Seestrome 2014 - Gansbaai en sy Mense

Meer as ‘n halfeeu gelede het ons in oupa Andries en ouma Annie se huisie op die bultjie bokant die hawe ons huwelikslewe begin. Die huisie is nou versmoor onder aanbousels met meer eetplekke as wat ouma Annie se uitgebreide kookvernuf ooit  kon behartig.

Ons woon onder die wakende oog van tant Bybie.  En hét sy die jong onderwyser en sy nog jonger vrou bewaak en betig. Sommer luidkeels so oor die straat.  Op ‘n dag het sy gedreig om Jan by die skoolkomitee te “report” - sy broek se pype was te nou.  Ek het met die voortvarendheid van onbesonne jeug my Viljee-neus ‘n aks hoër geruk, want dié denim was my aanbeveling tot sy ouderwetse klerekas. Jan se weerwraak was meer aggressief. Die denim  het hoeka nie so gemaklik gesit soos sy wyepyp kakies nie, maar hy moes sy manlike ego beskerm. Hy het haar rooi haan wat voor ons agterdeur kom skrop en blerts het, met die windbuks gepot. Die geveg was aan en tant Bybie is met ‘n boosaardige wikkelstappie die rant uit. Polisiestasie toe. 

Eienaardig genoeg, onthou ek nie die uiteinde van die storie nie, maar die mense onthou ek. Met liefde en deernis, want dit was ‘n era van mense wat vir mekaar omgegee het. Alles van almal ge-weet het. Mekaar beskinder en vir mekaar gebid het.  Dit was die jare van wit stofstrate wat deur die suidoos en noordwes van die een kant van die dorp tot die ander kant gejaag is. Waar niemand die voordeur gebruik het nie, want dié was toegepak om die stof uit te hou.  In oupa Andries se huisie het die stof op ons neergesif en ek het trane met tuite gehuil en gekners op die sand tussen my tande.

Met die jare het die dorp en sy mense op my begin groei en as ek nou terugkyk, sal ek dit vir niks anders wil ruil nie.  Het die mense van weleer karakters in my skryfwerk geword. Besef ek nou dat hulle die sout van die aarde was. En dat dié wat voor ons hier was, die pioniers van ‘n verbygaande era was. 

In die Huisgenoot van Januarie 1948 en in die Landstem se bylaag van 19 Augustus 1950 word oor die vissersdorpie en sy mense van weleer verslag gelewer.  D.C. Dirksen  skryf:

“Skuins voor die bekende vissersdorp Gansbaai is ‘n groen koppie wat so effens see-in staan.  Dis een van die ongeskrewe wette van Gansbaai dat niemand daar sonder rede mag vuurmaak nie . . .

Soggens vroeg, in die donkerste van die nag, voordat die vissers hul skuite in die see stoot om met hul dag se arbeid te begin, betrag hulle die sterrehemel, soek hul oë na drywende wolke en ‘voel’ hulle die sterkte van die wind.  Hul vertroue in hul eie seemansinstink is sterk, want hulle ken die weer en hulle ken die see waaruit hulle hul brood verdien.  “Met die lees van die paar sinne, verrys ‘n hele lewe voor jou.  ‘n Lewe van songelooide gesigte, vereelte hande van die rugbreekwerk waarmee siel en liggaam aanmekaar gehou is.  Van vroue wat die Buitesteen dophou en as die weer opsteek, vuurmaak op die koppie om die mans terug te roep na die hawe toe. Die hawe wat vandag nog die hawe van God se genade genoem word.

In die artikels word daar vertel van oom Wessel van Dyk en sy vrou tant Sefietjie. Die verslaggewer noem die tante die moeder van Gansbaai, want sy het destyds al meer as 300 babas “ge-dress”,  soos sy dit genoem het. Sy was die vroedvrou van die dorp. Sy is 10 sjielings per bevalling betaal en ’n paar ekstra sjielings indien sy die moeder en baba nog ‘n paar dae oppas.

Oom Wessel was tydens die onderhoud (Augustus 1950) op byna 84 jaar die oudste inwoner van die dorp en kon nog onthou toe daar maar net tien families op die dorpie gewoon het. Hy is op Gansbaai gebore en het daar grootgeword, maar tant Sefietjie het vertel dat haar pa uit New York na Gansbaai gekom het. Ek vermoed dat sy die dogter van die legendariese George Lezer Miller was.

Tydens ‘n onderhoud met Tommy Carse, bekende skrywer, het hy aan tant Sefietjie gevra waaraan sy haar en oom Wessel se hoë ouderdom toeskryf.  Sy het hom geantwoord met ‘n teenvraag:

“Lees jy jou Bybel, Meneer?”

Hy het oorbluf bevestigend geantwoord.

“Dan weet jy mos, Meneer. Eer jou vader en jou moeder, dat jou dae verleng mag word.”

Ons eer die vaders en moeders van die verlede en hoop dat ons dae verleng mag word hier in die stukkie paradys wat ons van hulle ontvang het. Soos Jan sê: Ons is net die leners van ons kinders se erfenis.

Mag die kerk en die gemeente van Gansbaai nog baie jare hier in die boog van die baai gedy. Mag God se genade oorvloedig oor almal spoel en mag ons die erfenis van ons kinders jaloers bewaar vir die geslagte na ons.

NOTA: ’n Hartlik dankie aan SD Fourie wat hierdie artikel vir Seestrome geskryf het. SD se nuutste pragboek; Die dooies leef (wat net so waardevol soos sy voorganger Die lanternswaaier is, met Gansbaai en hierdie kontrei as agtergrond) is pas gepubliseer. SD werk ook aan die Gedenkboek van Gansbaai en omgewing waarin die stories en geskiedenis (die kerk se geskiedenis ook prominent) geboekstaaf word. Ons sien met afwagting uit na die Gedenkboek, wat beloof om ‘n trotse bydrae tot ‘n onskatbare erfenis te wees!

Foto: SD Fourie

SD Fourie