waarlik opge­staan!   Daarom leef ons in die geloof, soos Heb 12 sê:  die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof.