Barmhartigheid

Skriflesing: Matt  5:7

Ons dink vandag na oor barmhartigheid, veral na aanleiding van die woorde in Matt 5:7: “Geseënd is die wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word”. 

Wat beteken barmhartigheid, om barmhartig te wees? Wat het Jesus bedoel toe hy oor barmhartigheid gepraat het? Die Nederlandse teoloog van Ruler verduidelik die betekenis aan die hand van drie uitkringende sirkels wat  hy dan noem mildheid, ontferming, en vergewing.

Kom ons kyk na die eerste sirkel, mildheid. Dit het te doen met ‘n dankbare lewensgevoel en bestaan daarin dat ons ruimhartig is teenoor ander.  Ek is nie al mens op aarde nie en moet ruimte maak vir ander. Ek moet ook vir hulle geluk gun.  En selfs bly wees as dit met hulle ook goed gaan.

Die tweede sirkel is  ontferming. By ontferming gaan dit oor wat maak ek nou as dit nie so goed gaan met diegene  vir wie ek ook gun om gelukkig te wees nie.  Moet ek maar nou redeneer dat dit nou sy/haar  eie saak is of moet ek dalk help. Ontferming  sê dat ek moet help. Ek moet nie net vir hom gun om gelukkig te wees nie, maar ook nou betrokke raak en help waar ek kan. En veral soos God bereid was om by ons betrokke te raak ook by die nood van ander betrokke te raak en daadwerklik te help.

Die derde sirkel, vergewing, gaan weer daaroor wat my nou te doen staan as my naaste wat in nood is al lelik met my was. As iemand net die slagoffer van omstandighede was, dan  help mense sonder om twee keer te dink, maar as dit iemand is wat al lelik was, slegte dinge gedoen het... Dis hier waar vergewing inkom.   Vir Jesus sou barmhartigheid ook vergewing beteken het. Kom ons kyk net weer: barmhartigheid  is dan mildheid,ontferming, vergewing.

Maar om dit regtig te verstaan is dit belangrik om die volgende te weet, drie dinge, om te weet daar is ‘n onlosmaaklike verband tussen om barmhartig te wees en die Here se barmhartigheid.Ek dink aan die woorde in Ps 103: “Barmhartig en genadig is die Here, lankmoedig en vol liefde” Ook ons moet dit wees. Dink aan die woorde in Matt 6:14-15: “As julle ander mense hulle oortredinge vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe”. Matt 23:23: “Ellende wag vir julle skrifgeleerdes  en Fariseers, huigelaars.  Julle gee tiendes van kruisement, anys en koljander, maar wat volgens die wet van God die swaarste weeg, laat julle na: geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid”. Juis hierdie dinge moet ‘n mens doen en die ander nie nalaat nie.  Dink aan die woorde in Jakobus 2:13: “Die oordeel sal onbarmhartig wees oor die wat nie barmhartigheid  betoon nie”. Maar barmhartigheid triomfeer oor die oordeel. Dink aan die woorde in Lukas 6:36: “wees barmhartig  soos julle Vader barmhartig is”. Wat opvallend is van hierdie tekste is enersyds die opdrag om barmhartig te wees, maar dan juis omdat dit onlosmaaklik verbind word aan die barmhartigheid van die Here.  Dit is wesenlik deel van die geloof en nie net ‘n luukse as ‘n wat sommige net verrig nie. As ons dit nie wil gee nie, moet ons eintlik nie barmhartigheid van die Here verwag nie.  Wat ons ook moet weet is dat die barmhatigheid  soos die Here dit van ons verwag, grensloos is. Dit hou juis verband met die feit dat dit ten nouste  saamhang met vergewing. Daar is so baie mense in die lewe wat al sleg behandel is deur ander wat dit baie moeilik vind om te verstaan dat die Here verwag van ons om ook ons naastes lief te hê. Ek onthou nog goed hoe al in my bediening vir my gesê is die Here verwag tog nie regtig dat ons  almal moet liefhê nie. Maar dit is regtig so, op persoonlike vlak, maar ook op sosiale vlak. Kyk, gemeenskappe het mos hulle eie historiese taboes oor wie vriende en wie vyande is. Dit is veral baie sterk in die politieke arena. Jy dan net  goed aan jou vriende, maar nie teenoor jou vyande nie.  Dit het al gebeur dat mense hulp wil verleen, maar met die uitdruklike voorwaarde dat dit net vir sekere mense sal gaan en nie vir almal nie. Toe die Here egter aan ons barmartigheid bewys het, het Hy dit bewys toe ons sy vyande was. Iemand   het mooi gesê:  As jy in God glo en jou vriende liefhet, dan is jy ‘n godsdienstige mens: as jy in God glo  en ook jou vyande liefhet, dan eers is jy ‘n Christen. Maar dan moet jy ook weet dat daar ‘n seën is as jy barmhartigheid bewys... Geseënd is die wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.

Waarin hierdie seën geleë is nie so maklik om te sê nie. Op die klank geoordeel meen sommige dat die seën verband hou met dit wat die Here aan  diegene aan die einde van die tyd sal gee. Dit hou verband met die vreugde van die seën van die ewige lewe. Dit is gewis deel van die antwoord. Maar ook die seën wat die Here wil meebring reeds in hierdie tyd, kan nie buite rekening gelaat word nie. Daar is tog ‘n vreugde wat deurbreek in ‘n mens se lewe die dag as jy in Christus so vry geword het  dat jy nie meer krampagtig net aan jouself dink nie, maar bereid is om jou lewe oop te maak vir ander om Christus ontwil. Watter seën hou dit nie in hier reeds nou nie. Dit is inderdaad saliger om te gee as om te ontvang.  

Die vraag is hoe ons dit sal kan regkry? Hoe is dit moontlik om so ruimte te gee vir ander, om so hulle in hulle nood by te staan, selfs diegene wat jou en ander al te na gekom het? Hoe is dit moontlik? Slegs as die liefde van die Here oor jou kom in so ‘n mate dat dit jou hart so vol maak dat dit oorloop sodat dit ook seën kan  inhou vir  ander. Dit is soos Dawid wat in Psalm 23 skrywe van sy beker wat oorloop. Dan is die liefde wat ons vir ander gee nie meer afknypseltjies van ons eie simpatie en goedsgunstigheid nie, maar dan is dit Christus se liefde wat oor en deur ons vloei na ander.  In hierdie verband is die gebed van Paulus  vir die Efesiërs so aangrypend: Ef 3:17 “dat Christus deur die  geloof in julle harte sal woon en dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees”. V19: “Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God”.  Luther sou oor die belangrikheid van dat die Here se liefde deur ons sal werk na ander, die opmerking gemaak het dat ons vir mekaar ‘n Christus sal wees. In die verband bly die lied in ons liedboek met die volgende woorde darem aangrypend: “... laat Heer u vrede deur my vloei, waar daar haat is, laat ek daar u liefde bring. Laat ek in pyn en smart vertroostend wees en krag deur geloof in u o Heer... O Heer help my om altyd so te leef om ander hoër as myself te ag, ja om lief te hê ander bo myself  en ook eerder te gee as te verwag.

Ek sluit af met die woorde... as ‘n mens barmhartigheid wil saamvat kom dit daarop neer om soos die Here ‘n hart te hê vir mense, veral mense in nood. Mag die Here ons daartoe help.