Seestrome 2014 : Ant Luitjie se Klok

Soos almal weet, was Baardskeerdersbos mos eers deel van Stanford se gemeente, maar die be-geerte vir ‘n eie kerk was sterk.

‘n Sekere ant Luitjie het toe, uit die goedheid van haar hart, ‘n stuk van haar grond geskenk sodat daar ‘n eie kerk vir die BeeBossers gebou kon word.  Dit is toe gedoen en teen 1922 was dit    voltooi . . . ‘n Pragtige nuwe kerkie waarop een en almal baie trots was.

Nie baie lank nadat die bouery voltooi is nie, besluit die jongmense dat dit darem die ideale plek vir volkspele is.  Ant Luitje het haar liederlik vererg vir hierdie verskriklike “losbandigheid.”  Só ontsteld was sy dat sy vervloekend voorspel het dat die mure van die kerk - nes die Bybelse Jerigo van ouds -  sal val.

‘n Paar jaar later - ná ant Luitjie se heengaan én vreeslik baie reën, het ant Luitjie se vloek waar geword. Die kerk se dak en  mure het inmekaar getuimel . . . Net soos ant Luitjie voorspel  het.

Die kerkie is toe daarna weer herbou en BeeBos se mense was weer happy . . . Tot een nag toe die klok om middernag begin lui het. Mense het in hulle nagkabaaie uitgestorm en gesoek, maar nie-mand kon iets sien óf kry nie. Almal het geglo dis ant Luitjie wat nie tot ruste kon kom nie.

Die klok se geluiery het vir baie lank, klokslag elke twee weke, gebeur en die “gespokery” het groot marakkas op BeeBos veroorsaak . . .

Die lewens wat die BeeBossers gelei het, het skielik al hoe skoner geraak. Rooi Laventel en Versterkdruppels was in elke huis te vind.  Perdehoewe is bokant die voordeure vasgekap en die meeste van die witblitsketels was vir eers opsy gesit - “needless to say” was die kerkie elke Sondag stampvol en die  kollektes was oordadig en mildelik! En tóé . . . hou dit skielik op. Die klok was stil.

Die Beebossers het die skielike stilte glad nie vertrou nie en het bang gewag vir wat volgende dalk gaan gebeur.  Bang het naderhand verander in versigtig en mettertyd was versigtig by die agterdeur uit.

BeeBos het weer sy normale gang gegaan en alles was rustig. Die witblitsketels het weer hulle normale wegsteekplekke en werk gekry, die goewerment se manne het weer op die wegsteekketels toegeslaan en die jongmense was weer net so “losbandig” as wat ant Luitjie beweer het.

Natuurlik was almal maar net té dankbaar dat ant Luitjie uiteindelik haar rus en vrede gevind het.

Die rede vir die skielike stilte om die twee weeklikse middernagte was natuurlik dat die kwajong-klokluiers groot geraak het en BeeBos verlaat het om op ander plekke te gaan werk. Baie jare later ontmoet die twee middernagtelike klokluiers - toe al albei afgetrede manne - mekaar toevallig weer een dag op BeeBos en hulle raak aan die kuier. Laat daardie nag besluit hulle om vir oulaas weer die klok te loop lui. Sluip-sluip en swaar gekwes van die gekuiery, is die twee oumanne kerkklok toe, maar voordat hulle behoorlik by die klok was, toe begin die klok van self te lui . . .!  Heeltemal  binne-in ‘n ander bloedgroep ingeskrik, het die oumanne die stukke ingesit en gehól, want . . . Die klok het nie eens ‘n tou gehad nie!

Ek is seker ant Luitjie het van iewers, van waarheen ons nog almal moet gaan,  gesit en “smile”!!

Baardskeerdersboskerk en klok
Lizette Payne