Pinkster 2017: Ons is nie alleen nie

Pinkster 2017 : Hoekom gaan ons kerk toe?    

Tema:  Ons is nie alleen nie. Teks 1 Kor.12, Heb.10

Hoekom gaan ons kerk toe? Ons verstaan van kerkwees is dat ons nie alleen Christene is nie. Om die waarheid te sê om as Christen ons Christenskap uit te leef en vol te hou daarmee, het ons mekaar op hierdie pad baie nodig. Daarom gaan ons ook kerk toe.  

Die eerste gedeelte wat ons saamgelees het, bevestig mooi hierdie waarheid dat ons nie alleen is nie. Hier in 1 Kor 12 vanaf v 12 word ‘n beeld vir die  kerk gebruik, naamlik die van ‘n liggaam. Net soos wat die liggaam uit verskillende dele bestaan, maar saam die liggaam vorm, so ook die kerk. Die kerk bestaan uit verskillende lede, elkeen met sy of haar gawe  wat die Here deur Sy Gees gee sodat ons vir mekaar iets kan beteken en mekaar kan opbou in die geloof. Dink aan wat  in die volgende verse staan. V 12: “Net soos die liggaam ‘n eenheid is en baie lede het en net soos al die lede saam  al is hulle baie  een liggaam vorm, so is dit ook met die liggaam van Christus”. V 14: “Die liggaam bestaan ook nie net uit een lid nie, maar uit baie”. V 15: “As die voet sou sê: “Omdat ek nie ‘n hand is nie, is ek nie deel van die liggaam nie, hou om die rede tog nie op om deel van die liggaam te wees nie”. V 16: “As die oor sou sê: Omdat ek nie ‘n oog is nie, is ek nie deel van die liggaam nie, hou hy om die rede eweneens nie op om deel van die liggaam te wees nie”. V 21: “ Die oog kan nie vir die hand sê ek het jou nie nodig nie. Die kop kan nie vir die voete sê: Ek het julle nie nodig nie”. Om kerk toe te gaan , moet in hierdie lig gesien word. Ek vorm deel van die liggaam van Christus en ek is deel omdat ek vir ander iets kan beteken. Ek is daar  tot opbou van die gemeente. En dit gebeur deur die werking van die Gees. Die Heilige Gees skep gemeenskap, dit wil sê onderlinge aanvaarding en behoort aan mekaar, onderlinge diens en verryking, bystand en ondersteuning. En om kerk toe te gaan vorm ‘n integrale deel daarvan.    

Om dit so te verstaan, maak dat kerk toe gaan ‘n geweldige stuk troos inhou soos wat dit troos inhou  dat daar ‘n gemeenskap van mense is wat mekaar met die liefde van die Here aanvaar. As ‘n mens kerk toe gaan, dan bevestig jy dat jy ook kerkwees so verstaan. Die ongelooflike troos daarvan is duidelik. Vanaf die begin, reeds in die skeppingsverhale, was dit duidelik dat sonde verwydering bring tussen mense. Reeds tussen Adam en Eva. Sonde bring verwydering. Dit werp ons terug op ons self. Vang ons vas in ons klein wêreldjies, van waar ons almal sien as vreemdelinge, as bedreiging, as mededingers, as vyande. Dink maar net ook aan die tyd waarin ons lewe waarin idvidualisme so ‘n groot rol speel. Dink maar net aan die tyd waar ‘n mens die gevoel kry elkeen maar net vir homself. Ons weet dit goed dat dit oor die algemeen die gees van ons tyd is. Dink aan die gevolglike eensaamheid. Dis daarom  so ‘n oneindige troos dat ons die goedheid van die Here ook kan ervaar deur die belangstelling en ondersteuning van ander. Daar is regtig ‘n plek waar eensame en selfgesentreerde mense deur die Heilige Gees lewend gemaak word om vir mekaar lief te wees en mekaar te ondersteun. Om kerk toe te gaan is om dit baie goed te begryp. ‘n Mens moet daarom ook die waarde hiervan nie onderskat nie en daarom ook nie die waarde van kerk toe gaan in hierdie verband nie. Met al die foute en tekortkominge van die kerk sou daar, soos iemand tereg opgemerk het, baie minder liefde en deernis gewees het. Ek wil daarby voeg, ook  baie minder liefde as ons nie kerk toe gegaan het. Daarom gaan ons immers steeds. Omdat ons dit verstaan en ervaar en self daartoe wil bydra. En daarin ook versterk wil word.

