Seestrome - Betroubaarheid van die Evangelie - Gods Woord bly vasstaan

Gansbaai se NG gemeente is vanjaar 70 jaar oud. Dit is ‘n tydperk waarin baie dinge gedurende hierdie tyd plaasgevind het.  Een daarvan, behalwe nou vir die lewe van die gemeente, is dat die wêreld om ons drasties verander het. In hierdie verband  praat ‘n mens nie net van al die veranderings wat die omgewing betref, die veranderings wat die afgelope tyd in ons land en in die wêreld plaasgevind het nie, maar dat die wêreld drasties verander het oor wat seker en waar is. 

Ek lees iemand skryf oor die tyd waarin ons leef en sê dat dit juis, soos hy dit stel, uitgekalwe word deur ‘n diepe, lewensverwoesten-de twyfel. Hy skryf mense wonder in ons dag of daar ‘n goeie God is, wat omgee, wat vir ons is. Mense wonder of daar hoegenaamd verlossing is, vreugde, sin, betekenis en nut in die lewe.  Mense wonder of daar inderdaad êrens vaste grond is, sekerheid, waarop hulle kan staatmaak, hul lewenshuis kan bou sodat dit nie sal wan-kel as die storms daarteen aangewaai kom nie. Daar kan verskillende redes vir hierdie lewensgevoel wees. Misien moet ‘n mens net sê verskillende mense worstel met verskillende vrae en dat hierdie twyfel iets is wat wyd voorkom in ‘n tyd en wêreld waarin hierdie twyfel iets alledaags geword het.

Wat egter belangrik is en waarvoor ‘n mens die Here nie genoeg kan dank nie, is dat daar te midde van al hierdie onsekerheid, twyfel en selfs sinisme, hier ‘n gemeente was en steeds is wat die evangelie van God se liefde deur Christus verkondig het en steeds verkondig. Wat eintlik wil sê dat daar tog te midde van al die veranderings en gepaardgaande onsekerheid, wel vastigheid is en wel se-kerheid  te midde van alles. Want die evangelie van God se genade deur Christus wil ons verseker dat God vir ons is, dat Hy te midde van alles vir ons omgee en dat hierdie wêreld in sy hand is. Wat eintlik wil sê daar is vreugde, daar is betekenis, daar is sekerheid, daar is inderdaad êrens vaste grond, daar is ’n toekoms.     

Vir die afgelope 70 jaar was dit die boodskap van hierdie gemeente en kan ‘n mens maar net vertrou dat dit vir jare wat kom ook die boodskap sal wees.

Ek lees in dié verband weer 2 Korintiërs 1:19-21 . . . want Jesus Christus, die Seun van God, wat ons, dit is ek en Silvanus en  Timoteus aan julle verkondig het, is nie “ja” en “nee” tegelyk nie. Hy is die “ja” van God, die “ja” op al die beloftes van God. Daarom is dit ook deur Christus dat ons tot eer van God daarop “Amen” sê.   God self het ons saam met julle op hierdie vaste grond gevestig: op Christus. In hierdie verband lees ons ook in Hebreërs 13:8 die volgende . . . Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.

Ek lees ook net weer die woorde van Lied 255 . . . Woord van  God, Woord van die lewe, Woord vir ewig vas en waar, Woord onfeilbaar en verhewe waarin God Hom openbaar. Woord betroubaar, vas en waar, deur miskenning, deur gevaar  wat sou ons dan ooit laat bewe? In dié Woord het ons die lewe! Ook die tweede vers . . . T’rug tot in die grys verlede bou Gods woord vir ons ‘n brug; oor die troebel van die hede, open dit ‘n toekomsvlug. Spreek die Here, word die tyd oomblikke van ewig-heid. Deur sy Gees laat God, verhewe, ook in ons sy woorde lewe. Die derde vers is net so aangrypend mooi . . . Trotse berge sal eens wankel, elemente sal vergaan. As die skepping selfs verander, bly Gods woord onwrikbaar staan! Bo die ruimte, bo die tyd, heers die Heer in ewigheid. Ons geloof bly vas geanker in Gods woord wat nimmer wankel! Dié woorde spreek vanself.

In hierdie opsig wil ‘n mens sê watter genade dat die gemeente dié sewentigste bestaanjaar kan vier. En ‘n mens sê veral dankie vir die genade dat die boodskap van die evangelie van hier verkondig kon word en steeds verkondig sal word. Aan die Here al die eer!

Ds. Dirk van Dyk