Jong Redenaars Beïndruk Tydens Derde Streeks Redenaarskompetisie
“It is not about winning or losing, it is about grabbing opportunities presented to you..." (Drostdy Museum Manager's welcoming message to particith pants on Friday October 29.) Op Vrydag, 29 Oktober is die derde streeks redenaarskompetisie wat onder die vaandel van die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport aangebied is, op die terrein van die Drostdy Museum in Swellendam aangebied. Die Drostdy Museum span, onder leiding van museumbestuurder Francois Fouché, het by hierdie geleentheid as gasheer opgetree vir die gaste en deelnemers wat verskeie museums in die Overberg Distrik verteenwoordig het.
Die heel eerste streeks redenaarskompetisie wat as deel van die Wes-Kaapse Museumdienste Departement se opvoedkundige programme in die Overberg Streek aangebied is, is in 2018 met die Caledon Museum as die gasheer museum, op Caledon aangebied. In 2019 het die span van die Genadendal Sending Museum onder leiding van Me Judith Balie aan die beurt gekom. Te danke aan die inperkings wat die volgende jaar as gevolg van COVID-19 in plek was, kon geen kompetisie in 2020 aangebied word nie. Dit was dus 'n baie opge w onde span Swellendammers wat besoekende spanne leerders, hulle opvoeders, die beoordelaars en die personeelspanne van die onderskeie deelnemende museums Vrydag op Swellendam welkom geheet het.
Wie nie waag nie sal nie wen nie
In sy verwelkomingsboodskap, het Mnr Fouché verduidelik waarom hy die jong deelnemers heel bo aan sy lysie van gaste, wat verwelkom moet word, geplaas het. Hy het dit benadruk dat die geheim van ”sukses” juis lê in die aangryp van geleenthede wat op jou lewenspad kom. Hy het die deelnemers gelukgewens met hulle waagmoed en met hulle besluit om deel te neem. Hy het dit ten slotte ook benadruk dat die vermoë om jouself in die openbaar - hetsy voor 'n groter gehoor of tydens 'n onderhoud - uit te druk, deesdae 'n noodsaaklike vaardigheid is. Kompetisies soos hierdie een bied aan leerders die geleentheid om onder toesig van hulle opvoeders of mentors hierdie vaardigheid aan te leer en te ontwikkel. Fouché het die jongspan ten slotte ook aangemoedig om hulleself by wyse van vergelyking te evalueer en langs hierdie weg ook van mekaar te leer.
Standaard van deelnemers se aanbiedings beïndruk
In die kommentaar wat die beoordelaars aan die einde van die kompetisie deurgegee het, is daar in die besonder melding gemaak van die besondere hoë standaard wat deelnemers gehandhaaf het. Internasionale Museumdag word jaarliks wêreldwyd gedurende Meimaand herdenk. Die temas van die leerders se bydraes het geraak aan en gesentreer rondom die 2021 Museumdag tema: “The Future of Museums: Recover and Reimagine”
Daar is van deelnemers verwag om op hulle eie navorsing te doen oor hierdie onderwerp, daar is egter ook van hulle verwag om die gedagtes te laat gaan en om met opwindende voorstelle en gedagtes na vore te kom oor “hoe” museums, na meer as 'n jaar van inperkings, geregenereer sou kon word. Dat hierdie span deelnemers die rol wat museums speel in die bewaring en ontsluiting van “erfenis” speel raaksien en na waarde skat, het ook duidelik geblyk uit die onderskeie aanbiedings.