Seestrome 2014 : Gemeentelede se onthou-stories

Tannie Nellie Swart (86) is in 1928 in Gansbaai gebore en was een van agt kinders van die bekende oud-Gansbaaiers, oom Stoffel (Rooies) en Maria Groenewald. Sy het vertel dat sy in al die jare slegs 4 jaar weg van Gansbaai was, toe sy by die Conradie-hospitaal verpleeg het. In 1950 is sy en oom Coen Swart in die ou kerksaaltjie getroud, waar sy as baba gedoop en later belydenis van geloof afgelê het. Sy en oom Coen het ‘n wonderlike lewe saam kon deel. Hulle het drie seuns en as ouma is sy baie trots op haar kleinkinders.

Die kerk en leraars was letterlik altyd baie “naby” aan hulle, want hul woonhuis was reg oorkant die pastorie en kerk in Frankenstraat en so het die le-raars haar buurmanne geword.

Sy het so ‘n ietsie, wat vir haar baie spesiaal van die onderskeie leraars was, met ons gedeel.

♦ Ds. J.P.L. en Alta Zietsman (1950-1959). Hulle was slegs 2 weke in Gansbaai as leraar toe hy haar en oom Coen getrou het. Sy onthou hom as die lang regop man wat met die bou van die kerk in 1953 saam met gemeentelede baie hard gewerk en ‘n geestelike leier van formaat was.

♦ Ds. D.W.A. en Cora Pretorius (1960-1965).  Ds. Pretorius het die reusetaak aangepak om die

Pretoriussaal te bou met behulp van gemeentelede en werksmense van oom Hendrik Groenewald. Dit was vir hom lekker om tussen die vissermanne te woon en op die manier het hy hulle op spontane wyse by die kerk betrokke gemaak.

♦ Ds. N.E. en Elma Louw (1966-1970). Sy onthou hom veral vir sy liefde vir haar gebakte brood. Een van haar seuns het op ‘n keer gesê: “Ma, Dominee  is op pad, want hy het geruik Ma bak brood.”

♦ Ds. M.C. en Rachelle Kitshoff (1971-1975). As buurvrou het sy die swanger mevrou Kitshoff baie gehelp met take en skoonmaak van die pastorie.

♦ Ds. J. en Elmarie Bosman (1976-1989). Ds. Bosman was vir haar en oom Coen ‘n besonderse mens en leraar. Hy was baie lief vir die see en visvang en vir die oumense van Gansbaai. Die skok toe hy in ‘n motorongeluk sterf, was vir hulle - saam met die gemeente en gemeenskap - baie groot.

♦  Ds. N.J. en Karen van As (1989-1997). Hy was ‘n universiteitmaat van haar een seun en dus soos ‘n kind in haar huis. As leraar was sy belangstelling in gemeentelede altyd vir haar besonders.

Tannie Nellie het ook vertel van haar betrokkenheid by Herberg-aan-See en hoe sy ook in daardie jare nagdiensskofte gedoen het, sonder betaling, en oom Coen gekla het hy kan nie slaap as sy nie by die huis is nie. Sy was deur die jare betrokke by die Vrouediens, sy was lank ‘n koorlid en altyd ‘n gereelde kerkganger.

Ons bid dat God haar elke dag sal beskerm en seën.

Johanna Swart . . . Verpleegsuster en aktiewe gemeente- en kerkraadslid oor jare heen. Suster Johanna Fourie het in September 1961 met haar eggenoot, Philipus Fourie, en dogter, Erna, in Gansbaai aangekom. Sy het as distriksverpleegster gewerk en was alombekend as Suster Johanna. Haar distrik het die hele Gansbaai, Grootbos, om die berg tot by Kleinbaai, en Blompark ingesluit. In daardie dae was Suster Johanna 'n bekende gesig met haar medisynekoffertjie wanneer sy te voet mediese sorg gelewer het. Sy is vir alles uitgeroep! Sy was dokter, suster, sieketrooster en selfs veearts waar nodig. Sy sê dat sy na die duisendste bevalling ophou tel het, maar daarna was daar nog so vyfhonderd plus.