Nog ‘n gedeelte wat ons baie help om hierdie aspek van kerkwees  te verstaan is die gedeelte wat ons in Hebr. 10 gelees het. Die beeld van die kerk in hierdie boek is die van die volk van die Here wat op weg is deur die woestyn op weg na God se beloftes en God se toekoms vir hulle. Op hierdie pad ondersteun hulle mekaar, vermaan mekaar en versterk en bemoedig mekaar. En dit doen hulle om te keer dat iemand  enigsins op sy eie raak en dan die gevaar loop om agter te raak en uit te val. Geloof kan jy ook sê is doodgewoon nie iets wat jy  op jou eie doen nie. Dis nie net ‘n eie persoonlike saak nie. Nee, dit is ‘n saak van die gemeente. Die hart van die geloof klop in die gemeente. Daarom noem die skrywer drie dinge wat  belangrik is. Die eerste het ons van gelees in v 23: “Laat ons styf vashou aan die geloof wat ons bely”. Laat ons die belydenis vashou. En die punt is, laat ons dit saamdoen. Ons moet mekaar daaraan herinner, ons moet dit saam oordink, saam daaroor praat, mekaar daarmee  versterk . . . en dit gebeur ook as ons kerk toe gaan. Dan luister ons na die Woord, ons oordink dit saam en herinner mekaar daaraan. Dan ‘n tweede  ding: (v24) “laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade”. Verduideliking is amper nie nodig nie. Ons kan nie maar net elkeen vir homself leef nie, nee, ons moet op mekaar let, deur veral  goeie woorde vir mekaar te hê. Ons moet mekaar aanmoedig. Ons is verantwoordelik vir mekaar. As ‘n mens kerk toe gaan dan ook in die gees deurdat  ons ingestel is daarop om mekaar te ondersteun. Jy is ook daar ter wille van die ander. En dan voeg hy ‘n derde versoek by: en heel pertinent sê hy dan julle moet  tog kerk toe gaan. Hy stel dit so: (v25) “Ons moenie van die samekomste van die gemeente wegbly soos sommige se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan namate julle die oordeelsdag sien nader kom”. Dit is hier heel pertinent  dan dat  ons nie van die samekomste van die gemeente moet wegbly nie en dan nogal soos sommige se gewoonte is nie! Lyk my daar was ook maar mense wat nie kerk toe gegaan het nie. Nou is dit wel so dat  hy hiermee bedoel het nie net die erediens nie, dalk dit nog nie geken soos ons dit vandag het nie, maar veral die hele gemeentelike lewe self. Dit dui op al die versklllende maniere wat gemeentes reël vir gelowiges om saam te kom. Dit kan wees groepsbyeenkomste, gesamentlike aksies,  bidure, skoling, gespreksgeleenthede. Neem daaraan deel en ondersteun mekaar in die geloof. Gaan daarheen en moenie wegbly nie. En die punt is, moedig mekaar aan om daarheen te gaan. Daarom moet ons maar bly voortgaan om mense aan te moedig wat die gewoonte het om nie te gaan nie. Vir hulle te bid en in liefde aan te moedig.

Dit  bly altyd vir my amper snaaks as hy beklemtoon dat ons moenie wegbly soos sommige se gewoonte is nie, bedoelende dat die gewoonte moet wees om te gaan en nie gewoonte om nie te gaan nie. Kerkgang moet ‘n gewoonte wees. Die gewoonte wat jy nie moet hê nie is om nie te gaan nie. Bly altyd vir my merkwaardig die verskonings wat mense in het om nie te gaan nie. Ek dink aan die oom wat gesê het hy kan nie gaan nie, want sy bors trek toe in die kerk, dit is vir hom te nou tussen die mense. Toe vind ek uit dit is die enigste plek waar sy bors so toetrek, hy gaan na baie ander plekke toe waar mense bymekaar kom. Laat my dink aan die oom  vir wie die dominee gevra het  hoekom  hy dan nie kerk toe kom nie. Toe antwoord die oom hy kan nie so lank stilsit nie, dan raak hy aan die slaap. Siestog, sê die dominee  vir hom, hy kan maar kom, want dit  is ‘n goeie plek om aan die slaap te raak. Of as jy dink aan die gewoonte om nie te gaan nie, die gesin het net eenkeer ‘n jaar kerk toe gegaan. Die betrokke Sondag sit ou klein Kosie nie stil nie. Die gemeente sien die pa woel met die kleinman om stil te sit en kan dit later nie meer hou nie. Hy sê toe vir hom as hy nie nou stilsit nie, kom hy beslis nie weer volgende jaar saam nie.

Kerk toe gaan hang ten nouste saam  met die belangrike feit dat ons nie alleen glo nie ...