Die Koninkryk Van God

Die Koninkryk Van God

NG Kerk Gansbaai

28 April 2019 – Eerste Sondag ná Paasfees (en tien dae voor die algemene verkiesing)

Skriflesing: Handelinge 1:1-8

Verlede Sondag was Paasfees, die viering van Jesus se opstanding. Ná sy opstanding, só skryf Lukas vir ons in die Handelingeboek se begin, was Jesus nog veertig dae lank op aarde. In hierdie tyd het Hy dikwels aan sy dissipels verskyn en met hulle oor “die dinge van die koninkryk van God” gepraat.

Dit sal nogal interessant wees om te kon weet wat presies Hy vir hulle oor die Koninkryk gesê het. Wat daar nóg te sê was, aangesien sy hele bediening, ongeveer drie jaar lank, oor die koninkryk van God gehandel het. Dit was tog uit die staanspoor die boodskap,  reeds toe sy werk begin het: Die Koninkryk het naby gekom.

Ook sy heel eerste preek, die beroemde een op die berg, begin met die veelseggende woorde: “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.” Jesus klaar dus dadelik uit wie die Koninkryk se burgers is.

En toe sy dissipels onder mekaar begin stry oor hul eie belangrikheid in die Koninkryk, het Jesus ’n kind nader geroep en gesê dat as hulle nie verander en soos daardie kind word nie, hulle die Koninkryk nooit sou sien nie. Hy sou hierdie vername dissipels op ’n keer boonop wegjaag toe hulle die ma’s wou verhinder wat hul kinders gebring het om deur Hom geseën te word. “Want die koninkryk,” het Hy gesê, “behoort aan hierdie kleintjies, en mense soos hulle.”

So sou Hy, in die loop van sy bediening, die Koninkryk se aard illustreer deur diegene wat Hy gesond gemaak het en die mense by wie Hy vertoef het om mee te gesels en na te luister. Dan was daar sy koninkrykstories. Al die kere wat Hy gesê het: Die Koninkryk kan vergelyk word met ... ’n man wat ’n wingerd gehad het en mense gesoek het wat daar kon werk; en met ’n man wat op reis gegaan en sy besittings aan sy mense toevertou het.

Hy sou ook ’n ander belangrike misverstand uit die weg ruim toe die Fariseërs by Hom wou weet wanneer die Koninkryk dan kom. En Hy vir hulle sê hulle moet ophou om in die lug rond te soek na allerlei tekens. Hulle moet eerder afkyk, hier na waar hulle is, “want die koninkryk van God is hier by julle”.

Dit alles is belangrike dinge vir mense soos ons in ’n tyd soos dié waar allerlei koninkryke van elke lamppaal af aan ons belowe word. Waar ons daarheen opkyk en ons aandag van koninkryksake laat aftrek terwyl ons ons aan allerlei beloftes verwonder. Waar ons mekaar uit die pad uit stamp op soek na die beste moontlike posisie, en vergeet dat koninkrykskinders juis nie aan hul status of plek in die samelewing uitgeken word nie, maar aan die besef dat hulle vir alles van God afhanklik is. Dit is hulle wat weet dat hulle nooit self in die Koninkryk sal kan kom nie; hulle sal daar ingedra, desnoods ingesleep, moet word.

Ons loop die wesenlike gevaar om só hoog te mik dat ons die kleintjies – en dus die Koninkryk – miskyk. Dat ons vergeet dat elke keer as ons by iemand buk of iemand versorg of doodgewoon na iemand se storie luister, ons die Koninkryk laat kom. Ja ons moet tog oppas om só besig raak met ons eie koninkrykies dat ons vergeet koninkrykskinders word geroep om in die wingerd te werk. En dat hulle met die eienaar se besittings vertrou word.

Ja, wat presies sou Jesus aan sy dissipels gesê het in die loop van daardie veertig dae wat hulle ná sy opstanding en voor sy hemelvaart bymekaar was? Dalk het Hy net nodig gehad om hersiening te doen. Om hulle vir oulaas te katkiseer. Om dit vir eens en vir altyd  te onderstreep dat om ’n koninkrykskind te wees nié ’n stokperdjie is nie. Dit is nie iets wat jy doen as jy niks beters te doene het nie. Om ’n koninkrykskind te wees, is om te wees wie jy is. Dis jou identiteit en jou voltydse roeping.

En dit is hoekom Jesus toe aan hulle belowe dat hulle krag sal ontvang wanneer die Heilige Gees oor hulle kom. Koninkrykskinders kan nie sonder daardie krag koninkrykskinders wees nie.

Die Koninkryk Van God

Ds. Barend Vos

Hierdie historiese kerk is geleë in die hart van Gansbaai se middedorp en staan al vir meer as 50 jaar in die bediening van jonk en oud. Die kerk se ryk geskiedenis dateer terug tot 1909 en vandag het die kerk meer as 2550 lidmate en oor die 300 doop lidmate. Die kerk bedien die hele Gansbaai wat d...

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Other Articles

Breathtaking Winter Views Across Grootbos and Walker Bay

Breathtaking Winter Views Across Grootbos and Walker Bay

The parting shot this week is actually in two parts taken across the landscape today, which was a glorious winter's day. 

Grootbos Foundation
Warm Up Your Home This Winter

Warm Up Your Home This Winter

As the days get shorter, the colours in your home can make all the difference.

West Coast Inspiration

West Coast Inspiration

Looking for finishes that combine natural beauty with lasting durability? 

Damp Walls? Fix the Cause First

Damp Walls? Fix the Cause First

Noticed damp patches or water stains on your walls? Painting over the problem won't make it disappear.

Overstrand Tourism Diary: 10 - 16 June 2026

Overstrand Tourism Diary: 10 - 16 June 2026

Here’s the latest Overstrand Tourism Diary, filled with music, markets, walks, workshops...

Gansbaai Tourism
Why Renting a Cement Mixer Is Better Than Buying One

Why Renting a Cement Mixer Is Better Than Buying One

For many builders, contractors, and homeowners, a cement mixer is essential for getting the job done. But does it make sense to buy one?

Coastal Hire Gansbaai
See All Articles