Een so 'n bevalling wat sy goed onthou, was by Hartebeeskloof in die winter op 'n nat en baie koue dag en nag. Sy is met haar Volkswagentjie B'Bos toe. Sy het met die hulp van die pa die baba wat baie groot was, 14 pond, letterlik in die lewe ingetrek en hom met mond-tot-mond-asemhaling bygekry. Sy onthou ver-al hoe sy hard uitberoep het: "Dankie, Here", toe sy besef dat die ma en baba veilig is. Diè baba was Bertie wat by die laerskool werk.

Suster Johanna het 'n skatkis vol verhale van haar wedervaringe deur die jare. Dié met humor; soos die vrou met die bossie proteas wanneer sy al wÄ—Ä—r swanger is en Suster se hulp kom vra, die dag-ga uit Blompark wat die polisieman vir medisyne "steel", die vakansieganger wat geboorte skenk onder die bakkie se kappie . . . En dan die hartseer en swaar. . . Die werk dag en nag. Die frustrasie soos wanneer  'n dronk man amper sy vrou doodslaan en die gevoel om hom ook in sy dronkenskap "by te kom".

Haar lewe is onlosmaaklik deel van die Gansbaai-gemeente en kerk. Sy en Annatjie Liebenberg was die eerste vrouediakens in die gemeente. Sy en Sannie Kemp is 'n paar jaar later as die eerste vroue-ouderlinge benoem. Sy was 22 jaar lid van die kerkkoor.

Suster Johanna vertel op haar spontane manier hoe sy die leraars onthou, die bou van die Pretroriussaal, die bome om die kerk wat die ouderlinge geplant het. . . Sy onthou veral vir ds. Bosman en vertel hoe hy haar uitgedaag het om saam op sy motorfiets te ry en hoe sy agter op die fiets vir lewe en dood aan sy hemp vasgeklou het terwyl hy deur die dorp ry!

Ons salueer 'n "groot vrou" wat reeds 83 besondere vol lewensjare agter die rug het. 'n Vrou wat haar lewe hier in Gansbaai aan haar medemens gewy het, en altyd ook in diens van haar Hemelse Vader vir ons ‘n voorbeeld van Jesus-liefde is.

Ons bid haar nog vele mooi en geseënde jare toe.

Bokkie Botes : Bykans almal in die gemeente ken hom. Vanaf 1970 sien mense hom in Gansbaai : Vroeër jare by die fabriek, as ingenieur en bestuurder en later die statige pensioenaris, maar deur al die jare tot vandag nog, veral ook in die kerk. In die gemeente was hy deur die jare altyd betrokke en in vele opsigte het hy leiding geneem. Van diaken, ouderling en lank leier-ouderling, voorsitter van verskeie be-dieninge (finansies, diensverhoudinge, ens.). By die VG kerk het hy ook vanaf 1970 ‘n groot rol gespeel en was aktief betrokke by die bou van die VG kerk in Blompark.

By twee geleenthede moes hy sy geliefdes oor die wenstreep help. Hy weet van dood, van hartseer, van die stil van alleenwees. Nee, nie heeltemal alleen nie, hy praat met God… Sowat agtien jaar gelede is sy eerste vrou, Ina, oorlede. Daarna is hy met sy jeugvriendin, Jeanette, getroud, maar sy is ook ’n aantal jare gelede oorlede. En hy bly alleen oor.

Hy sê hy kry troos deur baie te bid. “Oor alles. Oor die goeie dinge en die slegte. As ek moedeloos is, en as ek bly is. Sy krag word in ons swakheid volbring”, en hy staar na die vaal berg van Hermanus, die seeuitsig vanuit sy sitkamer. “Ek loof élke oggend die Here as ek opstaan en oor die see kyk en ek dink aan Habakuk se woorde: “… nogtans sal ek in die Here jubel...”.

Nellie Swart op 18 Maart 1950 met haar troue met Coen Swart
Oom Bokkie Botes
Johanna Swart(suster Johanna)